Gemeenskapsvoeding
Gemeenskapsinteraksie – Gemeenskapsvoeding
Die dieetkundiges/dosente van gemeenskapsvoeding is deurlopend by gemeenskapsinteraksie betrokke en, in kombinasie met die diensleerkomponent van die opleiding in gemeenskapsvoeding, lewer hulle ’n waardevolle diens aan die betrokke gemeenskappe.
Dienslewering
Die dieetkundiges/dosente by Menslike Voeding bied ’n dieetkundige konsultasiediens by primêre gesondheidsorgfasiliteite aan, wat ’n platform bied vir studente in BSc (Dieetkunde) om praktiese opleiding in gemeenskapsvoeding en gesondheidsorg te ontvang. Studente is verantwoordelik vir pasiëntesorg en ook verskillende gesondheidsbevorderingswerksaamhede binne hierdie gemeenskappe. Hierdie diens word deurlopend deur die dieetkundiges/dosente van gemeenskapsvoeding gelewer, om seker te maak dat ’n volhoubare diens aan die gemeenskappe wat met die diensleerwerksaamhede saamwerk, gelewer word.
Die Gemeenskapsvoedingsfirma by Menslike Voeding speel ’n aktiewe rol in die praktiese implementering en monitering van die programme, strategieë en inisiatiewe van die nasionale Geïntegreerde Voedingsprogram (GVP) by die fasiliteite en gemeenskappe wat as opleidingsplatforms vir die studente in BSc (Dieetkunde) dien.
In 1993 is ’n voedingskliniek by die Bishop Lavis Gemeenskapsgesondheidsentrum gevestig. Hierdie diens is ná konsultasie en onderhandelings met die Departement van Gesondheid, die Provinsiale Administrasie van die Wes-Kaap en die betrokke plaaslike owerheid op die been gebring. Die Departement ondersteun die gemeenskap met voorkomende, rehabilitasie- en genesende sorgprogramme.
Diensleer
In die tweede studiejaar word studente, onder toepaslike toesig, toenemend blootgestel aan en betrek by die lewering van gemeenskapsgebaseerde voedingsdienste. Dit sluit gesondheidsbevorderings- en voedingsopvoeding-werksaamhede en individuele konsultasies met pasiënte in. Studente is ook betrokke by die evaluering van voedingsintervensiestrategieë, gemeenskapsprofielassessering en intervensieprogrambeplanning.
Die ses-wekelange opleiding van die vierdejaarstudente by die Gemeenskapsgesondheidsentrum en die Primêre Gesondheidsorgkliniek bied aan studente leergeleenthede om hulle vaardighede en bevoegdhede ten opsigte van voedingstatusassessering, voedingsbeplanning, sorg en ondersteuning (waaronder die implementering van die Voedings- Terapeutiese Program [VTP] van die GVP) op gemeenskapsvlak te ontwikkel deur middel van konsultasies, groepswerksaamhede (praatjies, demonstrasies en besprekings) en die saamstel van ’n gemeenskapsprofiel.
Individuele konsultasies oor die volgende hoofonderwerpe word by die babawelstands-, wanvoeding-, voorgeboorte- en TB-kliniek vir pasiënte aangebied:
- Beskerming, bevordering en ondersteuning van borsvoeding: Moeders van pasgebore babas word by die Bishop Lavis Vroedvrou-verloskunde-eenheid (VVE) van raad oor borsvoeding bedien
- Groeimonitering
- Mondelinge rehidrasieterapie (MRT)
- Wanneer en hoe vaste kos by die baba se dieet ingesluit kan word
- Wanvoedingbeheer deur mikrovoedingstowwe
- Voedselgebaseerde dieetriglyne en gebalanseerde maaltye
- Terapeutiese dieetraad: siektespesifieke voedingsteun, behandeling en voorligting word voorsien aan pasiënte wat deur ander gesondheidspersoneel na die voedingskliniek verwys word, gewoonlik ten opsigte van diabetes mellitus, hoë bloeddruk, oorgewig en lipiedafwykings.
- Bydrae tot die verbetering van huishoudelike voedselsekerheid: Hierdie werksaamhede sluit in voorspraak, tegniese steun en voedingsadvies aan ander sektore wat huishoudelike voedselsekerheid hanteer.
Groepwerksaamhede sluit voedingsbevordering en -opvoeding aan groepe pasiënte wat by die kliniek wag, of aan gemeenskapsgroepe soos gewigsverliesklubs, vrouegroepe, bejaardes, skole en kleuterskole in.
Elke student kry die geleentheid om tuisbesoeke saam met die distriksverpleegkundige te doen en werk saam met die personeel by ’n skool in die gemeenskap, waar hulle by gesondheidsbevorderende skoolaktiwiteite betrokke is. Studente gee ook opleiding by verskillende kleuterskole en implementeer gesondheidsbevorderingsaktiwiteite met kleuters.
Daarbenewens neem studente deel aan die aktiwiteite van verskillende belangegroepe in die gemeenskap; byvoorbeeld, die oefenings- en bejaardegroepe in Bishop Lavis. Voorts werk ons studente saam met die gesondheidskalender en raak betrokke by die verskillende programme in die gemeenskap gedurende TB-, antitabak-, borsvoedings-, voedings- en hartgesondheidsweek.
Gedurende die vrywillige besoek van ses weke aan die Ukwanda-sentrum vir Landelike Gesondheid is studente betrokke by verskeie aktiwiteite saam met die personeel van die Provinsiale Administrasie van die Wes-Kaap (PAWK) se geïntegreerde voedingsprogram (GVP) vir die streek, asook ander interdissiplinêre werksaamhede. Werksaamhede sluit ’n oorsig van die GVP op streeks- en distriksvlak, evaluering van voedingsprogramme, gesondheidsbevordering by skole, mediabevordering van die Suid-Afrikaanse voedselgebaseerde dieetriglyne, praatjies by ouetehuise en ander instellings, evaluerings van die distrikshospitaalvoedseldiens en die Moeder-Baba-vriendelike inisiatief (MBFI), rondtes in die streekshospitaalsale en groepspraatjies by klinieke in. Blootstelling aan ’n dieetkundige in privaat praktyk (DPP) word ook by hierdie besoek ingesluit.