Terapeutiese voeding
Gemeenskapsinteraksie – Terapeutiese voeding
Die Afdeling Menslike Voeding bied terapeutiese sorg aan binne- en buitepasiënte by die Tygerberg Akademiese Hospitaal. Die dieetkundiges funksioneer binne ’n unieke infrastruktuur, wat uit twee kliniese firmas bestaan. Elke kliniese firma het ’n konsultant en vyf tot ses dieetkundiges. Elke firma is vir ’n sekere getal hospitaalsale en mediese/voedingspesialiteite, asook vir die voorgraadse praktiese opleiding van studente in BSc (Dieetkunde), verantwoordelik.
Die Afdeling Menslike Voeding behartig die versorging van meer as 10 000 binnepasiënte deur daaglikse konsultasie. Die dieetkundiges werk ook twee keer per week in die geskeduleerde algemene voeding-buitepasiëntkliniek en bied ’n daaglikse oproep- dieetkundige diens aan ander gespesialiseerde buitepasiëntklinieke in die hospitaal.
Dieetkundiges in die Tygerberg Akademiese Hospitaal is daagliks by die volgende betrokke:
- Saalrondtes
- Die voedingskundige assessering van pasiënte
- Die opstel van individuele voedingsorgplanne
- Toepaslike voedingsvoorskrifte
- Voedingskundige konsultasies
- Opvoeding van binne- en buitepasiënte (individueel en/of groepe)
- Indiensopleiding
Dieetkundiges is ook verantwoordelik vir gespesialiseerde voedingsteun in die vorm van enterale en totale parenterale voeding.
Assistent-direkteur van Voeding in Tygerberg Hospitaal: Claudia Schübl
Firma 1 – Spesialisgebiede
Kardiologie, Brandwonde, Verloskunde en Ginekologie, Eetversteurings, Endokrinologie (hoofsaaklik diabetes mellitus) en Osteoporose, Respiratoriese Intensiewe Sorg, Interne Geneeskunde, Chirurgie (abdominaal, vaskulêr, plasties, torakaal), Oftalmologie, Ortopedie, Dermatologie
Konsultant: Madelé du Plessis
Firma 2 – Spesialisgebiede
Interne Geneeskundie, Nefrologie, Neurochirurgie, Onkologie, Verloskunde en Ginekologie, Pediatrie (alle gebiede, met inbegrip van diabetes mellitus, Gastroënterologie, Aansteeklike Siektes, Onkologie, Neonatologie, Nefrologie en Chirurgie), Psigiatrie, Chirurgiese Intensiewe Sorg
Konsultant: Nazeema Esau
Dieetkundiges is verantwoordelik vir die voorskryf van enterale voeding en spesiale aanvullende drankies wat presies bereken word om aan die individuele behoeftes van pasiënte wat nie genoegsame voeding via voedselbronne kan inneem nie, te voldoen. Voedingsteun volg ’n indikasie-/kontra-indikasie-benadering en pasiënte word slegs op grond van ’n verwysing gespreek.
Die Tygerberg Akademiese Hospitaal het ’n spesifiek-ontwerpte buisvoedingskamer, waar spesiaal opgeleide personeel baie streng higiënestandaarde handhaaf. Om hierdie dienseenheid te verbeter, is hierdie buisvoedingskamer in 2005 heeltemal opgeknap. Die buisvoedingskamer word 365 dae van die jaar bedryf en berei daagliks ±50 enterale voedings en ±45 aanvullende drankies voor. Die toegewyde personeel wat vir die voorbereiding van al die voedings verantwoordelik is, is:
Totale Parenterale Voeding (TPV)
Die Tygerberg Akademiese Hospitaal is een van min hospitale in die openbare sektor in Suid-Afrika met ’n ten volle geakkrediteerde steriele mengseleenheid vir die voorbereiding van TPV-mengsels.
Die voedingsteunspan (VSS) lewer ’n TPV-terapiediens aan alle ander departemente in die Tygerberg Akademiese Hospitaal vir pasiënte wat nie voldoende voeding enteraal kan ontvang nie. Elke pasiënt se behoeftes word individueel geassesseer en die toepaslike mengsel word daagliks voorgeskryf. Die VSS adviseer ook gesondheidsberoepslui van ander instellings in die land oor die veilige en kostedoeltreffende praktisering van TPV-terapie.
Die VSS adviseer ook oor die plasing van perkutane endoskopiese gastrostomie-, gastrostomie-, nasojejunale en jejunostomie-sondes, soos nodig. Die bestuur van gespesialiseerde enterale toegang is gesentraliseer om ’n geïntegreerde, protokolgebaseerde en kostedoeltreffende diens in die Tygerberg Akademiese Hospitaal te lewer. Die VSS bied ook interne opleiding aan verpleeg- en mediese personeel, en opvoeding en advies aan pasiënte wat op enterale voedingsteun ontslaan word.
Die Afdeling Menslike Voeding (Universiteit Stellenbosch) bied terapeutiese voedingsorg aan binne- en buitepasiënte by die Tygerberg Akademiese Hospitaal. Hierdie diens word saam met vierdejaar- dieetkundestudente, wat besig is met hulle internskap vir die kursus BSc (Dieetkunde), aangebied. Die kursus self, asook die terapeutiese voeding-komponent, het oor die jare beduidend ontwikkel om nasionale/internasionale behoeftes en tendense in ag te neem, en ook sodat dit met die uitkomste vir beroepslui in dieetkunde, soos deur die Beroepsraad vir Dieetkunde gespesifiseer, sal strook.
Studente word reeds in die eerste jaar van die kursus met verdrag aan die diensleerkonsep bekend gestel.
Tydens die beroepsontwikkeling van die studente in hulle finale jaar van internskap word verskeie praktiese take afgehandel, en gevallestudies word tydens saalrondtes op grond van patofisiologiese beginsels aangebied. Die opleiding van finalejaarstudente in terapeutiese voeding volg ’n praktiese benadering en gedurende die internskap van 14 weke roteer studente deur die verskillende mediese spesialiteite en aanvaar, onder toesig, die verantwoordelikheid vir die volledige voedingsorg van pasiënte in die betrokke hospitaalsale.
Daar word van studente verwag om die voedingskunde en gedragswetenskap, met inbegrip van die studie van voedsel, toe te pas om pasiënte van totale voedingsorg in die vorm van voedingsvoorligting en dieetvoorskrifte te voorsien. Die doelwit is dat studente vaardighede in die vier basiese komponente van kliniese dieetkunde – behoefteassessering en die beplanning, implementering en evaluering van voedingsorg – soos dit met ’n verskeidenheid siektes verband hou, moet ontwikkel.
Dieetkundestudente is daagliks by mediese en/of akademiese saalrondtes, die voedingskundige assessering van pasiënte, toepaslike voedingsvoorskrifte, voedingsverwante konsultasies en die opvoeding van binne- en buitepasiënte (individueel en/of in groepe) betrokke. Studente is ook betrokke by basiese pasiënteadministrasie deur die hantering van pasiëntstatistiek en die aanwending van inligtings- en kommunikasiehulpmiddele om laboratoriumuitslae te bekom en voorgeskrewe diëte en enterale voeding te bestel. Gekwalifiseerde dieetkundiges moniteer en hou toesig oor alle studentewerksaamheid.
Die dieetkundiges en studente funksioneer binne ’n unieke infrastruktuur, wat uit twee kliniese firmas bestaan. Elke firma is vir ’n sekere getal hospitaalsale en mediese/voedingspesialiteite verantwoordelik. Na afhandeling van diens by albei kliniese firmas, en ook aan die einde van die internskapsjaar, lê studente ’n praktiese eksamen af, waartydens hulle ’n hospitaalpasiënt moet assesseer en hulle assessering dan aan ’n paneel beoordelaars moet voorlê.
Hierdie gevestigde diensleerbenadering in terapeutiese voeding werk uiters goed ten opsigte van die oordra van bykomende kennis en vaardighede, terwyl dit studente terselfdertyd sensitief maak vir die behoeftes van die gemeenskap en hulle in staat stel om ’n broodnodige diens op primêre, sekondêre en tersiêre vlak te lewer. Hierdie gekombineerde poging deur dieetkundiges en finalejaarstudente stel die Departement in staat om meer as dertigduisend konsultasies jaarliks te hanteer, wat sodoende die gemeenskap in die omgewing van hierdie akademiese platform direk dien.