Skip to main content
Child Health
Geneeskunde en gesondheid

Studie toon rol van serotonienabnormaliteite by wiegiesterftes

FMHS Marketing & Communications - Ilse Bigalke
27 Januarie 2026
  • Wiegiesterftes, ook bekend as skielikesuigelingsterftesindroom (SIDS), is ʼn bron van groot hartseer en die oorsake daarvan is dikwels moeilik medies te verklaar.
  • Bevindings van die Safe Passage-studie werp nuwe lig op hierdie sindroom deur die belangrike rol uit te lig van serotonienabnormaliteite in die breinstam in SIDS-gevalle.
  • Dit manifesteer veral as gevolg van moederlike en voorgeboortelike stres by moeders in hoërisiko-populasies.

Studie toon rol van serotonienabnormaliteite by wiegiesterftes

Wiegiesterftes, ook bekend as skielikesuigelingsterftesindroom (SIDS), is ʼn bron van groot hartseer en die oorsake daarvan is dikwels moeilik medies te verklaar. 

Bevindings van die Safe Passage-studie (SPS) wat onlangs in die artikel ‘Abnormal serotonin receptor binding in SIDS in a high-risk population in die wetenskapjoernaal PlosOne gepubliseer is, werp nuwe lig op hierdie sindroom deur die belangrike rol uit te lig van serotonienabnormaliteite in die breinstam in SIDS-gevalle. Dit manifesteer veral as gevolg van moederlike en voorgeboortelike stres by moeders in hoërisiko-populasies.

Die SPS het ook aan die lig gebring dat hoërisikofaktore vir SIDS, soos premature geboortes, armoede en erge stres by ma’s, ten nouste aan sosio-ekonomies benadeelde omgewings gekoppel is. Luidens die bevindings is stres universeel, maar bring sosiale ontbering meer dikwels verlengde en/of erger stres mee.

Dié internasionale studie strek al oor twee dekades, is in lae-inkomstegemeenskappe in Suid-Afrika en die VSA deur navorsers van etlike universiteite onderneem en opvolgnavorsing duur voort. 

Volgens prof Hein Odendaal, leier van die Suid-Afrikaanse deel van die studie en emeritus-professor in die Departement Verloskunde en Ginekologie van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US), dui hierdie prospektiewe en multisentrumstudie op die nou verband tussen serotonien (ʼn senuwee-oordraer wat deur senuweeselle gebruik word om met mekaar te kommunikeer en wat ʼn belangrike rol in die lewensondersteunende breinstam speel) en die refleks van normale asemhaling wanneer babas slaap. 

Odendaal sê die breinstam-serotonienhipotese is tans die mees aanvaarbare denkrigting oor die oorsake van wiegiesterftes. Dit dui op ʼn wanfunksie in die neuronnetwerke van die pons en medulla, areas van die breinstam wat met asemhalingsregulering en lewensbelangrike funksies verbind word en wat ʼn belangrike rol in die meganisme van wiegiesterftes speel. 

“As babas se reflekse gekompromitteer is, kan hulle nie self reageer op stressituasies soos wanneer hulle ʼn tydelike asemhalingstilstand ervaar, of as die neus teen ʼn kussing, kombers of sagte speelding beland nie. Anders as ʼnormale’ kinders kan hulle nie self uit die stressituasie kom nie, omdat ʼn kritieke refleks beskadig is.

“Om nader aan die spesifieke oorsaak van wiegiesterftes te kom, was dit nodig om hierdie netwerke in die pons en medulla van SIDS-babas te ondersoek en te vergelyk met dié met ʼn ander oorsaak van sterfte. Daarom is monsters van die sentrale senuweestelsel ná sterftes van babas van die SafePassage-studie met toestemming geneem, by -80 °C bewaar en na die patologielaboratorium van die Universiteit van Harvard gevlieg. 

“Daar het prof Hannah Kinney, een van die wêreld se bekendste navorsers oor SIDS, en haar personeel die breinweefsel verder ondersoek vir defekte in die serotoniennetwerk van die breinstam,” vertel Odendaal.

Kinney en haar medewerkers het gedurende vroeëre navorsing in San Diego (ʼn middel- en hoë-inkomstegroep in Kalifornië) gevind dat laer serotonien-reseptorbinding in die breinstamme van SIDS-sterfgevalle voorgekom het vergelekte met sterftes weens ander oorsake. Senuwee-oordraers het ʼn reseptor (verbindingsplek) nodig om te kan werk en laer serotonienreseptorbinding is in die breinstamme van SIDS-babas gevind. 

Ofskoon SIDS ʼn leidende oorsaak van post-neonatal sterftes wêreldwyd is, kom dit buite verhouding in sosio-ekonomies benadeelde populasies voor. In die SPS is sowat 12 000 swangerskappe gevolg in die Kaapstadse woonbuurte Bishop Lavis en Belhar en in Noord- en Suid-Dakota in Amerika, waar risikofaktore vir premature geboortes soos armoede, stres, asook nikotien- en alkoholgebruik, hoog is. 

Kinney en haar kollegas het in hul jongste navorsing die breinstamweefsel van 14 van hierdie babas wat weens SIDS gesterf het, met ʼn kontrolegroep van 22 vergelyk. Van die 36 babas is 21 (58%) prematuur gebore.

Talle vroue in die SIDS-groep was angstig en depressief gedurende swangerskap en het in armoedige omstandighede geleef. Hierdie moederlike stres lei waarskynlik uiteindelik tot herprogrammering van serotoniennetwerke wat die kwesbaarheid van die kind vir SIDS onder kritieke omstandighede verhoog, sê Odendaal. 

In Kinney en kollegas se vorige werk in San Diego het hulle gevind dat breinreseptorbinding met ouderdom ná geboorte toegeneem het. Reseptorbinding was ná geboorte dieselfde vir SIDS- en kontrolegevalle, maar dit het nie in SIDS-gevalle verhoog soos wat in die kontrolegroep gebeur het nie. SIDS-babas het dus in die maande ná geboorte minder reseptorbinding gehad as die kontrole-babas wat aan ander oorsake dood is. Die reseptorbinding was die hoogste onder die mees premature babas en nader aan voltyd het dit verlaag. Die resultate toon ʼn versteuring van die ontwikeling van die serotiennetwerk.

Hierdie nuwe inligting uit die SPS het gelei tot ʼn verandering in die trippelrisiko-hipotese oor wiegiesterftes (wat van 1994 dateer), om aan te toon dat moederlike of prenatale stresfaktore breinontwikkeling betekenisvol beïnvloed en babas wat prematuur gebore word, meer kwesbaar vir serotonienabnormaliteite en derhalwe SIDS maak. Verskille in die bevindings van die navorsing op twee plekke (laer reseptorbinding in San Diego en hoër reseptorbinding in Bishop Lavis en Belhar) is waarskynlik toe te skryf aan meer premature geboortes onder die plaaslike bevolking.

Die trippelrisiko-hipotese skryf SIDS toe aan ʼn interaksie tussen (1) ʼn kritiese ouderdom van rondom 6 maande, wanneer kardiorespiratoriese beheer in die breinstam vinnig verander, wat babas meer kwesbaar maak; (2) intrinsieke kwesbaarheid, wat die baba minder in staat stel om op omgewingsgevare te reageer; en (3) ekstrinsieke omgewingsgevare soos slaap op die maag, ander bedgenote en speelgoed of komberse in die wiegie wat versmoring kan veroorsaak.

Volgens die navorsers belig die SPS die moontlike tussenspel tussen biologiese en maatskaplike oorsake van SIDS. Aansienlike chroniese stres by die ma en stres aan die begin van lewe – dikwels ʼn neweproduk van sosio-ekonomiese ontbering – kan die fetus se breinontwikkeling en serotonienreseptorbinding beïnvloed, wat kwesbaarheid vir SIDS verhoog.

Die veranderde serotonienreseptorbinding wat waargeneem word by SIDS-babas, veral dié uit hoërisiko-bevolkings, bied volgens Odendaal ʼn waardevolle raamwerk om die biologiese kwesbaarhede wat tot wiegiesterftes bydra, te verstaan. Die SPS beklemtoon die behoefte aan ʼn multidissiplinêre benadering tot SIDS, wat biologiese insigte met ʼn duidelike fokus op maatskaplike bepalers van gesondheid kombineer.

“Deur beide die neurochemiese en gedrags- of omgewingsrisikofaktore aan te pak, kan ons beduidende vordering maak in die voorkoming van SIDS, veral in die mees kwesbare gemeenskappe,” benadruk Odendaal.

Merkers

Gesondheidsorg

Verwante stories