Skip to main content
Alumni series - Engineering change – The inspirational journey of Bovinille Anye Cho.jpg
Ingenieurswese en tegnologie

Alumni-reeks: Ingenieursverandering – Die inspirerende reis van Bovinille Anye Cho

Chemical Engineering
20 Januarie 2026
  • Bovinille Anye Cho het vroeë teëspoed in Kameroen oorkom om 'n wêreldklas chemiese ingenieur en Royal Society-genoot te word, toegewy aan baanbrekerswerk in volhoubare bio-energie en sirkulêre ekonomie-innovasies vir 'n globale impak.

Bovinille se reis in die wêreld van chemiese ingenieurswese het begin in ’n klein plattelandse dorpie in die Suidwestelike Streek van Kameroen. Ná die vroeë dood van sy pa – en die gevolglike verlies van die gesin se bates – is hy deur sy weduwee-ma grootgemaak. Hy moes skool bywoon terwyl hy terselfdertyd sy ma gehelp het om haar klein besigheid aan die gang te hou om sy opvoeding te befonds. Hierdie vroeë lewensomstandighede het by hom ’n sterk sin vir veerkragtigheid, doelgerigtheid en dissipline gekweek. “Ek het van jongs af geleer wat die waarde van harde werk is,” vertel hy.

Sy harde werk het vrugte afgewerp. As hoërskoolleerder het Bovinille hom onderskei as die topleerling by sy eksamensentrum (Sentrum Nr. 1122) tydens die nasionale Kameroense GCE Gevorderde-vlak-eksamens. Sy akademiese talent het hom natuurlik in die rigting van ingenieurswese gelei, terwyl sy kinderjare se belangstelling in die indrukwekkende distillasiekolomme by Kameroen se nasionale olieraffinadery in Limbe, hom spesifiek na chemiese ingenieurswese aangetrek het. “Ek was gefassineer deur die hoë, vertikale kolomme en die industriële strukture wat ek daar gesien het – nuuskierig oor hoe ruolie omskep word in petrol, diesel en paraffien. Later het ek geleer dat dié massiewe kolomme deel is van ’n chemiese proses wat distillasie genoem word,” vertel hy. Hierdie nuuskierigheid het uiteindelik sy akademiese koers bepaal, en daartoe gelei dat hy ingeskryf het vir die Chemiese Ingenieurswese-program aan die Katolieke Universiteitsinstituut van Buea (Catholic University Institute of Buea – CUIB) – destyds die enigste universiteit in Kameroen wat ’n volledige program in dié veld aangebied het.

Ná sy BSc-graad in Chemiese Ingenieurswese in 2015 kon Bovinille se loopbaan maklik ’n uitsluitlik entrepreneursrigting ingeslaan het. Sy finalejaarprojek het ontwikkel in ’n lewensvatbare sakemodel, wat daartoe gelei het dat hy in 2016, uit meer as 45 000 aansoekers regoor Afrika, gekies is vir die gesogte Tony Elumelu Entrepreneurskap-program. Daardie selfde jaar is hy ook opgeneem in die Young African Leaders Initiative (YALI) se Wes-Afrika-kohort – ʼn leierskapsprogram wat deur voormalige VSA-president Barack Obama van stapel gestuur is. Hierdie erkennings het bevestig dat sy werk betekenis het buite sy plaaslike konteks. Tog het hy ’n dieper roeping gevoel na wetenskaplike navorsing en tegnologiese innovasie. “Ek het daarna gesmag om stelsels beter te verstaan, om tegnologieë te ontwikkel wat volhoubare ontwikkeling kan dryf, en om betekenisvol by te dra tot die vooruitgang van ingenieurswese in Afrika en verder.”

Sy drang om meer te leer, het hom gemotiveer om verder te studeer. Maar omdat daar destyds geen meestersprogram in Chemiese Ingenieurswese in Kameroen aangebied is nie – en sy finansiële middele beperk was – het dit onmoontlik gelyk om in die buiteland te studeer. Toe volg ’n keerpunt: Bovinille ontdek die Mandela Rhodes-beurs. “Die beurs se missie en waardes – leierskap, versoening, entrepreneurskap en opvoeding – het sterk aanklank by my gevind, aangesien dit baie ooreenstem met my persoonlike en professionele doelwitte,” sê hy.

In 2017 word hy een van slegs 14 Kameroeners wat sedert die ontstaan van die Mandela Rhodes-beurs hierdie toekenning ontvang het. Dit het hom in staat gestel om vir die MIng (Navorsing)-program in Chemiese Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch in te skryf. Die departement se professionaliteit en vinnige reaksie het hom dadelik beïndruk. “Binne minute na my aanvanklike navraag het hulle vir my ’n lys van moontlike studieleiers en navorsingsprojekte gestuur. Dié vlak van entoesiasme en ondersteuning het my laat voel of ek raakgesien en waardeer word – en akademies tuis is.”

Kultureel was die oorgang vir hom ’n ware oogoopmaker. Beide Kameroen en Suid-Afrika is divers, maar die wyse waarop mense hul identiteit uitdruk, verskil heelwat. “As ’n swart Afrikaner is ek dikwels in isiXhosa of isiZulu gegroet,” vertel hy. “Mense was nogal verbaas toe ek net in Engels kon antwoord – ons amptelike tale in Kameroen is immers Engels en Frans.” Tog het hy deur die Mandela Rhodes-stigting ’n sterk gevoel van gemeenskap en verbondenheid gevind. Dit het vir hom waardevolle ruimtes geskep om akademies van ander te leer en betekenisvolle bande te smee tydens sy tyd in Suid-Afrika.

Sy meestersnavorsing het gefokus op die ontwikkeling van ’n termosifoon-fotobioreaktor om fotosintetiese bakterieë te kweek wat hernubare bio-energie kan produseer. Die praktiese toepaslikheid van die projek, veral op die gebied van afvalbenutting en volhoubare energie, het tot hom gespreek. “Dit het vir my gevoel asof ek ’n betekenisvolle bydrae lewer tot die langtermynontwikkelingsdoelwitte van my land,” sê hy, met verwysing na Kameroen se Visie 2035. ’n Groot hoogtepunt was toe hy sy navorsing as hoofskrywer in die invloedryke Chemical Engineering Journal kon publiseer – ’n erkenning wat sy wetenskaplike werk bevestig het en hom gemotiveer het om ’n PhD aan te pak.

Sy volgende hoofstuk het in die Verenigde Koninkryk afgespeel, waar hy in 2019 een van net twee Kameroeners was wat die gesogte Commonwealth PhD-beurs toegeken is. Sy doktorale navorsing aan die Universiteit van Manchester het voortgebou op sy meesterswerk en gefokus op volhoubare biobrandstofproduksie en koolstofopvangtegnologieë.

Ná hy sy PhD in 2023 voltooi het, het Bovinille by die Universiteit van Manchester aangebly as ʼn postdoktorale navorsingsgenoot. Hy het sy navorsing uitgebrei na sellulêre landbou, in samewerking met die biotegnologiemaatskappy Cellcraft Ltd, met ’n fokus op die produksie van gekweekte vleis as ’n volhoubare alternatief vir tradisionele proteïenbronne. Deur meganistiese modellering en masjienleer te kombineer, het hy die ingewikkelde uitdagings van die ontwerp en opskaal van gevorderde bioreaktorstelsels hanteer. Gedurende hierdie tyd het hy meer as 20 eweknie-beoordeelde werke gepubliseer en in 2021 die Commonwealth Navorsingsimpak-toekenning ontvang vir uitstaande PhD-navorsing wat wêreldwye klimaatsuitdagings aanspreek.

Vandag is Bovinille ’n Royal Society-loopbaanontwikkelingsgenoot aan die Universiteit van Manchester, waar hy onafhanklike navorsing lei wat data-intelligensie en digitale tweeling-tegnologieë gebruik om bio-energieprosesse te optimaliseer. Sy huidige werk fokus op die integrasie van anaerobiese vertering met alge-fotoproduksie om biometaan meer doeltreffend te vervaardig, terwyl waardevolle hulpbronne benut word. Die uiteindelike doel is om ’n volhoubare en effektiewe sirkelvormige bio-ekonomie te ontwikkel wat bydra tot wêreldwye klimaataksie. “My lewenslange droom is om innovasies te bevorder wat ’n betekenisvolle bydrae lewer tot die Verenigde Nasies se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte, veral VOD 6 (Skoon Water en Sanitasie), VOD 7 (Bekostigbare en Skoon Energie) en VOD 13 (Klimaataksie),” sê hy.

Vir aspirant-ingenieurs van Afrika en ander ontwikkelende gebiede is sy raad duidelik en doelgerig. “Doen wyd aansoek vir mededingende beurse en leierskapsprogramme soos die Mandela Rhodes- of die Commonwealth-beurs – dit bied nie net finansiële ondersteuning nie, maar ook toegang tot wêreldwye netwerke en lewensveranderende geleenthede.”

Hy moedig studente aan om doelbewus en strategies te wees in hul akademiese reis. “My keuse om aan die Universiteit Stellenbosch en die Universiteit van Manchester te studeer, is grootliks beïnvloed deur hoe vinnig en positief hulle op my aanvanklike navrae gereageer het,” verduidelik hy. “Hulle vroeë akademiese ontvanklikheid het ’n diep indruk op my gemaak en my van meet af aan welkom en goed ondersteun laat voel.”

Hy raai studente aan om so vroeg moontlik te begin met die opbou van ’n sterk navorsings- en leierskapsportefeulje. “’n Gesonde publikasiegeskiedenis en ’n duidelike toewyding aan volhoubare ontwikkeling maak ’n groot verskil wanneer jy aansoek doen vir navorsingsbefondsing of beursskemas,” sê hy. Maar net so belangrik, voeg hy by, is om die geleenthede wat studeer en werk in nuwe kulturele omgewings bied, ten volle te benut. “Kulturele blootstelling bou veerkragtigheid, verbreed jou wêreldbeskouing en help jou om ’n wêreldwye professionele netwerk te vorm wat jou vir jare van waarde sal wees.”

Verder is Bovinille passievol oor die groter rol wat chemiese ingenieurs van Afrika kan en móét speel om plaaslike en wêreldwye uitdagings aan te pak. “Chemiese ingenieurs beweeg op die kruispad van wiskunde, fisika, biologie en chemie – hulle ontwerp prosesse wat rou materiale omskep in waardevolle produkte wat ons ekonomieë aandryf en lewenskwaliteit verbeter,” sê hy.

Hy wys daarop dat Afrika, as een van die wêreld se jongste en vinnigste groeiende vastelande, ’n groeiende vraag na energie, skoon water, volhoubare materiale en veerkragtige infrastruktuur ervaar. Hierdie realiteite skep volgens hom ’n unieke geleentheid en verantwoordelikheid vir Afrika-chemiese ingenieurs om leiers te wees in transformerende oplossings vir hernubare energie, afvalbestuur, water suiwering en volhoubare vervaardiging. “Afrika-chemiese ingenieurs het ’n belangrike taak om die toekoms plaaslik en wêreldwyd te vorm – en die tyd om dié uitdaging aan te pak, is nou.”

Terugskouend erken Bovinille dat elke fase van sy internasionale akademiese reis hom nie net as ingenieur nie, maar ook as mens gevorm het. In Kameroen het hy geleer om vindingryk en selfstandig te wees. In Suid-Afrika het hy nuwe insigte in identiteit en leierskap gekry. En in die Verenigde Koninkryk het hy die vaardighede ontwikkel om in ’n veeleisende, wêreldwye wetenskaplike omgewing leiding te neem. “Hierdie internasionale ervarings het my gevorm tot ’n ingenieur wat sowel wêreldwyd dink as plaaslik geanker is,” reflekteer hy. “Ek ontwerp met empatie, lei met kulturele bewustheid en innoveer met ’n duidelike doel: om by te dra tot ’n meer regverdige en volhoubare wêreld.”

Sy reis getuig van die krag van deursettingsvermoë, toewyding en visie – en herinner ons daaraan dat ingenieurs, selfs vanuit die eenvoudigste begin, met die regte geleenthede ’n wêreldwye impak kan maak en betekenisvol kan teruggee.

Verwante stories