Skip to main content
Inaugural lectures in chemical engineering
Institusionele nuus

Twee professore lewer intreerede in chemiese ingenieurswese

Department news
11 September 2025
  • Op 19 Augustus 2025 het professore Tobi Louw en Neill Goosen van die Departement Chemiese Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch hul intreerede gelewer. Die twee lesings, wat op dieselfde aand plaasgevind het, het uiteenlopende navorsingsrigtings belig en waardevolle insig gebied in die verreikende invloed van chemiese ingenieurswese.

Prof. Tobi Louw – ’n Kritiese beskouing van die toepassing van masjienleer in chemiese ingenieurswese

In sy intreerede, ’n Kritiese beskouing van die toepassing van masjienleer in chemiese ingenieurswese, het prof. Tobi Louw die groeiende invloed van masjienleer in uiteenlopende bedrywe, asook die ontwrigtende potensiaal daarvan binne chemiese en minerale verwerking, onder die loep geneem. Terwyl hy die geleenthede wat hierdie tegnologieë bied, erken het, het hy ook die uitdagings uitgelig wat die volhoubare toepassing daarvan aan bande lê. Hy het sy lesing begin deur die unieke aard van die bedryf te ondersoek, daarna die botsende idees en aannames bespreek wat besluitneming bemoeilik en implementering vertraag, en afgesluit met die beklemtoning van die akademie se verantwoordelikheid om innovasie te bevorder deur deeglike opleiding en die verspreiding van kennis.

Tobi se akademiese loopbaan het aan die Universiteit van Pretoria begin, waar hy in 2007 sy voorgraadse graad voltooi het. In 2013 het hy aan die Universiteit van Nebraska–Lincoln ’n PhD verwerf vir sy werk oor die wiskundige modellering van ultrasoniese bioreaktore. Ná ’n postdoktorale navorsingsgenootskap aan die Universiteit van Kaapstad het hy in 2015 by die Universiteit Stellenbosch aangesluit, waar hy sedertdien ’n sleutelrol in sowel onderrig as navorsing vervul.

Deur sy loopbaan heen het Tobi hom toegespits op die simulasie van komplekse en dinamiese prosesse – ʼn pad wat hom vanselfsprekend na die veld van masjienleer gelei het. By Stellenbosch is hy deel van die Departement se Masjienleer-navorsingsgroep, wat gevorderde wiskundige en statistiese metodes gebruik vir prosesmodellering, -monitering en -beheer. Hy lei ook die Data-analise vir prosesingenieurs-fokusarea van die gestruktureerde MIng (Chemiese Ingenieurswese) program, wat studente toerus met die nuutste instrumente en metodes om aan die bedryf se groeiende behoeftes te voldoen. Benewens sy navorsing en onderrig, dra Tobi by tot die versterking van die professie deur sy leierskap as president van die Suid-Afrikaanse Raad vir Outomatisering en Beheer (SACAC). In hierdie rol help hy om konferensies, simposia en samewerking tussen die akademie en die bedryf te fasiliteer.

 

Prof. Neill Goosen – Die toevallige pad na professorskap

In sy intreerede, Die toevallige pad na professorskap, het prof. Neill Goosen teruggekyk op sy loopbaan en die navorsingstemas uitgelig wat dit gevorm het. Sy lewenslange belangstelling in landbou en die voedselsisteem lê ten grondslag van sy werk, wat strek van die herwinning van proteïene uit voedselverwerkingsneweprodukte, soos visreste en gebruikte brouersgraan, vir hergebruik in die voedselketting, tot die onttrekking van gespesialiseerde verbindings uit seewier. Hy het ook ondersoek hoe bio-energieproduksie waarde kan ontsluit uit laegraadse biomassa, deur terselfdertyd hernubare energie én kunsmis te lewer. ’n Deurlopende tema in sy lesing was die verweefdheid van voedsel-, water- en energiesisteme, met navorsing wat daarop gemik is om die sinergieë tussen hierdie sektore te benut en skaars natuurlike hulpbronne meer doeltreffend aan te wend.

Neill het ook sy navorsing in katalise toegelig, waar hy werk aan die verbetering van reaksietoestande en die ontwikkeling van nuwe katalisators. Sy voortgesette navorsing ondersoek hoe hernubare waterstof uit water geproduseer kan word deur sonlig as energiebron te gebruik – ʼn veld wat die wêreld se energielandskap ingrypend kan verander. Deur sy uiteenlopende ervarings saam te bring, het Neill getoon dat sy loopbaan nie ’n reguit pad gevolg het nie, maar gevorm is deur geleenthede wat chemiese ingenieurswese en sy belangstelling in landbou en volhoubaarheid saamsnoer.

Neill, wat op ’n plaas in die Oos-Kaap grootgeword het, het aan Hoërskool Hangklip in Queenstown (nou Komani) gematrikuleer voordat hy in 2002 aan die Universiteit Stellenbosch begin studeer het. Wat as ’n tradisionele voorgraadse kursus in chemiese ingenieurswese begin het, het vinnig ’n nuwe wending gekry toe hy ’n meestersgraad in akwakultuur onderneem het. Ná ervaring op ’n forelplaas in Skotland en by ’n ingenieursontwerpfirma in Londen, het hy na Stellenbosch teruggekeer om sy PhD in 2014 te voltooi. Hy het in 2013 as dosent by die Departement Chemiese Ingenieurswese aangesluit en sedertdien ’n loopbaan opgebou wat akademiese leierskap, internasionale samewerking en nywerheidsadvieswerk insluit.

Neill se navorsing kombineer steeds ingenieurskennis met landbou-uitdagings. Sy werk het bygedra tot die ontwikkeling van proteïen- en seewierverwerkingsaanlegte, die vervaardiging van biostimulante uit vis- en seewierreste, en selfs tot patente vir prosesse wat kannabinoïde in mediese toepassings herwin. Tussen 2020 en 2023 het hy die ARUA-sentrum van Uitnemendheid in Energie gelei, waarmee sy invloed na pan-Afrikaanse samewerking oor hulpbronvolhoubaarheid uitgebrei is. Met meer as 65 vaktydartikels, vier patente en die begeleiding van 40 nagraadse studente, beliggaam Neill die rol van ’n ingenieur wat toegewy is aan volhoubaarheid, innovasie en praktiese oplossings vir die toekoms van voedsel- en energiesisteme.

Klik hier om professore Tobi Louw en Neill Goosen se intreerede te kyk.

Prof Tobi Louw delivering his inaugural lecture

 

Prof Tobi Louw lewer sy intreerede

 

 Prof Tobi Louw (Chemical Engineering)

 

Prof Richard Stevens (Adjunk-visekanselier: Leer en Onderrig, Waarnemend); Prof Sibusiso Moyo (Adjunk-visekanselier: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies); Prof Tobi Louw (Chemiese Ingenieurswese); Prof Wikus van Niekerk (Dekaan: Fakulteit Ingenieurswese); Dr Ronel Retief (Registrateur)

 

Prof Neill Goosen delivering his inaugural lecture

 

Prof Neill Goosen lewer sy intreerede

 

 Prof Neill Goosen (Chemical Engineering)

 

Prof Christie Dorfling (Voorsitter: Departement Chemiese Ingenieurswese); Prof Celeste Viljoen (Visedekaan Onderrig en Gehalteversekering); Prof Neill Goosen (Chemiese Ingenieurswese); Prof Wikus van Niekerk (Dekaan: Fakulteit Ingenieurswese); Prof Corne Schutte (Visedekaan Navorsing en Nywerheidskakeling)

 

Verwante stories