Ons Departement
Ons storie, jou toekoms
Die Departement Chemiese Ingenieurswese aan Stellenbosch Universiteit het ’n trotse geskiedenis van innovasie en uitnemendheid. Die Departement is in 1969 gestig - 25 jaar ná die totstandkoming van die Fakulteit Ingenieurswese. Onder leiding van ons eerste professor en departementshoof, prof. Nico Louw, het die Departement vinnig ’n sleutelrolspeler in ingenieursopleiding op Stellenbosch geword.
In 1977 is ’n spesialisrigting in Ekstraktiewe Metallurgie ingestel, wat studente die geleentheid gebied het om óf ’n BIng in Chemiese Ingenieurswese óf ’n BIng in Chemiese Ingenieurswese met spesialisering in Ekstraktiewe Metallurgie te volg. Hierdie uitbreiding het in 1985 gelei tot die stigting van ’n afsonderlike Departement Metallurgiese Ingenieurswese. In 1994 het die twee departemente egter weer saamgesmelt om die Departement Chemiese Ingenieurswese te vorm.
In die vroeë 2000’s is die departement herbenoem na die Departement Prosesingenieurswese om ons ontwikkelende fokus en die rol van die chemiese ingenieur in die bedryf beter te weerspieël. In 2023, ná deeglike oorweging van onlangse vooruitgang en ontwikkelinge in die veld, het ons met trots teruggekeer na ons oorspronklike naam, die Departement Chemiese Ingenieurswese, as bevestiging van ons verbintenis tot die kernbeginsels en innovasies van die dissipline.
Die Departement was aanvanklik in die ou Ingenieursgebou in Victoriastraat (nou die Visuele Kunste-gebou) gehuisves, met laboratoriums in die huidige Polimeerwetenskap-gebou. In 1979 het die Departement na die huidige Ingenieursgebou verhuis. Teen 2011 het ons groeiende studentetal die uitbreiding van die Anneks genoodsaak.
Vandag spog die Departement Chemiese Ingenieurswese met meer as 500 meestersgraad-gegradueerdes, meer as 130 PhD-gegradueerdes en 7 DIng-gegradueerdes. Tans is sowat 100 meesters- en 45 PhD-studente aktief besig met hul studies, terwyl ongeveer 400 studente vir die voorgraadse BIng-program in Chemiese Ingenieurswese ingeskryf is. Die rekordgetal eerstejaarstudente in 2024 getuig van ons volgehoue sukses in die opleiding van toekomstige leiers in die veld.
Sedert die 1980’s speel nagraadse opleiding en navorsing ’n toenemend belangrike rol in die Departement. Die eerste MIng-graad is in 1983 toegeken, gevolg deur die eerste PhD-graad wat in 1985 aan Jannie van Deventer toegeken is. Oor die jare heen het die Departement internasionale erkenning verwerf vir ons werk in mineraalprosessering en ekstraktiewe metallurgie, biohulpbroningenieurswese, skeidingstegnologie, intelligente prosessisteme, watertegnologie en afvalvalorisering.
Die Departement bly verbind tot die bevordering van chemiese ingenieurswese deur toonaangewende navorsing, wêreldgehalte-opleiding en die ontwikkeling van volhoubare oplossings vir die uitdagings van die moderne wêreld.