The University of Venda appoints Stellenbosch University alumnus Professor Fulufhelo (Fulu) Netswera as Vice Chancellor Research and Postgraduate Studies
- Vanaf 1 Oktober 2025 het Fulu die nuwe rol van Adjunk-Visekanselier Navorsing en Nagraadse Studies aan die Universiteit van Venda aanwar en sien daarna uit om die navorsingskultuur van daardie universiteit ten goede te verander.
 
In 2005 word Fulu ’n gegradueerde in Ontwikkelingsosiologie aan die Universiteit Stellenbosch (US). Hy sê dat sy doktorale ervaring aan die US onder toesig van prof Simon Bekker geweldig bevredigende was: “… dit was ’n geborgde doktorale genootskap deur die Nasionale Navorsingstigting en die Centre National de la Recherche Scientifique en het kohorte van die Universiteit van Nairobi, die Universiteit van Bordeaux, en die Universiteit van Lomé in Togo ingesluit. Die opset het ons in staat gestel om gereeld na Kenia, Togo en Frankryk te reis, en dit was ’n ervaring wat ’n onuitwisbare indruk op my uitkyk en waargenome belang van navorsingsvennootskappe gelaat het.”
Prof Netswera sê dat alhoewel hy sy doktorale studies onderneem het terwyl hy by die Instituut vir Demokrasie in Suid-Afrika (Idasa) en later by die Wetenskaplike en Nywerheidnavorsingsraad (WNNR) gewerk het, dit altyd opwindend was om na Stellenbosch terug te keer vir kort studiebesoeke om sy promotor te raadpleeg. “Prof Bekker het daarop aangedring dat ek hom Simon noem en my verbied om hom prof Bekker te noem. Dit het altyd gevoel soos om saam met ’n kollega, ’n vriend, ’n mentor, te kuier en ek het dit geniet om uit sy beker van wysheid te drink.”
Fulu se loopbaanpad lyk voorwaar waagmoedig en opwindend. Sy loopbaanreis begin by die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) waar hy in 1996 ’n navorsing-internskap opneem nadat hy ’n honneursgraad in Ekonomie aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) verwerf. Hy ontmoet prof Johan Mouton by die RGN en skryf later in vir sy meestersgraad op Stellenbosch, met prof Mouton as studieleier, terwyl hy by die Technikon SA as navorsingsadministrateur werk. Hy word ’n Uitvoerende Assistent vir die Viserektor van die Technikon SA (prof Neo Mathabe), maar vertrek later om weer by die RGN as ’n Hoofnavorser aan te sluit. Sy werk met ander navorsers by die RGN help Fulu in 2003 om die welbekende Suid-Afrikaanse sosiale en houdingsopname (SASAS) te vestig. Terwyl hy met Idasa aan ’n projek van die RGN saamwerk, word hy egter vir Idasa gewerf. Hy aanvaar ’n Mott Foundation Philanthropy-genootskap aan die City University in New York “...om saam met ’n groep genote van Moskou, Indië, Mexiko en Kanada in International House in die stad New York te woon, was lewensveranderend, nie net akademies nie, maar ook sosiaal,” sê hy.
Terwyl Fulu in New York was, word hy gewerf om by die WNNR aan te sluit, waar hy met ’n groep wateringenieurs saamwerk. Later sluit hy by die Nasionale Navorsingstigting (NNS) aan as ’n Toekenningsbestuurder verantwoordelik vir die Thuthuka-beursprogram en Nagraadse en Postdoktorale genootskappe.
In 2007 word hy by die Universiteit van Suid-Afrika (UNISA) as Direkteur vir Navorsingsbestuur aangestel waar hy volgens hom beduidende veranderinge aan UNISA se navorsingsadministrasieprosesse, stelsels, en ondersteuningsprogramme aanbring, wat verskeie positiewe uitkomste lewer en UNISA se deelname en navorsingsuitsette verbeter.
Nadat hy UNISA in 2012 verlaat, word hy Direkteur van die Turfloop nagraadse skool vir leierskap (TGSL) en terwyl hy daar is, ontvang hy ’n Erasmus-genootskap as besoekende professor aan die Universiteit van Groningen in Nederland.
Hy verlaat die TGSL en sluit hom vervolgens by die Nasionale instituut vir geesteswetenskappe en sosiale wetenskappe (NIHSS) aan waar hy die Suid-Afrikaanse BRICS-dinkskrum (SABTT) lei.
Nadat hy die NIHSS verlaat, sluit Fulu hom by die Kaapse Skiereiland Universiteit (KSUT) van Tegnologie as Adjunkdekaan vir Navorsing aan, alhoewel dit net vir 8 maande was. Hy glo die paar maande wat hy by die KSUT deurgebring het, was beslis ’n lonende ervaring vir die instelling se navorsers, veral die jong akademici en nagraadse studente.
Soos die geluk dit wou hê, kom Noordwes-Universiteit (NWU) aan sy deur klop met die aanbieding van Direkteur vir die NWU-sakeskool. By Noordwes het hy die twee sakeskole van Potchefstroom en Mafikeng laat saamsmelt, maar in 2019 word hy deur die Durban-Universiteit vir Tegnologie (DUT) opgeraap om die DUT-sakeskool tot stand te bring terwyl hy as dié universiteit se Uitvoerende Dekaan in die Fakulteit Bestuurswetenskappe dien. Die Sakeskool word in 2022 geopen en lewer talle MBA’s, terwyl die fakulteit bekendheid verwerf vir dié se gevestigde navorsingskultuur en veral vir navorsingsproduktiwiteit.
Toe prof Netswera gevra is om van sy prestasies oor die jare te lys, het hy die volgende uitgelig:
- Stig die BRICS Navorsingsinstituut in 2021 (https://www.bricsri.co.za/)
 - Stig die Afrika-voedselfees by DUT (2021)
 - Verleen hulp van die NNS se kant met die stigting en befondsing van die Universiteit van Limpopo se vroue- akademiese solidariteitsvereniging (ULWASA)
 - Dien op die Nasionale wetenskap- en tegnologieforum (NSTF) as ’n beoordelaar van die gesaghebbende NSTF Kambule-toekennings
 - Dien tussen 2011 en 2015 as redakteur vir die vaktydskrif Commonwealth Youth and Development, wat deur eweknieë geëvalueer en deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO) geakkrediteer is
 - Dien op die raad van Pikitup as waarnemende Voorsitter en Voorsitter van die menslike hulpbronne- en vergoedingskomitee (HRRC)
 - Dien as Nie-uitvoerende Direkteur op die raad van die RGN
 - Dien as ’n Uitvoerende Lid van die Suider-Afrikaanse navorsings- en innovasiebestuursvereniging (SARIMA)
 - Beoordeel die Vroue in wetenskappe-toekennings (WISA) tussen 2011 en 2025
 - Was ’n besoekende genoot aan die (i) Lincoln International Business School in die VK; (ii) Sparsh Global Business School in Indië; (iii) UTAMU Universiteit in Uganda; (iv) Groningen Universiteit in Nederland; en (v) Tshwane Universiteit van Tegnologie.
 
Vanaf 1 Oktober 2025 het Fulu die nuwe rol van Adjunk-Visekanselier Navorsing en Nagraadse Studies aan die Universiteit van Venda aanwar en sien daarna uit om die navorsingskultuur van daardie universiteit ten goede te verander.
“Ek wens dat ons terminologieë soos histories swart en histories benadeelde instellings kon vergeet. Ek wil hê dat UNIVEN ’n ware navorsingsuniversiteit moet word wat met ander internasionale universiteite volgens alle aanwysers meeding,” sê hy.