Skip to main content
SU scientists among new SAYAS members
Image by: Supplied

Drs Phila Msimang en Noreth Muller-Kluits tel onder tien nuwe lede van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Jong Wetenskaplikes (SAYAS). 

Toekennings en mylpale

Twee jong US-wetenskaplikes vir uitnemendheid in hul vakgebiede erken

Anél Lewis
Senior journalist
07 November 2025
  • Twee wetenskaplikes van die Universiteit Stellenbosch (US) is as lede van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Jong Wetenskaplikes (SAYAS) ingehuldig.
  • Drs Phila Msimang en Noreth Muller-Kluits tel onder tien nuwe lede wat tydens die jaarlikse Toekenningseremonie verwelkom is.
  • SAYAS het ten doel om die sigbaarheid en impak van jong wetenskaplikes in Suid-Afrika te bevorder.

Twee wetenskaplikes van die Universiteit Stellenbosch (US) is as lede van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Jong Wetenskaplikes (SAYAS) ingehuldig.

Drs Phila Msimang en Noreth Muller-Kluits tel onder tien nuwe lede wat tydens die jaarlikse Toekenningseremonie op 29 Oktober verwelkom is.

SAYAS-lede is wetenskaplikes jonger as 40 met PhD’s wat as ”uitmuntend” in hul vakgebiede geag word.

Msimang is ʼn senior lektor in filosofie, asook ʼn lid van die Azanian Philosophical Society en die International Philosophy of Biology Circle. Hy het ʼn MA aan die Universiteit van KwaZulu-Natal en ʼn PhD van die Macquarie-Universiteit in Australië verwerf. 

“Ek sou nie hierdie erkenning ontvang het as dit nie was vir die ondersteuning van my Fakulteit nie, asook dié van dr Susan Hall, Hoof van die Departement Filosofie en die Eenheid Bio-etiek, wat my genomineer het. Dis baie bemoedigend omdat dit erkenning verleen aan die interdissiplinêre en maatskaplik gerigte werk waarvan ek en my medewerkers deel kon wees — en aan wie ek ook my dank uitspreek,” sê Msimang.

Muller-Kluits het ʼn PhD in maatskaplike werk aan die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe verwerf. Sy is onlangs aangestel as ʼn postdoktorale navorsingsgenoot van die US se Openbare Plein in Vroeë Intervensie en Kindergeestesgesondheid, ʼn pos wat sy op 1 Desember 2025 sal aanvaar. Haar navorsing kombineer geleefde en professionele ervarings met ʼn fokus op ondersteuning vir mense met gestremdhede en hul gesinne in verskillende kontekste.

Muller-Kluits dra haar SAYAS-toekenning op aan die mentors wat ʼn “enorme impak” op haar loopbaan tot op hede gehad het. Sy is genomineer deur dr Berna Gerber, medeleier van die Openbare Plein [ib1] in Vroeë Intervensie en Kindergeestesgesondheid, en sê sy beskou dit as ʼn voortgesette platform en verantwoordelikheid om te verseker dat navorsing tot maatskaplike impak bydra.

Prof Sibusiso Moyo, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies, het die twee wetenskaplikes gelukgewens en gesê dié erkenning versterk die US se verbintenis tot die ontwikkeling van die volgende generasie wetenskaplike leiers.

SAYAS het ten doel om die sigbaarheid en impak van jong wetenskaplikes in Suid-Afrika te bevorder. Die organisasie se missie is om dialoog te stimuleer, innovasie te bevorder en wetenskaplik gebaseerde oplossings vir hedendaagse maatskaplike uitdagings aan te moedig. SAYAS streef voorts die bou van wetenskaplike kapasiteit deur mentorskap en inspirasie van die volgende generasie navorsers na, terwyl geleenthede vir interdissiplinêre samewerking op ʼn nasionale én internasionale vlak geskep word.

 [ib1]Ek sien nêrens dat die US se Public Square-inisiatief vertaal word nie. Hierdie is my beste poging tot ‘n vertaling.

Verwante stories