Skip to main content
Prof Lindy Heinecken
Image by: Prof Lindy Heinecken
Toekennings en mylpale

Prof Lindy Heinecken ontvang die Morris Janowitz Loopbaanprestasie-toekenning vir haar uitstekende loopbaan in die militêre broederskap

Asanda Alex Plaatjies and Prof Lindy Heinecken
24 November 2025
  • Die ontvangs van die Morris Janowitz Loopbaanprestasietoekenning is ʼn beduidende eerbetoon wat erkenning verleen aan ʼn voortreflike loopbaan op die akademiese gebied van militêre sosiologie en weermagte en die samelewing. Dit word deur die Inter-University Seminar on Armed Forces and Society (Interuniversiteitseminaar oor Weermagte en die Samelewing; IUS) toegeken, en is die hoogste erkenning wat aan ʼn senior vakkundige op die gebied verleen kan word.
  • Die ontvangs van die Morris Janowitz Loopbaanprestasietoekenning is ʼn beduidende eerbetoon wat erkenning verleen aan ʼn voortreflike loopbaan op die akademiese gebied van militêre sosiologie en weermagte en die samelewing. Dit word deur die Inter-University Seminar on Armed Forces and Society (Interuniversiteitseminaar oor Weermagte en die Samelewing; IUS) toegeken, en is die hoogste erkenning wat aan ʼn senior vakkundige op die gebied verleen kan word. Die toekenning verleen nie slegs erkenning aan navorsingsuitnemendheid nie, maar bring ook hulde aan diegene wat betekenisvolle diens aan die vakgebied gelewer het, met inbegrip van leierskap in professionele organisasies, die redigering van vaktydskrifte (soos Armed Forces & Society), mentorskap en openbare betrokkenheid by verwante kwessies. Die toekenning is vernoem na Morris Janowitz, ʼn wêreldbekende Amerikaanse sosioloog wat as ʼn hoofstigter van militêre sosiologie beskou word. Die ontvangs van die toekenning koppel die ontvanger se loopbaan dus aan sy baanbrekerserflating en ander akademici op die gebied wat hoog aangeslaan word.

  • Hoe word iemand ʼn genoot van die IUS en hoe lank is u al ʼn genoot?

Ek is sedert 1996 ʼn genoot, en het my eerste referaat in 1997 aan die IUS gelewer – 28 jaar gelede. Om ʼn IUS-genoot te word ... in my geval was ek benoem, maar die IUS kies sy genote op grond van bewese beroepsprestasies in die studie van weermagte en die samelewing.

Hoofkriteria sluit in ʼn gevorderde graad (PhD) in verwante akademiese vakgebiede (bv. sosiologie, politieke wetenskap, geskiedenis en internasionale betrekkinge); ʼn rekord van navorsing en publikasies op die gebied van krygskunde of burgerlike-militêre betrekkinge; en bewese professionele sukses deur onderrig-, navorsings-, of ander tersaaklike prestasies.

ʼn Mens kan ʼn IUS-genoot raak deur formeel aansoek te doen en deur jou CV en aansoek te demonstreer dat jy aan die professionele standaarde van akademieskap en diens op die gebied van weermagte en die samelewing voldoen

  • Was hierdie toekenning/eerbetoon ʼn definiërende oomblik in u loopbaan? Vertel vir ons meer van ander toekennings wat u ontvang het.

Dit was inderdaad ʼn definiërende oomblik en heeltemal onverwags. Ek voel geweldig geëerd en dit is beslis die hoogtepunt van my akademiese loopbaan. Dit plaas ʼn mens in die boonste sfeer van akademici in die wêreld, wat werk aan die verskillende aspekte van weermagte en die samelewing. Buiten vir navorsingstoelaes het ek nog nie eintlike enige ander toekennings ontvang nie.

  • Hoe is u agtergrond in krygskunde en sosiologie in die globale konteks met mekaar verweef?

Grondliggend. Dink net aan hoe die oorlog in Oekraïene samelewings deur die gebruik van hommeltuie beïnvloed. Byvoorbeeld, die werk van die sosioloog, Ulrich Beck, is uiters tersaaklik vir ʼn begrip van hommeltuig-oorlogvoering, hoofsaaklik deur sy sentrale tesis van die risiko-samelewing en verwante konsepte soos refleksiewe modernisering en die “boemerang-effek”. Beck se raamwerk bied ʼn makrovlak- sosiologiese lens om te ondersoek hoe hierdie moderne tegnologie die aard van sekuriteit, risiko en staatsaanspreeklikheid grondliggend in ʼn geglobaliseerde wêreld wysig. Militêre sosiologie bied dus die ontledingsinstrumente om weermagte nie slegs as instrumente van geweld te verstaan nie, maar as komplekse sosiale instellings wat diep vasgelê is en diepgaande gevorm word deur die globale samelewing en globale verandering.

Hierdie vakgebied word bedryf in die veronderstelling dat militêre instellings en oorlogvoering in wese sosiale verskynsels is. As ʼn mens na die gebied van burgerlike-militêre betrekkinge kyk, is ʼn hooffokus hoe verskillende soorte state – demokrasieë, outoritêre regimes en oorgangsregerings – die verhouding tussen burgerlike politieke leierskap en die militêre establishment bestuur. Byvoorbeeld, waarom beleef sommige lande coups d’état en ander nie? Byvoorbeeld, sosioloë sal ondersoek hoe “etniese oorlading” tot die moontlikheid van coups bydra, of dit verlaag.

Baie van my eie werk het gehandel oor die interne struktuur, kultuur en samestelling van weermagte, en hoe globale tendense in die integrasie van vroue, LGBTQ+-individue en etniese of rasseminderhede beïnvloed wie in die weermag dien en in watter hoedanighede. As ʼn mens hieroor nadink – die feministiese beweging het na vore gekom ná die Tweede Wêreldoorlog, waar vroue die eerste keer permanent in die samelewing (en die weermag) gewerk het, en begin het om manlike norme en waardes uit te daag.

Die studie van oorlog op sigself is ʼn hoof- sosiologiese onderwerp, wat verder as militêre taktiek kyk na die maatskaplike en kulturele kragte wat konflik moontlik maak, dit in stand hou en daardeur hervorm word. Militêre sosioloë ondersoek die sosiale impak van oorlog wêreldwyd, met inbegrip van gedwonge migrasie, die skep van vlugtelingestrome, die verspreiding van trauma (PTSV) en die impak op familiestruktuur, en veterane se herintegrasie by die burgerlike lewe oor verskillende samelewings heen. Dit is net enkele voorbeelde.

  • Watter woorde van wysheid of raad het u vir jong beroepslui in die militêre ruimte?

Daar is nie genoeg sosioloë wat navorsing oor die weermag doen nie, gegewe die gespanne betrekkinge van die vakgebied met die weermag en oorlogvoering oor die algemeen. Om die waarheid te sê, jy kan enige sosiologiehandboek optel en jy sal kwalik enige verwysings vind na “oorlog en die samelewing”. Jong akademici behoort egter die verwantskap tussen weermagte en die samelewing te bestudeer, omdat dit ʼn noodsaaklike, interdissiplinêre lens bied om die mees kritieke kwessies van ons tyd te verstaan en deurslaggewend is vir die ontwikkeling van ʼn gesofistikeerde begrip van mag, sosiale verandering en globale konflik.

Die studie van weermagte en die samelewing rus jong akademici toe met die kennis om kritiek te lewer op die instellings van georganiseerde geweld en sekuriteit en dit te beïnvloed – wat dit ʼn uiters tersaaklike, impakvolle en noodsaaklike studiegebied maak om die moderne wêreld te kan verstaan.

Dit is egter ʼn uitdaging om navorsing in hierdie ruimte te doen. Die militêre instelling is dikwels geïsoleerd, hanteer kritiek nie goed nie (gegewe hulle kultuur van nakoming), wantrou burgerlikes en hou nie van openbare ondersoek nie. Dit is moeilik om hierdie balans te navigeer, maar noodsaaklik as ʼn mens wil hê dat jou navorsing ʼn impak moet hê ‘waar dit saak maak’ – nie slegs in die opvoeding van jong offisiere en die publiek oor militêre sake nie – maar in die politieke en die beleidsdomein.

 

Merkers

Prestasies

Verwante stories