
US-graduatus bereik sy droom ondanks lewensveranderende siektetoestand
Toe die Stellenbosch Universiteit-graduatus Karabo Makhanya in 2017 met ’n lewensveranderende siektetoestand gediagnoseer is, het hy besluit hy gaan aanhou en sy studies voltooi, kom wat wil.
Op Woensdag, 16 Desember 2020 word Makhanya se droom verwesenlik wanneer hy saam met 400 ander mede-graduandi van die Fakulteit Natuurwetenskappe virtueel ’n Baccalaureus-graad (BSc) in Sportwetenskap ontvang.
“Ek het gevoel dat indien ek so naby aan die eindstreep – die voltooiing van my B-graad – sou tou opgooi, al die uitdagings wat ek in my tyd by die universiteit oorkom het, verniet sou wees. Ek het geleer om nie jou uitdagings as ’n nadeel te beskou nie, maar om hulle as jou grootste voordele te sien,” sê Makhanya.
Terwyl hy aan die US studeer het, is Makhanya met ’n aangebore siekte, Chiari se siekte tipe 1, gediagnoseer, wat behels dat ’n deel van sy brein, genoem die serebellêre tonsils, afwaarts beweeg het in die holte in waar die ruggraat gewoonlik in die skedel inbeweeg. Dit het al hoe meer drukking op sy brein veroorsaak en die vloeistof rondom die ruggraat en brein het nie gevloei soos dit moes nie.
Makhanya vertel dat hy regdeur sy tienerjare gereeld erge hoofpyne gekry het wat dan na ’n aantal ure verdwyn het, net om weer na ’n paar maande later voor te kom. In 2017 het Makhanya egter ná vele doktersbesoeke en toetse ’n MRB-skandering ondergaan, wat die erns van sy mediese toestand blootgelê het.
Weens die komplikasies van Chiari se siekte tipe 1, wat siringomiëlie – ’n skaars siekte wat veroorsaak dat vloeistofgevulde siste in die ruggraat vorm – moes Makhanya een groot neurochirurgiese operasie in 2017 ondergaan spesifiek vir Chiari se siekte tipe 1 en nog een vanjaar vir die siringomiëlie.
“Danksy my geloof in God en die ondersteuning wat ek van my ma, my familie (nabyfamilie en my kerkfamilie), my vriende en my dosente in die departement Sportwetenskap, asook die res van die fakulteit ontvang het, kan ek nou werklik sê ek is ’n BSc Sportwetenskap-graduandus. Ek voel fisiek en geestelik goed. Ek moes sowat ’n maand gelede vir nog ’n MRB-skandering gaan. Dit het getoon dat 99% van al die sirinkse weg is,” sê Makhanya.
Hy glo ook dat deur optimisties te bly en homself met die regte mense oor die jare te omring, hom gehelp het om sy gesondheidsuitdagings te oorkom en om uiteindelik sy graaddoelwitte te bereik.
Die boorling van Mpumalanga sê hy is opgewonde oor die toekoms hoop om eendag as ’n krag- en kondisioneringsafrigter vir ’n professionele sokkerklub in Suid-Afrika te werk.
“Ek was nog altyd lief vir sport, veral sokker, en ek het daarvan gehou om meer oor die menslike liggaam te leer. Namate ek deur my graadstudies gevorder het, asook weens die uitdagings wat ek moes oorkom, het ek al hoe meer in die menslike liggaam begin belangstel en het ek ’n passie ontwikkel om met mense te werk. Om iets te kan doen waarby sport betrokke is, asook om terselfdertyd meer van die menslike liggaam te leer en met mense te kan is ongetwyfeld net die ding vir my,” sê Makhanya.