Wil jy in 2027 aan die US studeer? Skakel in op MFM 92.6 vir nuttige antwoorde
- Aansoeke vir voorgraadse studie aan die US vir 2027 sluit op 31 Julie 2026.
- Vir enigiemand wat nou daardie besluit oorweeg, bied MFM se argief van podsendings antwoorde en perspektiewe van die mense in die loopgrawe: gesprekke met personeel en studente wat in die fakulteite werk en by elke moontlike aspek van kampus- en georganiseerde studentelewe betrokke is.
Nog net twee weke om by Maties aansoek te doen!
Oorweeg jy dit om by die Universiteit Stellenbosch (US) aansoek te doen vir 2027? Indien wel, is daar twee dinge wat jy nie in ’n prospektus sal vind nie: ’n reguit antwoord oor of ’n spesifieke fakulteit reg is vir jou, en ’n eerlike perspektief oor hoe dit is om jou voete op kampus te vind. Tydens die registrasietydperk in Februarie en in die aanloop tot die Opedag in April het MFM 92.6, die US se kampus- en gemeenskapsradiostasie, ’n reeks onderhoude en gesprekke gevoer wat baie voornemende studente se vrae kan help beantwoord.
Aansoeke vir voorgraadse studie aan die US vir 2027 sluit op 31 Julie 2026. Vir enigiemand wat nou daardie besluit oorweeg – en tussen fakulteite moet kies, toelatingsvereistes nagaan, en besluit vir watter drie programme om aansoek te doen – bied MFM se argief van podsendings antwoorde en perspektiewe van die mense in die loopgrawe: gesprekke met personeel en studente wat in die fakulteite werk en by elke moontlike aspek van kampus- en georganiseerde studentelewe betrokke is.
Kies ’n fakulteit en ondersoek die moontlikhede
Voordat jy kan aansoek doen, moet jy eers besluit waarvoor. MFM wou dié vraag in vanjaar se US Opedag-reeks beantwoord – in tien episodes, een vir byna elke fakulteit aan die Universiteit.
- Lettere en Sosiale Wetenskappe – Prof. Vasti Roodt, dekaan, gesels oor hoe die mees interdissiplinêre fakulteit by Maties alles van sielkunde en joernalistiek tot die skeppende kunste insluit, en waarom die studie van die menslike kant van die lewe nog nooit belangriker was as nou nie – luister hier.
- Ekonomiese en Bestuurswetenskappe – Ilse Frans, akademiese studente-adviseur, gesels oor hoe dié fakulteit teoretiese kennis met markgerigte vaardighede balanseer, sowel as die verskeie loopbaanrigtings naas rekeningkunde (van bemarking tot die openbare sektor) – luister hier.
- Opvoedkunde – Sisipho Zintle Maliwa, voorsitter van die Opvoedkunde-studentekomitee, gesels oor ’n fakulteit wat op vroeë, praktiese onderwyservaring gebou is, en die wêrelde wat dit buite die klaskamer oopmaak, van skoolleierskap tot opvoedkundige sielkunde – luister hier.
- Regsgeleerdheid – Dr. Bradley Greenhalgh, regsopleiding- en studente-koördineerder, en me. Karin Wiss, fakulteitsbestuurder, gesels oor wat hulle ’n “Gouelokkies”-fakulteit noem: klein genoeg vir persoonlike interaksie met die voorste regskenners, en met alles van die tradisionele LLB tot die land se enigste BAccLLB – luister hier.
- Ingenieurswese – Prof. Wikus van Niekerk, dekaan, en Emily Roberts, sekretaris van die Ingenieurstudenteraad, gesels oor een van die drie voorste ingenieursfakulteite in Suid-Afrika, en waarom jy nie ervaring van kodering of ontwerp nodig het om daar te floreer nie – luister hier.
- Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe – Meggan Ceylon, spesialis in geleenthede en konferensies vir voorgraadse werwing, en Thandolwethu Noinyane, voorsitter van die Tygerberg Studenteraad, gesels oor wat dit verg om op die Tygerberg-kampus te slaag terwyl die fakulteit vanjaar 70 jaar van kliniese uitnemendheid vier – luister hier.
- Natuurwetenskappe – Dr. Cassiem Joseph, dosent in chemie en polimeerwetenskap, gesels oor ’n fakulteit wat laboratoriums van wêreldgehalte kombineer met loopbaanrigtings wat alles van bewaringswetenskap tot farmakologie en finansiële ontleding insluit – luister hier.
- AgriWetenskappe – Monika Basson, bestuurder van voorgraadse werwing en bemarking, gesels oor Afrika se voorste fakulteit vir landboustudies, en waarom dit veel minder met handearbeid te doen het as wat die meeste mense dink – luister hier.
- Teologie – Prof. Reggie Nel, dekaan, gesels oor die Universiteit se “moederfakulteit” wat in 1859 gestig en bo-aan die ranglys in Afrika is, en waarom ’n teologiegraad gaan oor die kweek van ’n denkgewoonte wat ver buite kerkbediening nuttig is – luister hier.
Elke episode volg dieselfde struktuur: Inligting oor wat die fakulteit onderrig, watter skooluitslae en vakke jy nodig het, en loopbaanrigtings en ander geleenthede ná jou studie.
Kampuslewe en steundienste
Om ’n fakulteit te kies is een ding. Om op kampus aan te kom, is iets anders. Tydens die registrasietydperk in Februarie het MFM byna twee weke lank by die Coetzenburg-sentrum op Stellenbosch met personeel en studente gesels terwyl registrasie rondom hulle plaasgevind het.
Registrasie word gewoonlik as ’n logistieke proses hanteer: rye studente, hope vorms, en ’n studentekaart. MFM het dit egter as ’n storie benader wat behoorlik vertel moet word – as ’n geleefde ervaring – en die mense met wie ons gesels het, is die mense wat daardie ervarings agter die skerms help moontlik maak.
Luister na ons podsendings vir antwoorde op nuwe studente se tergende vrae:
- Prof. Richard Stevens, voormalige waarnemende Viserektor: Leer en Onderrig, het gepraat oor waarom studies aan die US veel verder as die lesinglokaal strek – luister hier.
- Dr. Leslie van Rooi, Studentedekaan, het oor die ondersteuningstrukture vir eerstegenerasiestudente en studente uit gemarginaliseerde gemeenskappe gesels, waaronder die SOAR-program – luister hier.
- Gesondheid en welstand: Dr. Kathryn Grammer, Senior Direkteur: Kampusgesondheidsdienste, het gesels oor die hantering van die fisieke en emosionele eise van die eerste paar weke, van “eerstejaarsgriep” tot geestesgesondheidsteun. Sy het ’n duidelike boodskap: Moenie wag totdat jy siek is om die mense te leer ken wat na jou kan omsien nie – luister hier.
- Taal aan die US: Sanet de Jager van die US Taalsentrum het gesels oor hoe ’n veeltalige kampus in die praktyk werk, ondersteuning aan studente, en waar om die Skryf- en Lees-laboratoriums in die hande te kry – luister hier.
- Studentegemeenskappe: Tydens ’n spesiale episode van Lunch Club het studenteleiers van die Rubix- en VicMeyr-klusters oor die klusterstelsel, die nuwe Kluster Fiësta-sportgeleenthede en studentegemeenskappe – die hart van Maties se studentelewe – gesels. Van die filosofie agter klusters; die gevoel van samehorigheid en die impak daarvan op studente se welstand; tot die klusters se liedjies, leuses en gelukbringers – ons praat oor alle aspekte van studentelewe. Of jy nou nuuskierig is oor hulp wat vir studente beskikbaar is, en of jy wil hoor hoe die klusters vir verskillende sportkodes voorberei, dié episode is vir jou. Luister hier.
- Gee terug van dag een af: Michelle Pietersen van die Sentrum vir die Bevordering van Sosiale Impak en Transformasie en studenteleiers van verskillende koshuise het gesels oor die Sosiale Impak-dag tydens die Verwelkomingsweek waartydens meer as 5 000 eerstejaars reg oor Stellenbosch aktiewe burgerskap in plaaslike gemeenskappe gaan uitleef het – ’n herinnering dat, soos een gespreksgenoot dit gestel het, Matie-wees oor meer as net die handboeke gaan. Luister hier.
Doen só aansoek by die US
Aansoeke vir voorgraadse studie in 2027 sluit op 31 Julie 2026. Lees eers die Universiteit se aansoekgids (How to apply) op die US se webblad voordat jy aansoek doen – dit verskaf inligting oor onder meer die toelatings- en keuringskriteria, die Nasionale Normtoetse, al die dokumente wat nodig is, en die aansoekfooi.
Om aansoek te doen, skep ’n profiel by student.sun.ac.za. Voornemende studente kan vir tot drie voorgraadse programme aansoek doen.
Besoek die US se webblad vir meer inligting: https://www.su.ac.za/en/apply/undergrad