PRONTAK-deelnemers besin oor hulle onderrigreise tydens persoonlike kontaksessie by STIAS
- Pas aangestelde akademici aan die Universiteit Stellenbosch het onlangs as deel van fase 4 van die kortkursus in Professionele Onderrigsontwikkeling vir Akademici (PRONTAK) by STIAS byeengekom vir ’n persoonlike kontaksessie, gefasiliteer deur dr Chrischar Rock. Die sessie het gefokus op besinning en kritiese besinning as kernaspekte van akademiese praktyk, en deelnemers genooi om te verken hoe hulle ervarings, oortuigings en waardes hulle benaderings tot onderrig-leer-assessering beïnvloed.
- Deur interaktiewe aktiwiteite en gesprekke het deelnemers vrae ondersoek soos hoe goeie onderrig lyk, hoe leer herken kan word, en wat akademici in staat stel om in hulle onderrigrol te groei. Die gesprekke het ook aandag gegee aan veranderende studentebehoeftes, die toenemende rol van tegnologie en die belangrikheid daarvan om leerervarings te ontwerp wat studente vir komplekse beroepskontekste voorberei.
- Die sessie het deelnemers verder ondersteun om die grondslag van hulle verklarings van onderrigfilosofie (VOF’s) te ontwikkel. Hierdie proses het hulle aangemoedig om hulle oortuigings oor onderrig-leer-assessering te artikuleer, dit met hulle pedagogiese keuses en die akademieskap van onderrig en leer te verbind, en oor die impak van hulle praktyke op studente en kollegas na te dink. Die PRONTAK-kontaksessie het só ’n waardevolle kollegiale ruimte geskep waarin deelnemers doelbewus oor hulle rol as opvoeders kon besin en die besinningsgewoontes, selfvertroue en gevoel van behoort kon versterk wat nodig is om uitnemendheid in onderrig-leer-assessering aan die US te ondersteun.
As deel van die kortkursus in Professionele Onderrigsontwikkeling vir Akademici (PRONTAK), het pas aangestelde akademici aan die Universiteit Stellenbosch (US) onlangs by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) byeengekom vir ’n persoonlike kontaksessie. Die sessie was deel van fase 4 van die kortkursus en het ’n toegewese ruimte geskep vir deelnemers om krities oor hulle onderrig-leer-assesseringspraktyke te besin en te begin om hulle verklarings van onderrigfilosofie (VOF’s) te ontwikkel.
PRONTAK is ’n jaarlikse professionele leergeleentheid wat vir pas aangestelde akademici aan die US aangebied word. Die program ondersteun akademici in nadenke oor hulle begrip van, aannames oor en benaderings tot onderrig, leer en assessering binne die konteks van hedendaagse hoër onderwys. Deur omgang met onderwysteorie, institusionele raamwerke en praktiese benaderings, word deelnemers aangemoedig om krities te oorweeg hoe hulle hul onderrigpraktyke binne hulle eie dissiplinêre kontekste kan verryk.
Die STIAS-kontaksessie is gefasiliteer deur dr Chrischar Rock, ’n burgerskaps-, multikulturalisme- en menseregtepraktisyn en dosent in die Fakulteit Opvoedkunde aan die US. Dr Rock beskik oor meer as twintig jaar se ondervinding in onderrig en fasilitering in die Verenigde Koninkryk en Suid-Afrika, en fokus op praktiese leer, besinnende praktyk en terugvoergeletterdheid in onderwyseropleiding.
Die sessie het gefokus op die rol van besinning en kritiese besinning in akademiese praktyk, met deelnemers wat verken het hoe hulle ervarings, oortuigings en waardes die maniere waarop hulle onderrig, leer en assessering benader, beïnvloed. Dr Rock het beklemtoon dat besinnende praktyk nie ’n eenmalige aktiwiteit is nie, maar wel ’n deurlopende proses wat ontwikkel soos akademici aanhou om in te skakel by hulle studente, kollegas en veranderende onderwyskontekste.
“Vandag wil ek julle uitnooi om goeie gesprekke oor die werk wat ons doen, te voer,” het dr Rock verduidelik. Sy het uitgelig hoe belangrik dit is om ruimtes te skep waarbinne akademici doelbewus oor hulle onderrigpraktyke en hoe hulle professionele groei daardeur gevorm word, kan nadink.
Deur ’n verskeidenheid interaktiewe aktiwiteite en besprekings het deelnemers vrae soos die volgende verken: Hoe lyk goeie onderrig? Hoe weet ons dat leer plaasgevind het? Wat stel akademici in staat om in hulle onderrigrol te groei? Hierdie gesprekke het deelnemers aangemoedig om uit hulle eie ervarings te put, terwyl hulle ook krities met die groter institusionele en samelewingskontekste waarbinne onderrig-leer-assessering plaasvind, kon omgaan.
’n Hooftema wat uit die besprekings na vore getree het, was die nodigheid dat akademici bedagsaam op veranderende studentebehoeftes en onderwysomgewings moet reageer. Deelnemers het nagedink oor die impak van onlangse veranderinge in hoër onderwys, waaronder die toenemende rol van tegnologie, verskuiwings in studenteverwagtinge en die belangrikheid daarvan om leerervarings wat studente vir komplekse beroepskontekste voorberei, te ontwerp.
Dr Rock het deelnemers ook aangemoedig om verder as nadenke na kritiese nadenke te beweeg – deur nie slegs “wat” en “hoe” te vra nie, maar ook “waarom”. Hierdie proses stel akademici in staat om hulle ervarings na kennis om te skakel en daardie begrip aan te wend om toekomstige onderrigbesluite te onderlê.
Die sessie het deelnemers gehelp met die opstel van die grondslag van hulle verklarings van onderrigfilosofie. ’n VOF bied aan akademici die geleentheid om hulle oortuigings omtrent onderrig-leer-assessering te artikuleer, hierdie oortuigings met hulle pedagogiese keuses en die akademieskap van onderrig en leer in verband te bring, en oor die impak van hulle praktyke op studente en kollegas na te dink.
Die sessie het, belangriker nog, ook die waarde van kollegialiteit en die voortbring van ondersteunende ruimtes waarbinne akademici uitdagings kan deel, van mekaar kan leer en ’n sterker gevoel van behoort binne die Universiteitsgemeenskap kan ontwikkel, uitgelig. Dr Rock het deelnemers aangemoedig om hulle onderrigfilosofie as ’n lewende dokument te beskou, wat ontwikkel soos hulle begrip van onderrig-leer-assessering ontwikkel.
Die PRONTAK-kontaksessie het aan deelnemers die geleentheid gebied om weg te tree van die alledaagse eise van akademiese werk en doelbewus oor hulle rol as opvoeders te besin. Deur die voer van sinvolle gesprekke met kollegas uit alle fakulteite, kon deelnemers voortgaan met opbou aan die kennis, selfvertroue en besinningsgewoontes wat nodig is om uitnemendheid in onderrig-leer-assessering aan die US te ondersteun.