2025 Akademieskap van Onderrig en Leer-konferensie (AvOL-)
- Conference Focus and Significance
- Keynotes, Panels and Activities
- Celebration, Recognition and Future Direction
Die 18de jaarlikse Akademieskap van Onderrig en Leer-konferensie (AvOL-) het op 3 en 4 November 2025 by die Marriott Stellenbosch Protea Hotel in Technopark plaasgevind. Daar was groot opwinding in die lokaal waar meer as 280 personeellede van die Universiteit Stellenbosch (US) byeengekom het om hulle onderrig-leer-assesseringsnavorsing, innoverende praktyke en besinnings uit te ruil. Die konferensie is daarop gemik om ʼn ruimte te skep waar US-personeel byeen kan kom om onderrig-leer-assessering (OLA) aan die instelling te deel en te vier. Dr Nicoline Herman (waarnemende Senior Direkteur: Afdeling vir Leer- en Onderrigverryking) het personeellede by die konferensie welkom geheet en gevra dat almal ʼn oomblik van stilte moet handhaaf vir ons gewaardeerde kollega, prof Lis Lange, wat die tema vir vanjaar se konferensie voorgestel het en wat ons op 8 Oktober ontval het.
Ter inleiding het dr Herman die afgevaardigdes ingelig dat aanbiedings vir die konferensie in twee strome voorgelê is: navorsing oor OLA en besinning oor OLA-praktyke of -teorie. Afgevaardigdes kon ook uitsien na 73 aanbiedings, 69 referate en vier plakkate oor die twee dae van die konferensie. Vanjaar sou daar ook 38 PRONTAK-plakkate (Professionele Opvoedkundige Ontwikkeling vir Akademici) wees deur deelnemers wat vir die kortkursus ingeskryf is. Dr Herman het prof Richard Stevens (waarnemende Viserektor: Leer en Onderrig) vir die amptelike opening van die konferensie bekend gestel. Die onderstaande is enkele uittreksels uit sy openingsrede: “Ek wil graag erkenning verleen aan dr Nicolene Herman en die Afdeling vir Leer- en Onderrigverryking en hulle vir hulle leierskap met die instandhouding van die akademieskap van onderrig en leer-gemeenskap aan die US bedank. Ek wil ook ons hoofpaneellede, wat ons besinnings en gesprekke vandag en môre sal rig, ons akademiese en professionele en steunpersoneel uit al die fakulteite, wat deurlopend daarna streef om leer betekenisvol en transformerend te maak, en natuurlik ons studente, wie se vrae, moed en weetgierigheid ons grootste onderwysers bly, bedank. Dankie. Julle teenwoordigheid hier maak saak.”
Prof Stevens het sy siening van die ruimte wat deur die AvOL-konferensie geskep word, beskryf: “Dit is die 18de jaarlikse Akademieskap van Onderrig en Leer-konferensie aan die US. Die feit dat dit oor amper twee dekades heen steeds volgehou word, getuig van die diepte van ons institusionele verbintenis tot nadenkende en navorsingsonderlegde onderrigpraktyk. Die AvOL-konferensie was nog altyd meer as ʼn byeenkoms van aanbiedinge. Dit is ʼn ruimte waarin tot stilstand gekom en nagedink kan word oor hoe en waarom ons onderrig gee. Dit is ʼn ruimte vir dialoog tussen kollegas, sagte uitdaging en ons gemeenskaplike doelwit. Onderrig is nie net ʼn professionele handeling nie. Dit is ʼn diep menslike een.
“Dit verg ook bewustheid, doelbewustheid, nederigheid en sorgsaamheid. Ruimtes soos hierdie nooi ons uit om ons gewoontes, ons aannames en ons metodes te ondersoek, en stel ons in staat om vernuwe na die klaskamer terug te keer. Ons doen hierdie werk omdat nadenkende onderrig die studenteleeruitkomste verbeter. Dit is nie teorie om teorie se onthalwe nie, maar nadenke in diens van studentesukses.”
Oor die tema van die konferensie verklaar prof Stevens: “Ek dink dit is so ʼn fantastiese tema wat ons het, dat ek dink dat die volgende twee dae beslis daarvan sal getuig. Vanjaar se tema, ‘Taal en Akademiese Geletterdhede in Onderrig, Leer en Assessering’, sal ons dus by die kern van studentetoegang, -tuishoort en -sukses uitbring. Taal vorm ons kennis, soos dit verstaan, uitgedruk, gedeel en gewaardeer word. Dit dra identiteite, geskiedenisse, mag en moontlikheid. Dit kan welkom heet, of uitsluit. Dit kan deure na dissiplinêre denke oopmaak, of dit kan daardie deure ontoeganklik en onbereikbaar laat voel. Terwyl ons met hierdie tema omgaan, gaan ons ook om met vrae oor epistemologiese toegang, meertalige praktyk, en die aankweek van ʼn selfversekerde akademiese stem. Hierdie vrae is baie belangrik binne ons konteks. Dit is belangrik vir gelykwaardigheid. Dit is belangrik vir studentesukses. En dit is belangrik vir die soort universiteit wat ons besig is om te word en wat ons wil wees.”
Prof Stevens het die amptelike opening afgesluit deur afgevaardigdes aan te moedig om “... openhartig te luister, met sorgsaamheid te praat, en met geduld na te dink. Kom ons laat toe dat hierdie gesprekke iets in ons verskuif, selfs al gebeur dit stilweg, omdat die ware impak van AvOL nie vandag gemeet sal word nie. Dit word in die klaskamer gemeet. Dit word gemeet in ʼn student wat begin glo dat hulle kan slaag. Dit word gemeet in die oomblik dat ʼn student begin om hulle eie stem met duidelikheid en selfvertroue te hoor.”
ʼn Nuwe en opwindende glanspunt van vanjaar se AvOL-konferensie was die bekendstelling van OLA-bingo by die US (‘TLA Bingo@SU’), wat ontwerp is om ʼn aktiewe leerstrategie deur spelifiëring (‘gamification’) te modelleer. Dr Benita Bobo, van die Sentrum vir Onderrig en Leer, het hierdie nuwigheid aan afgevaardigdes bekend gestel. Die inisiatief berus op die beginsels van spelgebaseerde leer en het die deelnemers uitgenooi om interessante take af te handel, stempels by “stamp champs” in te samel en die kans te hê om pryse te wen – alles terwyl hulle ervaar hoe spelerige, doelgedrewe aktiwiteite leerbetrokkenheid kan verryk. Afgevaardigdes is aangemoedig om te verken hoe die ontwerp van verskillende soorte aktiewe leergeleenthede studenteleer kan verryk.