
US beloof om UK te ondersteun
Die verskillende afdelings van die Universiteit Stellenbosch (US) is oorgehaal om hulle kollegas by die Universiteit van Kaapstad (UK) te ondersteun nadat die onlangse verwoestende Tafelbergbrand verskeie UK-geboue beskadig het.
Die eenheid vir die bewaring van Suid-Afrika se Antarktiese erfenis (ALSA), wat in die US se Departement Plant- en Dierkunde geleë is, en die US Biblioteek het reeds na hulle UK-eweknieë uitgereik.
Die UK se Jagger-leeskamer (voorheen die JW Jagger-biblioteek) is een van etlike geboue wat brandskade opgedoen het. Die Jagger-leeskamer het van die mees spesiale versamelings in Afrika bevat.
Ria Olivier, hoofnavorser by ALSA, sê hulle sal die UK bystaan om sy spesiale en seldsame Antarktiese versameling, wat ook deur die brand vernietig is, weer op te bou. Tweede eksemplare van boeke wat die afgelope paar jaar aan die US geskenk is, sal aan die UK oorhandig word, tesame met 'n versameling nuwe publikasies. “Enigeen wat wil boeke skenk, kan my kontak by [email protected]. Tik asseblief 'Antarktiese boekskenking' in die onderwerpreël en voorsien 'n lys van die boeke wat jy wil skenk," sê Olivier.
Ook Ellen Tise, senior direkteur van die US se Biblioteek- en Inligtingsdiens, het na die UK-gemeenskap uitgereik, en aangebied om die dienste en bystand wat tans slegs aan US-personeel en -studente voorsien word, ook aan die UK-gemeenskap beskikbaar te stel. 'n Aantal afspraakgleuwe sal ook aan die UK-gemeenskap toegeken word om toegang tot gedrukte materiaal soos koerante en staatspublikasies te verkry. Boonop kan gedrukte materiaal op versoek geskandeer of afgeneem en dan per e-pos aan UK-personeel en -studente gestuur word.