Bedryf en finansies
Prof Nicola Smit

Contact
Prof Nicola Smit het in 1993 haar BLC-graad (cum laude) en in 1995 haar LLB (cum laude) grade aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Sy het in 2002 'n LLD aan die Universiteit van Johannesburg (UJ) (voorheen RAU) behaal.
Sy neem sedert 1 Junie 2025 as bedryfshoof van die Universiteit Stellenbosch waar. Sy was voor dit die dekaan van die Fakulteit Regsgeleerdheid aan die US (vanaf Augustus 2017). Voor haar aanstellings op Stellenbosch was sy die uitvoerende dekaan van die Fakulteit Regsgeleerdheid aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroom-kampus) (Januarie 2013 tot Julie 2017) en die Visedekaan van die Fakulteit Regsgeleerdheid by UJ (2010–2012). Sy was ook die mededirekteur van die Sentrum vir Internasionale Vergelykende Arbeidsreg en Maatskaplike Sekerheidsreg, UJ (2009–2011). Sy was die eerste vrou om verskeie van hierdie poste te beklee.
Haar spesialisgebiede sluit in arbeidsreg (beide kollektief en individueel) en maatskaplike sekerheidsreg. Ondanks die feit dat prof Smit die afgelope 15 jaar leierskapsrolle beklee het, is sy 'n erkende navorser, studieleier (verskeie van haar studente is nou professors by ander universiteite) en dosent. Sy is 'n lid van die internasionale adviesraad van The International Journal of Labour Law and Industrial Relations (Kluwer Law International), dien in die redaksie van die International Labour Rights Case Law Journal (Brill Martinus Nijhoff), Annual Survey of South-African Law (Juta) en die Industrial Law Journal (Juta). Sy is die mederedakteur van verskeie boeke, waaronder Law@work (6de uitgawe), Social Security: A Legal Analysis, Introduction to Social Security en Liber Amicorum: Manfred Weiss. Sy het ook verskeie ander boeke die lig laat sien, insluitende Age Discrimination and Labour Law en The Law of Commerce, was die skrywer en medeskrywer van 48 geakkrediteerde akademiese artikels, asook talle tegniese verslae.