
'n Dag in die lewe van: Benita van Zyl
Verandering is onlosmaaklik deel van Benita van Zyl se werk by die Universiteit Stellenbosch (US) en dít is juis waarom sy nooit verveeld raak nie. Van Zyl werk by die Sentrum vir Studentegemeenskappe as ResEd-bestuurder, ResEd-koördineerder van die amaMaties-kluster én inwonende hoof van die koshuis Serruria.
In die maand van Werkersdag vertel ons jou meer oor van ons personeellede, en hulle rol om die ratte by ons instelling te laat draai. Van Zyl het met ons oor haar rol by die US gesels.
Wat is jou rol by die US?
Ek is oorhoofs verantwoordelik vir die ontwikkeling, ondersteuning en bestuur van alle klusterinisiatiewe, en ek koördineer ook die amaMaties-kluster en bestuur Serruria. Die ontwikkeling en bestuur van personeel en studenteleiers in die klusters, die beplanning van personeel- en meubelbehoeftes op langer termyn en veranderinge aan die fisiese fasiliteite in klusters val ook onder my verantwoordelikhede.
Ek werk daagliks saam met die klusterpersoneel, die ResEd-koördineerders, inwonende hoofde en PSO-koördineerders. Verder maak ek deel uit van verskillende taak- en werkgroepe by die US en dien tans as Studentesake-voorsitter wat PSO-studente se kampuservaring en -behoeftes ondersoek. Krisisbestuur is aan die orde van die dag en sluit die hantering van navrae van studente, ouers en kollegas in.
Hoe lyk 'n tipiese dag by die werk vir jou?
Ek is voortdurend besig met gesprekke, beplanning en om saam met kollegas ons prosesse en werk te evalueer en te oordink. E-posse, aanlyn vergaderings, telefoniese navrae en WhatsApp-boodskappe is deel van elke dag. Ek help ook studente wat ʼn krisis beleef, gee raad oor studie en praat studente wat wil opskop moed in.
Hoe het jou opleiding of vorige ervarings jou vir hierdie werk voorberei?
Ek was 14 jaar lank 'n Geografie-onderwyser vir hoërskoolleerders en was een van 12 onderwysers wat in 1989 Hoërskool Monument Park begin het. Ek het ook by Curro Privaat Skool in Durbanville en by Hoërskool DF Malan skoolgehou. In 2002 is ek as programkoördineerder vir die HonsBPA- en MPA-kursusse op die US se Bellvilleparkkampus aangestel. Ek het in 2008 na Stellenbosch verskuif as ResEd-koördineerder vir die amaMaties-kluster en inwonende hoof van Serruria. Sedert 2015 is ek die ResEd-bestuurder. My studie in Sportwetenskap, liefde vir sport, en sportdeelname op die hoogste vlak, gee my genoeg energie vir hierdie uitdagende omgewing.
Wat geniet jy die meeste van jou rol en werk by die US?
Elke dag verskil. Dié tipe werk is sinoniem met verandering. Ek sien hoe studente as mense en leiers groei, en die waardering wat hulle daarvoor het. Ek is dankbaar teenoor ons afdeling se direkteur (Pieter Kloppers), wat my met my take vertrou en my die geleentheid gee om inisiatief te neem. My man (Christie) en twee kinders (Tinneke en Tiaan) se ondersteuning help my sukses behaal in my werk. Vir my is my werk eintlik meer van ʼn leefwyse.
Die pandemie het verander hoe ons werk en leef. Wat hou jou in dié tyd gemotiveerd?
Die interaksie met studente en kollegas (nou meestal aanlyn), navorsing oor die hoër onderwys, om skiktyd te werk, en om erkenning van studente te ontvang, maak dit elke dag die moeite werd om wéér te help en te ondersteun. Inwonende hoofde en kollegas se waardering vir ons werk motiveer my ook. Om gesprekke oor die hele wêreld aanlyn te kan bywoon laat my vernuwend dink. Ek kon ook dié tyd gebruik om ʼn artikel en boekhoofstuk te voltooi.
Vertel ons iets oor jouself wat min mense sal verwag/iets opwindend wat min mense van jou weet?
Ek het in 1988 sporterekleure van die US ontvang en in 1992 my Springbokkleure in netbal verwerf. In 1995 het ons tweede by die Wêreldbekernetbaltoernooi in Birmingham, Engeland, geëindig toe Suid-Afrika die eerste keer weer kon deelneem. Ek kon my netballoopbaan in 1997 suksesvol afsluit as Suid-Afrikaanse kaptein. Ek het in Maart 2018 my meestersgraad in Kurrikulumstudie cum laude verwerf. Ek is ook baie lief daarvoor om die branders staan-staan op my roeiplank aan te durf en om die natuur te voet te verken.