Blessed Muyanga het in 2022 na die Universiteit Stellenbosch (US) gekom vir 'n wetenskapsgraad en 'n gevoel van onafhanklikheid. Muyanga met die week met 'n baccalaureusgraad in die wetenskappe gegradueer.
Waardigheid herstel – chemie-gegradueerde van US se reis na sukses
- Blessed Muyanga het gegradueer met 'n baccalaureusgraad in wetenskap.
- Sy benarde situasie tydens sy studies het 'n fondsinsamelingsveldtog aan die gang gesit wat meer as R180 000 vir behoeftige wetenskapstudente ingesamel het.
- Eerstejaardosent dr. Marietjie Lutz het die Wheels of Opportunity-inisiatief begin toe sy besef het dat Muyanga een van vele studente met finansiële uitdagings was.
Blessed Muyanga het in 2022 na die Universiteit Stellenbosch (US) gekom vir 'n wetenskapsgraad en 'n gevoel van onafhanklikheid. Hy het nooit gedink hy sou die inspirasie word vir 'n dosent se geldinsamelingsveldtog wat nou reeds meer as R180 000 ingesamel het om studente in nood te ondersteun nie.
Vandeesweek, net dae nadat sy eertydse wetenskapdosent, dr Marietjie Lutz, die Absa Cape Epic-fietstoer voltooi het as deel van die "Wheels of Opportunity” (WOOP)-veldtog, het Muyanga met 'n baccalaureusgraad in die wetenskappe gegradueer. Hierdie mylpaal verteenwoordig vir hom baie meer as 'n akademiese prestasie: Vir hom beteken dit "om die skande agter te laat wat my vir 'n groot deel van my lewe gevolg het".
Muyanga se sukses is ook 'n bewys van die impak van geldinsameling en ondersteuning. Daarsonder sou hy en ontelbare ander studente dalk hulle drome moes prysgee.
Muyanga, wat oorspronklik van Johannesburg afkomstig is, het by sy oom in Atlantis gebly toe hy aan die US begin studeer het. Dit was vir hom 'n uitdaging om by Stellenbosch se meer ontspanne omgewing aan te pas, en dinge het moeiliker geword toe familielede onverwags finansiële ondersteuning onttrek het. Die gereelde pendel tussen Atlantis en Stellenbosch het sy finansies uitgeput en sy gesondheid beïnvloed, wat basiese uitgawes soos huur en kos daaglikse probleme gemaak het. Hy kon ook nie sy klasgeld betaal nie.
Toe sy sien hoe Muyanga van deur tot deur gaan om hulp te soek met verblyf en etes, het Lutz ingespring om finansiering vir sy noodsaaklike behoeftes en klasgeld te verseker. Sy het besef baie studente staar soortgelyke hindernisse in die gesig. Daar en dan het sy haar voorliefde vir fietsry met 'n kreatiewe geldinsamelingsidee gekombineer.
Sy het vir die eerste WOOP-veldtog 600 km van George tot Stellenbosch per fiets afgelê en meer as R70 000 ingesamel. Die jaar daarna het sy die poging voortgesit en meer as R100 000 met die veldtog ingesamel. Vanjaar het sy en 'n vriendin, Junita Kruger, die meer as 700 km van die uitmergelende Absa Cape Epic-fietstoer as hulle geldinsamelingsmissie aangepak.
Muyanga is vol lof vir Lutz se toewyding. "My waardigheid is danksy die WOOP-veldtog herstel. Vir een keer in my lewe kon ek myself ten volle aan my studie wy sonder om oor geld bekommerd te wees." Hy erken egter laggend dat haar pogings hom nie geïnspireer het om te begin fietsry nie. "Die laaste keer wat ek fiets gery het, was dit 'n totale ramp." Hy ontspan eerder deur tyd in die natuur deur te bring, op lang wandelings te gaan, te lees en na klassieke musiek te luister.
Wanneer hy op sy reis terugkyk, skryf Muyanga sy standvastigheid ongeag sy swaarkry toe aan 'n sterk ondersteuningsnetwerk, mentors soos Lutz, en sy Katolieke geloof. Deur deursettingsvermoë, ondersteuning en vasberadenheid het hy nie net sy graad verwerf nie, maar ook sy waardigheid en hoop vir die toekoms herwin.
- Om tot Lutz se jongste WOOP-veldtog by te dra, besoek: <https://www.givengain.com/project/marietjie-raising-funds-for-stellenbosch-university-south-africa-120424>