Skip to main content
A flag ceremony celebrating cooperation between Stellenbosch University and Danish universities.
Image by: Stefan Els
Institusionele nuus Regte, oorsigbestuur en menseregte Gebeure

US en Deense afvaardiging herbedink onderrig van demokrasie

Corporate Communications
03 Maart 2026
  • Driedaagse besoek verdiep Demokrasie-leervennootskap tussen Suid-Afrika en Denemarke.
  • Dialoog omvat welsynstate, ongelykheid, jeugonbetrokkenheid en ervaringsleer.
  • Samewerking betree konsolidasiefase met planne vir mobiliteit, gesamentlike projekte en navorsing.

Toe ʼn Deense afvaardiging onlangs by die Universiteit Stellenbosch (US) aangekom het om deel te neem aan die heel eerste Globus LIV² People’s Meet: Suid-Afrika-Denemarke-demokrasieleervennootskap, het die gesprek vinnig gevorder van vriendelike gedagtewisselings na komplekse kwessies soos armoede, jeugapatie, welsynstelsels en die moeilike vraag aan die kern van die besoek: Hoe onderrig mens nou eintlik demokrasie?

Die driedaagse program is deur die US se Sentrum vir Sosiale Geregtigheid (CSJ) en die Eenheid vir Ervaringsleer in die Sentrum vir Studentelewe en -leer aan die US aangebied. 

Die Globus LIV-projek is in 2023 begin en is in 2024 deur die studente-uitruilings LIV Kohort 1 en Kohort 2 onder leiding van die Eenheid vir Ervaringsleer versterk. ʼn Konsolidasiefase is met die jongste wisselwerking bereik, met ʼn verskuiwing van interkulturele leer om die ontwikkeling van demokratiese burgerskap met planne vir gesamentlike inisiatiewe, mobiliteitsbane en navorsingsgebaseerde demokratiese leer in te sluit.

Die Deense afvaardiging het Campus Bornholm en VUC Storstrøm verteenwoordig. Dié instellings is ingebed in Denemarke se tradisie van burgerlike opvoeding en volkshoërskole vir volwasse leer. Hulle het deelgeneem aan formele leierskapsinteraksies, gestruktureerde dialoogsessies oor demokrasie en gemeenskapsgebaseerde ervarings wat teorie teen geleefde werklikheid getoets het.

Demokrasie meer as 'n abstrakte ideaal

Op die eerste dag is daar in besprekings by die CSJ ondersoek hoe demokrasie in verskillende nasionale kontekste verstaan, bevorder en beperk word. Teen die tweede dag is die dialoog, wat by die Stellenbossse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) voortgesit is, uitgebrei om senior US-leiers in te sluit.

Prof Deresh Ramjugernath, Rektor en Visekanselier, het die US se visie as ʼn navorsingsintensiewe instelling “in Afrika, met Afrika, vir Afrika” wat tot die vermensliking van pedagogie en sosiale geregtigheid verbind is, uiteengesit. 

Prof Sibusiso Moyo, Adjunk-visekanselier: Navorsing, Innovasie en Internasionalisering, en Dr Leslie van Rooi, waarnemende Dekaan van Studente, het die Leervennootskap in die US se daaglikse werksaamhede geposisioneer: die ondersteuning van eerstegenerasie-studente, die bevordering van insluiting en die voorbereiding van gegradueerdes wie se impak verder as ranglyste strek.

In een van die sessies het Deense deelnemers die konsep van Bildung ontleed – die opvoeding van die mens as geheel om kritiese bewustheid en burgerlike agentskap te ontwikkel eerder as om bloot inligting oor te dra. Hulle het ʼn volledig staatsgefinansierde stelsel beskryf wat lewenslange leer ondersteun, met digitale en hibriede modelle wat ontwerp is om deelname te verbreed.

Suid-Afrikaanse akademici en studente het openhartig gereageer en het besin oor die gaping tussen progressiewe beleidsraamwerke en werklikhede in die klaskamer wat deur ongelykheid, gebrekkige onderwys en finansiële uitsluiting gevorm word. Die gedagtewisseling was deurtastend eerder as inskiklik. Deelnemers het mekaar aangepor oor kwessies soos verteenwoordiging, vooroordeel en die moontlike gevare van die onderrig van geskiedenis vanuit net een perspektief.

Die hoogtepunt van die besoek is bereik met die laaste sessie waarin albei afvaardigings met jeugapatie geworstel het. Deense opvoeders het gepraat oor jongmense wat ondanks milddadige welsynstelsels onbetrokke voorkom. Suid-Afrikaners het polities bewuste jongmense beskryf wat uitgesluit van ekonomiese geleenthede voel. Die vraag het om die tafel bly draal: Watter soort onderwys rus burgers toe om demokrasie nie net te verstaan nie, maar om medeskeppers daarvan te wees?

Eensgesindheid oor verskille heen

Prof Thuli Madonsela, Direkteur: CSJ, het die inisiatief as baie betekenisvol beskryf. “Die besoek van ons kollegas uit Denemarke was genotvol én insiggewend,” het sy gesê. “Genotvol omdat ons gemeenskaplike terrein gevind het en daar ʼn rapport tussen ons was – mens sou sweer ons ken mekaar al ʼn ewigheid. Die insiggewende deel was om te leer dat jongmense se bekommernisse oor demokrasie ʼn wêreldwye uitdaging is.”

Sy het opgemerk dat terwyl Deense kollegas bekommerd is oor apatie in ʼn konteks van materiële sekuriteit, die Suid-Afrikaanse jeug dikwels voel dat demokrasie nog nie die grondwetlike beloftes van waardigheid en geleenthede verwesenlik het nie. Maar sy was tog hoopvol: “As ons met jongmense kommunikeer op maniere wat hulle ontmoet waar hulle is en oor hulle vrese en drome gesels, kan ons hulle betrek by gesprekke oor die medeskepping van openbare bestuurstelsels wat vir almal werk en regverdig en demokraties is.”

Rasmus Kristiansen, Vise-direkteur en Hoof van Onderwys, Besigheid en Ontwikkeling by VUC Storstrøm, het oor die diepte van die gedagtewisseling besin. “Ek is beïndruk deur die bedagsaamheid, passie en diversiteit van perspektiewe wat die voortgesette bou van demokrasie beïnvloed in ʼn land waar dit nie as vanselfsprekend aanvaar kan word op dieselfde manier as in Denemarke nie,” het hy gesê. “Dié besinnings oor historiese nalatenskappe en hulle blywende impak op die hedendaagse samelewing het ʼn diep indruk op die Deense groep gemaak. Ons sien uit daarna om hierdie samewerkende leeruitruiling voort te sit en ons Suid-Afrikaanse kollegas in Denemarke te verwelkom, waar julle Deense demokrasie in aksie by Folkemøde Bornholm sal ervaar.”

Dr Ruth Andrews, Hoof van die Eenheid vir Ervaringsleer en die organiseerder, het gesê hulle interaksie met Campus Bornholm, VUC Storstrøm en die CSJ “het ʼn seldsame ruimte geskep vir volgehoue besinning oor etiese leierskap, versoening en die verantwoordelikheid van instellings om demokratiese waardes in komplekse hedendaagse samelewings te beskerm”.

Die besoek aan die Desmond en Leah Tutu Legacy-stigting het die oortuiging versterk dat demokrasie nie selfonderhoudend is nie, maar morele moed, historiese bewustheid en doelbewuste opvoedkundige ontwerp vereis, het sy bygevoeg.

Demokrasie ter plaatse

Die program het verder as seminaarlokale gestrek. Op die derde dag het die afvaardigings deur die Kayamandi-township gestap en gesels met verteenwoordigers van die Thuma-stigting, wat deur Madonsela gestig is om demokrasie, verantwoordbaarheid en burgerlike opvoeding te bevorder. Daar was ook ʼn ontmoeting met Janet Jobson, Uitvoerende Hoof van die Desmond en Leah Tutu Legacy-stigting, wat ingestem het om verder met die Globus People’s Meet-projek saam te werk.

Hierdie interaksies het ʼn sentrale tema van die besoek uitgelig: demokrasie as geleefde praktyk eerder as abstrakte beginsel. Ervaringsmetodes, wat immersiewe simulasies en gemeenskapsgebaseerde projekte insluit, is bespreek as maniere om grondwetlike ideale en die Verenigde Nasies se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte vir 2030 in tasbare uitkomste te omskep.

Die interaksie het ʼn blywende indruk op studente gemaak. Ayabonga Hlumkeza, ʼn derdejaar-rekeningkundestudent wat aan die dialoog deelgeneem het, het die besoek as transformerend beskryf. “Ek is steeds in verwondering. Dit was ʼn seldsame en inspirerende uitruiling waar alle partye openhartig gepraat het oor hulle lande se prosesse, sterk punte en uitdagings, en almal was bereid om by die ander te leer,” het hy opgemerk.

Wat hom veral opgeval het, was die doelbewuste insluiting van jong stemme in die besprekings. “Dit was bemoedigend om te sien dat nasies soos Denemarke ook gretig is om by ons te leer,” het hy gesê. “Hierdie ervaring het my oor die sterkte van ons demokrasie gerus gestel en my hoop vir en trots op ons land versterk.”

Van dialoog tot ontwerp

Gedurende die afsluiting van die afvaardiging se besoek met ʼn toer van Babylonstoren in die Franschhoek-vallei, is daar diep oor die interaksie besin. Gespreksonderwerpe het van vergelykings na idees verskuif om die People’s Meet-model by verskillende kontekste aan te pas. Planne word nou beraam vir uitgebreide studentemobiliteit, gesamentlike beleidsvoorleggings, vergelykende navorsing en gesamentlik geskepte projekte wat sal begin met aanlyn interaksies onder leiding van opvoeders om vorm aan ervaringsleer-inisiatiewe te gee. Die kurrikulumontwerp en akademiese samewerking sal deur opvoeders van die onderskeie instellings gelei word.

Wat die US betref, strook die Leervennootskap met Visie 2040 en die verbintenis tot transformerende studente-ervarings en internasionale betrokkenheid wat in Afrika-werklikhede gewortel is. Vir die Deense instellings bied dit ʼn meer diepgaande ontmoeting met demokrasie wat deur grondwetlike beloftes en historiese regstellings gevorm is.

Een insig het oor kontekste met verskillende hulpbronne en geskiedenisse heen uitgestaan: Demokrasie kan nie veronderstel, uitgekontrakteer of as prosedure afgemaak word nie. Dit moet geleer, beoefen en voortdurend vernuwe word.

Verwante stories