Toegang tot finansiering help KMO’s oorleef – Prof Ashenafi Fanta
- Prof Ashenafi Fanta van die Stellenbosch Bestuurskool het sy intreerede op Donderdag 7 Mei 2026 gelewer.
- Hy ondersoek hoe finansiële toegang die prestasie van KMO’s beïnvloed.
- Uitbreiding van digitale infrastruktuur en kredietwaarborgskemas kan KMO-finansiering verbeter.
Prof Ashenafi Fanta van die Stellenbosch Bestuurskool in die Fakulteit Ekonomie en Bestuurswetenskappe het sy intreerede op Donderdag 7 Mei 2026 gelewer. Die titel van sy lesing was Dink nuut oor KMO-finansiering: wat werk, wat nie werk nie, en waarom dit saak maak.
Fanta het aan die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking verduidelik hoekom ʼn tekort aan finansiering ʼn groot struikelblok vir die oorlewing en groei van klein en mediumgrootte ondernemings (KMO’s) is. Hy het ook gefokus op wyses waarop die finansiering van KMO’s verbeter kan word.
Vertel ons meer oor jou navorsing en hoekom jy in hierdie spesifieke veld begin belangstel het.
My navorsing val in die domein van finansiële ekonomie, met ʼn spesifieke fokus op die rol van finansiering op ʼn makro- en mikrovlak. Op ʼn maatskappyvlak het my navorsing ten doel om die rol van finansiering in die oorlewing en groei van ondernemings te verstaan. Dit het gelei tot die ontwikkeling van ʼn reeks projekte wat lig werp op hoe maatskappye met finansiële instellings omgaan en of hul toegang sakeprestasie verhoog.
My belangstelling in hierdie onderwerp spruit uit ʼn waarneming dat ondernemersinisiatiewe wat met finansiering ondersteun word, slaag en enorme voordele buite die entrepreneur inhou. Klein ondernemings speel etlike rolle in die ekonomie, soos om werksgeleenthede vir medium- en laaggeskoolde arbeid te verskaf en om as ʼn teelaarde vir groot ondernemings te dien.
Hoe sou jy die relevansie van jou werk beskryf?
Omdat KMO’s ʼn beduidende deel van maatskappye uitmaak, sal die verligting van hul finansieringsuitdagings hulle in staat stel om ʼn deurslaggewende rol in die bekamping van werkloosheid en ongelykheid in ontwikkelende lande te speel. Insigte uit my navorsing help beleidmakers om ʼn KMO-vriendelike beleidsomgewing te ontwerp om ʼn florerende sektor te bevorder wat noodsaaklik is om verskeie maatskaplike uitdagings die hoof te bied.
Waarom staan finansiering uit as ʼn groot struikelblok vir die oorlewing en groei van KMO’s?
Finansiering is op die voorgrond weens die impak daarvan op die daaglikse bedrywighede en groei van KMO’s. Ongeag hoe goed KMO’s verskeie aspekte van hul onderneming bestuur – soos die bou van ʼn kliëntebasis of die verskaffing van ʼn herkenbare produk of diens – kan ʼn gebrek aan finansiering groot druk meebring.
ʼn Klein maatskappy wat sukkel om toegang tot genoeg finansiering te verkry sal nie in staat wees om aan sy operasionele behoeftes te voldoen nie, wat sy vermoë sal beperk om die behoeftes van sy kliënte te bevredig. Dit lei weer tot markverlies en uiteindelik tot sluiting. Eweneens sal ʼn tekort aan finansiering ʼn maatskappy se groei beperk, wat bewerkstellig sou kon word deur geleenthede aan te gryp soos wat hulle ontstaan.
KMO’s is ook hoogs kwesbaar vir skokke soos die Covid 19-pandemie. Toegang tot finansiering stel hulle in staat om aan die gang te bly deur die skok die hoof te bied.
Wat moet op grond van jou navorsing gedoen word om toegang tot finansiering vir KMO’s te verbeter?
Die verbetering van KMO-finansiering verg toewyding van die openbare sektor om die digitale infrastruktuur én kredietwaarborgskemas uit te brei, wat banke se leningsrisiko’s sal verminder. Die versterking van regulatoriese raamwerke is ewe belangrik, veral wat betref aanpassing by finansiële tegnologie-innovasies (fintech-innovasies), omdat beter regulering die beskerming van beleggers verseker en ʼn omgewing koester wat vir finansiële innovasie bevorderlik is.
Finansiële instellings moet hierdie pogings aanvul deur KMO-spesifieke finansiële produkte met laer kollateraalvereistes en buigsame terugbetalingsperiodes te ontwerp. Die integrasie van fintech-gedrewe kredietassesserings en data-analise kan help om inligting-asimmetrie te oorbrug om meer akkurate risiko-evaluerings moontlik te maak en wanbetalingskoerse te verlaag.
Hoër onderwys kan uitdagend wees. Wat hou jou gemotiveerd wanneer dinge moeilik raak?
Onderrig is die sleutel tot maatskaplike transformasie. Dit bied geleenthede vir mense om hul potensiaal te verwesenlik, met voordele wat veel verder as die studente self strek.
Wanneer dinge moeilik raak, bly ek gemotiveerd deur in gedagte te hou dat hoër onderwys nie net oor persoonlike prestasie gaan nie, maar ook oor die verkryging van die kennis, vaardighede en selfvertroue om ʼn betekenisvolle bydrae tot die samelewing te lewer. Die uitdagings is deel van die groeiproses en elke struikelblok versterk my veerkragtigheid en vasberadenheid.
Watter aspekte van jou werk geniet jy die meeste?
Ek geniet onderrig én navorsing. Onderrig stel my in staat om ʼn akademiese diskoers met my studente te voer en dit vereis dat ek op die hoogte van ontluikende kwessies in my veld bly. Bowenal is dit ʼn groot bron van vreugde om getuie van die transformasie van my studente te wees wanneer hulle danksy my klasse groei en nuwe vaardighede bemeester.
Ek geniet navorsing net so baie omdat dit my in staat stel om te verstaan wat in ʼn Afrika-konteks werk. As ʼn sosiale wetenskaplike hou ek daarvan om toestande te identifiseer wat ekonomiese verskynsels in die plaaslike konteks verklaar, wat ʼn grondslag bied vir die toepassing van teorieë wat die kontekstuele werklikheid in Afrika in ag neem.
Vertel ons iets opwindends oor jouself wat mense nie sou verwag nie.
Ek is mal daaroor om te skilder en het voorheen baie tyd daaraan bestee om beelde van heiliges te teken. By die huis het ek ʼn 32 jaar oue skildery van St Mary, wat ek voltooi het enkele weke nadat ek matriek geskryf het.
Hoe bring jy jou vrye tyd deur?
Ek speel tafeltennis met my seuns en kyk sokkerwedstryde. Ek is nie ʼn aanhanger van enige klub nie, want ek wil elke wedstryd geniet en die span ondersteun wat die beste vaar.