Suid-Afrika moet in gekonsentreerde sonkrag belê – Prof Craig McGregor
- Prof Craig McGregor van die Departement Meganiese en Megatroniese Ingenieurswese het sy intreerede op Dinsdag 19 Mei 2026 gelewer.
- Sy navorsing fokus op sontermiese energie en die toepassings daarvan, veral vir die opwekking van skoon, hernubare elektrisiteit.
- Gekonsentreerde sonkrag kan Suid-Afrika se toekomstige elektrisiteitsbehoeftes help aanspreek.
Prof Craig McGregor van die Departement Meganiese en Megatroniese Ingenieurswese in die Fakulteit Ingenieurswese het sy intreerede op Dinsdag 19 Mei 2026 gelewer. Die titel van sy lesing was Son, staal en stoorstelsels: sontermies in Suid-Afrika se energietoekoms.
McGregor, wat ook die Acwa-leerstoel in Gekonsentreerde Sonkrag beklee, het aan die Korporatiewe Kommunikasie- en Bemarkingsafdeling verduidelik hoekom Suid-Afrika in gekonsentreerde sonkrag moet belê.
Vertel ons meer oor jou navorsing en hoekom jy in hierdie spesifieke veld begin belangstel het.
My navorsing fokus op sontermiese energie en die toepassings daarvan, veral vir die opwekking van skoon, hernubare elektrisiteit. Sonstraling kan gekonsentreer word deur spieëls te gebruik om hoëtemperatuurhitte te skep, net soos mens met ʼn vergrootglas in die son kan doen. Hierdie hitte kan opgevang word, óf vir verhittingsdoeleindes óf om ʼn turbine aan te dryf en elektrisiteit op te wek. As elektrisiteit die finale produk is, word dit gekonsentreerde sonkrag of CSP genoem.
Ek was langer as 20 jaar was aan Sasol verbonde, waar ek aan die stuur gestaan het van industriële navorsing en ontwikkeling en drie tegnologieë van die konsepfase tot by kommersiële implementering geneem het. Een daarvan was die Stellio-heliostaat vir sontermiese energie. Dié heliostaat is vir Suid-Afrika ontwikkel in samewerking met ons Duitse vennote, SBP Sonne, en het die SolarPACES-innovasietoekenning gewen. Ongelukkig is Stellio nog nie in Suid-Afrika ontplooi nie, maar dit is in CSP-aanlegte van 300 megawatt (MW) in China in werking.
Daardie ervaring het my denke oor energienavorsing gerig. Suid-Afrika het die son, die nywerheid en die ingenieurstalent om om die leiding in hierdie veld te neem, maar navorsing maak net ʼn verskil as die tegnologie gebou word. Ek het in 2019 by die US aangesluit om om op die oorbrugging van hierdie gaping te fokus. My navorsing ondersoek hoe CSP in Suid-Afrikaanse toestande presteer, hoeveel daarvan plaaslik gebou kan word en wat dit kos om op skaal te ontplooi.
Hoe sou jy die relevansie van jou werk beskryf?
Suid-Afrika moet verouderende steenkoolkragstasies van 23 gigawatt (GW) teen 2042 vervang. Beurtkrag het reeds getoon watter ernstige ekonomiese skade hierdie verouderende infrastruktuur kan aanrig. Suid-Afrikaanse nywerhede is benewens elektriese energie ook baie van steenkool vir hoëtemperatuur- termiese energie afhanklik.
Nywerhede en elektrisiteitsproduksie is tesame vir meer as 80% van die land se kweekhuisgasvrystellings verantwoordelik en die grootste deel van hierdie sektor moet ook teen 2050 ontkool wees. Sontermiese energie is goed geskik vir die temperatuurbestek wat deur die meeste industriële prosesse vereis word.
Wat maak van gekonsentreerde sonkrag so ʼn lewensvatbare alternatief vir energieproduksie?
Suid-Afrika het die perfekte son vir CSP. Daar is net een plek in die wêreld met heelwat beter son as die Noord-Kaap: die Atacama-woestyn in Chili. Spanje en China het elk CSP van sowat 2 GW ontplooi, en China beplan om 15 GW teen 2030 te bereik. Ons sonkragbronne is aansienlik beter as enige van hulle sʼn.
Watter voordele bied gekonsentreerde sonkrag bo konvensionele sonkragpanele?
Anders as konvensionele sonkragpanele (PV) sluit CSP energieberging as deel van die tegnologie in. In CSP behels dít termiese energieberging, wat ongelooflik goedkoop is. Dit is gevolglik moontlik om daaglikse berging in te sluit, wat beteken dat CSP-aanlegte elektrisiteit 24/7 kan produseer, terwyl konvensionele sonkragpanele se produksie ophou sodra die son sak. Dit beteken dat CSP dieselfde rol as kernkrag kan speel, maar aansienlik minder kos, vinniger is om te bou en nie afval- en veiligheidsprobleme het nie.
Hoeom het Suid-Afrika opgehou om CSP te koop?
CSP is histories op grond van koste met PV vergelyk. Dís ʼn fout, want al is CSP en PV albei sonkragtegnologieë, sluit CSP energieberging in. Die gepaste vergelyking is CSP teenoor PV mét battery-energieberging. CSP bly aansienlik goedkoper as appels met appels vergelyk word.
Die beleidsbeplanners het in die strik geval om CSP direk met PV te vergelyk in plaas van met PV mét batterye – die klassieke appels-met-pere-vergelyking. Hulle het dit nie eens as ʼn opsie in hul studies vir die Geïntegreerde Hulpbronplan (IRP) ingesluit nie.
Wat moet ons doen om CSP op groot skaal te bou?
Die eerste stap is om die uitsluiting van CSP van die IRP te stop. CSP moet toegelaat word om op gelyke voet met kernkrag en PV mét batterye mee te ding. Die tweede is om aan CSP dieselfde vlak van lokaliseringsondersteuning te gee wat hierdie ander hernubare tegnologieë geniet.
Anders as konvensionele batterye en sonpanele, waar Suid-Afrika teen die Chinese moet meeding, word CSP-aanlegte van staal, glas en beton gebou. Dis ʼn tegnologie wat by ons industriële basis pas. Suid-Afrika het ʼn werklike geleentheid om die voortou in die ontwikkeling en ontplooiing van dié tegnologie te neem.
Hoër onderwys kan uitdagend wees. Wat hou jou gemotiveerd wanneer dinge moeilik raak?
Ek maak ʼn verskil, veral in ons land, deur te help om die volgende generasie ingenieurs op te lei – diegene wat die harde werk vir die oorgang van ons energiestelsel sal moet doen.
Watter aspekte van jou werk geniet jy die meeste?
Ek geniet die mentorskap baie, veral van nagraadse studente met wie mens individueel en dwarsdeur hul studies saamwerk. Ek kan my nywerheidservaring na die universiteitsomgewing bring en dit wat hulle leer, aan werklike praktyk koppel. En ek geniet die analitiese werk self regtig.
Vertel ons iets opwindends oor jouself wat mense nie sou verwag nie.
Daar is niks beter as ʼn bordspelsessie oor ʼn naweek saam met vriende nie. Settlers of Catan, Carcassonne, daardie soort ding. Daar is iets bevredigends aan ʼn strategiespeletjie wat oor ʼn paar uur aan ʼn tafel afspeel, met jou mededingers wat voor jou sit.
Hoe bring jy jou vrye tyd deur?
Ek geniet dit om te lees, na oudioboeke te luister, tuin te maak en rekenaarspeletjies te speel.