Studente steun sosiale impak by SBSIT se eerste betrokkenheidskonferensie
- Die US se eerste Studentebetrokkenheidskonferensie het studente, personeel en gemeenskapsvennote bymekaargebring om die betekenis van "in diens van die samelewing" te wees, te ondersoek.
- Sprekers het beklemtoon dat akademiese sukses gekoppel moet word aan sosiale verantwoordelikheid en aktiewe burgerskap.
- Studentestemme en gemeenskapsvennote het die belangrikheid van volgehoue, betekenisvolle betrokkenheid in die aanspreek van ongelykheid en die bevordering van sosiale impak beklemtoon.
Dit is nie aldag dat jy ’n universiteitslokaal so vol gepak sien om agtuur op ’n Saterdagoggend nie, veral nie met studente wat graag oor gemeenskapsbetrokkenheid wil praat nie. “Dit moet regtig vir julle saak maak,” het die Rektor geskerts, en die toon aangegee vir ’n dag gerig op doelwitte, refleksie en aksie.
Studente, personeel en gemeenskapsvennote het op Saterdag 11 April 2026 in die Universiteit Stellenbosch (US) se Vroueverenigingsaal by die Neelsie byeengekom vir die Eerste Studentebetrokkenheidskonferensie, aangebied deur die Sentrum vir die Bevordering van Sosiale Impak en Transformasie (SBSIT), in samewerking met die Sentrum vir Studentelewe en -leer (SSLL) en die Studenteraad. Die hoofgedagte was duidelik: die betekenis van “in diens van die samelewing” wees en hoe studente dit in hul daaglikse lewe kan toepas.
Met die programopening het die SBSIT-direkteur, dr Zethu Mkhize, gesê dit is ’n voorreg om ’n hoofspreker bekend te stel wat hom tot die bevordering van sosiale impak aan die US verbind het. Dié verbintenis het die kern van die dag gevorm.
Diens aan die samelewing deel van die studente-ervaring
In sy programrede het die Rektor en Visekanselier, prof Deresh Ramjugernath, benadruk dat die idee om “in diens van die samelewing” te wees, die spil van die Universiteit se doelstelling vorm. Hy sê akademiese uitnemendheid bly belangrik, maar dit kan nie in isolasie bestaan nie. Die kennis wat studente opdoen, die vaardighede wat hulle ontwikkel, en die geleenthede wat hulle ontvang, moet eindelik verder as persoonlike sukses strek en sinvol tot die samelewing bydra.
Hy het dit beklemtoon dat in ’n land soos Suid-Afrika, waar ongelykheid een van die dringendste uitdagings bly, die verantwoordelikheid om verandering te skep nie net by die regering kan berus nie. “Dit is elkeen van ons in die samelewing wat ’n rol moet speel,” het hy gesê en dit benadruk dat studente, as opkomende gegradueerdes, ’n kritieke rol in die vorming van ’n billiker toekoms behoort te speel.
Ramjugernath het ook daarop gewys dat die realiteite van ongelykheid nie ver of abstrak is nie, maar in die gemeenskappe om die Universiteit sigbaar is. Hy het benadruk dat dit die oproep tot aksie gevolglik nog meer dringend en relevant maak. Gemeenskapsbetrokkenheid is nie ’n opsionele ekstra nie, maar ’n noodsaaklike deel van sowel persoonlike ontwikkeling as sosiale verantwoordelikheid.
Die universiteitservaring moet verder as tegniese kennis strek en eerder daarop toegespits wees om goed afgeronde US gegradueerdes te ontwikkel wat ook betrokke burgers is. Dit sluit in die leer wat binne én buite die klaskamer plaasvind, deur akademiese werk, ko-kurrikulêre aktiwiteite, en direkte betrokkenheid in die gemeenskappe. “Onderrig gaan nie net oor persoonlike prestasie nie, dit gaan oor openbare bydrae,” het Ramjugernath gesê en studente aangespoor om hul verantwoordelikheid tot terugploeg te erken en die geleenthede te gebruik om ander op te hef.
Van bewusmaking tot aksie
Die boodskap het by vele in die lokaal aanklank gevind, veral tydens ’n sessie gelei deur die Stellenbosse alumnus dr Ricardo Smart. Hy het oor sy reis van Blackheath tot op universiteit gepraat en die impak van klein aksies uitgelig. ’n Onderwyser wat eens vir sy universiteitsaansoek betaal het, het ’n behoefte aangewakker om terug te ploeg. Daardie behoefte het gegroei tot ’n gemeenskapsinisiatief wat leerders met wiskunde ondersteun. “Die impak wat jy nou maak, kan jy dalk vergeet, maar die lewens wat jy aanraak, sal jy nooit vergeet nie,” het hy gesê.
Studentestemme het ’n sentrale rol deur die konferensie heen ingeneem. Tydens ’n bespreking gefasiliteer deur die bestuurder vir leierskap, diversiteit en insluiting by die SSLL, Yeki Mosomothane, het studente besin oor hoe hulle gemeenskapsbetrokkenheid in hul eie lewe ervaar. Volgens een student was dit “iets wat ons buite onsself doen,” terwyl ’n ander erken het dat hulle ingesteldheid ná die Rektor se toespraak verander het en die besef by hulle opgekom het, “Dit gaan nie net daaroor om tuis terug te gee nie, dit gaan oor die gemeenskap waar ek nou is.”
Ander het gepraat oor die realiteite waarmee studente te kampe het. Om ’n balans tussen akademiese druk en gemeenskapsbetrokkenheid te vind is nie altyd maklik nie, maar vele het saamgestem dat selfs klein bydraes saak maak. “Jy deel die bietjie wat jy het,” het een student gesê en skenkingsveldtogte en uitreikpogings beskryf wat steun aan nabygeleë gemeenskappe verleen.
’n Tweede paneel gelei deur die koördineerder vir eerstejaarstudente-ervarings, dr Joy Petersen, het op Stellenbosch-studente gekonsentreer en veral persoonlike groei en voorspraak bekyk. Een spreker het oor die aankoms op universiteit en ’n gerigtheid op die akademie besin, voordat die belang van breër betrokkenheid algaande posgevat het. “Ek het hierheen gekom vir my graad… maar ek het besef ek moet meer doen,” het hulle gesê. ’n Ander persoon het studente aangemoedig om inisiatief te neem: “Neem dinge in jou eie hande… verstaan jou ‘hoekom’.”
Die belang van konsekwentheid wat gemeenskapswerk betref is ook uitgelig. Een lid van die gehoor het opgemerk dat korttermynbetrokkenheid soms meer skade as goed kan doen.
Studente aanvaar die uitdaging
Die laaste sessie, gelei deur die kluster-onderrigkoördineerder by die SSLL, Ayanda Mlatsha, het gemeenskapsorganisasies byeen gebring wat nou met die US saamwerk. Hulle stories het die uitdagings en die voordele van langtermyn-betrokkenheid weerspieël. Een spreker het vertel hulle reis is oor tyd gevorm: “Dit was nie een oomblik nie… dit was baie oomblikke wat my laat besef het dit is my doel.” Nog een het verwys na die emosionele lading van gemeenskapswerk, veral wanneer ervarings van swaarkry ter sprake kom. “Daar was so ’n behoefte… dit was ’n keerpunt om te weet dat ek meer moet doen,” het hulle gesê.
Die bestuurder vir betrokke burgerskap by die SBSIT, Michelle Pieters, het geleenthede vir studentebetrokkenheid uitgelig en na beskikbare gestruktureerde programme verwys vir studente wat in vrywilligerswerk en leierskap in sosiale impak belangstel. Studente is aangemoedig om die eerste stap te neem en hulle tot die proses te verbind. Pieters het afgesluit deur te sê, “Jy weet nie waaroor vrywilligerswerk gaan totdat jy die gevoel kry nie; maak dit vandag die tyd.”
Teen die einde van die konferensie was die energie in die lokaal steeds voelbaar. Wat as ’n eenvoudige waarneming oor ’n stampvol lokaal op ’n Saterdagoggend begin het, het tot iets meer beduidend ontwikkel – ’n herinnering dat studente bereid is om op te daag, betrokke te raak, en verantwoordelikheid vir die wêreld om hulle te neem.