Dr Panashe Chigumadzi, ’n geskiedkundige en skrywer, was die spreker by die Universiteit Stellenbosch se 8ste jaarlikse Afrikadag-lesing.
‘ ’n Misdaad vergaan nie’: Afrikadag-lesing vra vir radikale slawerny-reparasies
- Dr Panashe Chigumadzi, ’n geskiedkundige en skrywer, was die spreker by die Universiteit Stellenbosch se 8ste jaarlikse Afrikadag-lesing.
- Chigumadzi dien as rapporteur vir die Afrika-Unie se komitee van kenners ten opsigte van reparasies vir rasgebaseerde besit-slawerny, kolonialisme en apartheid.
- Afrikadag, wat jaarliks op 25 Mei gevier word, gedenk die stigting van die Organisasie vir Afrika-eenheid (OAE) in 1963.
Die slawerny van swart Afrikane was ’n “wêreldvernietigende misdaad” wat vandag steeds wêreldwye ongelykheid, soewereiniteit en mag vorm – en die tyd is nóú ryp om die blywende skade daarvan te herstel.
Dit was die sentrale betoog van die geskiedkundige en skrywer dr Panashe Chigumadzi Woensdagaand (27 Mei 2026) in die Universiteit Stellenbosch (US) se 8ste jaarlikse Afrikadag-lesing.
Chigumadzi het voortgebou op die Nobelpryswenner Toni Morrison se 1992-waarneming dat slawerny “die wêreld middeldeur gebreek het”, en aangevoer dat slawerny, kolonialisme en apartheid nie as afsonderlike historiese episodes beskou moet word nie, maar as deel van ’n enkele, blywende struktuur wat die moderne wêreld vorm.
In ’n toespraak wat politieke filosofie, Afrika-intellektuele tradisies, die diskoers oor reparasies en historiese geheue saamgesnoer het, het Chigumadzi die gehoor uitgedaag om opnuut na ubuntu, geregtigheid en Afrika se plek in die moderne wêreld te kyk.
Chigumadzi is die skrywer van These Bones Will Rise Again, en skryf tans ’n nuwe werk, The World is Dead: Ubuntu as an ethics of war and conquest under the 1779-1879 Wars of Dispossession. Sy is ook ’n professor in Afrikageskiedenis aan die Brandeis-Universiteit in die Verenigde State.
‘Grootste misdaad’
Sy dien as rapporteur vir die Afrika-Unie se komitee van kenners ten opsigte van reparasies vir rasgebaseerde besit-slawerny, kolonialisme en apartheid. Sy het ook die AU se raamwerk vir herstel, A Crime Does Not Rot: 1441 to Present, gekonseptualiseer en opgestel, wat die strukturele gronde voorsien het vir Ghana se landmerkresolusie wat op 25 Maart 2026 deur die Verenigde Nasies aanvaar is en wat die handel in verslaafde Afrika-boorlinge en die gerassifiseerde verslawing van mense tot “die grootste misdaad teen die mensdom” verklaar het.
Die resolusie verbind slawerny uitdruklik met voortgesette wêreldwye ongelykhede en doen ’n beroep op “herstellende geregtigheid” – insluitend formele verskonings, die teruggawe van gesteelde kulturele eiendom, vergoeding, rehabilitasie, institusionele hervorming en waarborge van nie-herhaling.
In haar lesing by die US Museum het Chigumadzi aangevoer dat die huidige wêreldorde nie losgemaak kan word van die geskiedenis van slawerny en onteiening wat dit gevorm het nie – en dat die skuld wat oor 600 jaar opgebou is, steeds onbetaald bly.
Hoog tyd vir reparasies
Vir haar vereis die omvang en blywende aard van hierdie geskiedenis reparasies en wat sy “radikale herverdeling” noem, wat daarop gemik is om strukturele onteiening oor generasies heen te takel.
“ ’n Misdaad vergaan nie (A crime does not rot),” het sy herhaaldelik regdeur die lesing gesê. Die frase verskyn ook in die AU se reparasieraamwerk en die daaropvolgende VN-resolusie, wat bevestig dat daar geen verjaringstermyn vir misdade teen die mensdom is nie.
Chigumadzi het direkte verbande getrek tussen vergoeding uit die slawerny-era en die opgaar van rykdom aan die Kaap.
Sy het opgemerk dat toe slawerny in 1834 in die Britse Ryk afgeskaf is, vergoeding nie aan die verslaafde mense betaal is nie, maar aan slawe-eienaars vir die verlies van hul “eiendom”.
“Ons praat baie selde oor die reparasies wat in werklikheid aan die slawe-eienaars in hierdie land betaal is,” het sy gesê.
Volgens Chigumadzi het die Britse Ryk £20 miljoen aan slawe-eienaars oor die ryk heen betaal nadat slawerny in 1834 afgeskaf is – nagenoeg £2,7 miljard in vandag se waarde en destyds sowat 40% van die Britse nasionale staatskas.
Sy het opgemerk dat die Kaapkolonie meer as £1,2 miljoen van daardie bedrag ontvang het – byna R4 miljard in vandag se waarde – met Stellenbosch as een van die grootste begunstigdes vanweë sy omvangryke slawerny-ekonomie.
Die Stellenbosse distrik, het sy gesê, het met die vrystelling in 1834 altesaam 8 452 slaafgemaakte mense gehad – die tweede meeste naas Kaapstad.
Sy het aangevoer dat hierdie kapitaal gehelp het om die grondslag te lê vir die blywende konsentrasie van rykdom in die Wes-Kaap, insluitend finansiële en besigheidsnetwerke wat met Stellenbosse kapitaal geassosieer word.
‘Radikale ubuntu’ teruggeëis
Een van die lesing se kernintervensies was Chigumadzi se uitdaging aan populêre opvattings oor ubuntu.
Sy het aangevoer dat hierdie konsep in post-apartheid Suid-Afrika dikwels verwater is tot ’n taal van geïndividualiseerde en interpersoonlike vergifnis, losgemaak van die historiese realiteite van verowering, onteiening en strukturele ongelykheid.
Chigumadzi het ’n deel van hierdie verskuiwing teruggevoer na wat sy beskryf het as die “foutiewe vertaling” van ubuntu deur die Keniaanse teoloog John Mbiti in sy invloedryke 1969-boek African Religions and Philosophy, waarin hy ubuntu geformuleer het as: “Ek is omdat ons is”.
Volgens haar het hy dit gedoen as ’n Afrika-weergawe van die Franse filosoof René Descartes se bekende stelling “Ek dink, daarom is ek”, en het aangevoer dat die moderne Westerse konsep van die outonome individu juis sy verskyning gemaak het hand aan hand met die uitbreiding van gerassifiseerde slawerny waarin mense as roerende eiendom beskou is.
“Alhoewel die volheid van die Afrika-metafisiese wêreld nie sonder verlies in Engels vertaal kan word nie, word die isiNtu-spreuk ‘Umuntu ngumuntu ngabantu’ meer akkuraat weergegee as ‘ ’n Mens is ’n mens deur ander mense’,” het sy gesê.
Deur te put uit mondelinge tradisies en meer as 500 tekste in isiXhosa, isiZulu, Setswana en Sesotho wat uit 19de-eeuse swart koerante herwin is, het Chigumadzi aangevoer dat ubuntu nie bloot ’n morele beroep op harmonie was nie, maar ’n etiek wat omgaan met soewereiniteit, aanspreeklikheid en kollektiewe verpligting.
Dit is “die radikale ubuntu wat ons vanaand wil terugeis,” het sy gesê.
Suid-Afrika steeds ‘afsonderlik’ van res van Afrika
Chigumadzi het aangevoer dat apartheid en setlaarskolonialisme histories gepoog het om die res van die vasteland polities sowel as sielkundig af te sonder.
Sy het nie die huidige opvlamming van xenofobiese geweld in Suid-Afrika eksplisiet tydens haar insette aangeroer nie, maar in ’n onderhoud ná die tyd was sy duidelik: “Dit is Afrofobie – ’n eeue-oue vrees vir en haat teen swart mense. Dit is as’t ware die bekende ‘swartgevaar’-logika.”
Chigumadzi het sentimente teen migrante verbind met die langer geskiedenis van rasseuitsluiting, paswette en wat sy beskryf het as die historiese projek om Suid-Afrika as ’n “witmansland” te konstrueer.
“Vir swart mense was daar die opvatting dat jy onregmatig op wit eiendom oortree,” het sy gesê.
Hoewel demokrasie volgens haar formele insluiting in die nasiestaat gebring het, het hardnekkige ongelykheid en beperkte ekonomiese herverdeling ná 1994 mededinging oor skaars hulpbronne verskerp.
In die afwesigheid van strukturele vergoeding en grondherverdeling, “klou mense vas aan daardie handjievol krummels wat burgerskap binne die nasiestaat hulle bied,” het sy gesê.
“Wanneer mense voel hulle kry nie die werklike ekonomiese voordele van burgerskap nie, word swart ‘buitelandse burgers’ maklike sondebokke.”
‘Konfronteer ongemaklike waarhede’
Prof Pumla Gobodo-Madikizela, direkteur van AVReQ, het ’n bespreking met die gehoor gefasiliteer. Sy het Chigumadzi se “diepgaande historiese duidelikheid” geprys en gesê: “Jy het dit op so ’n kragtige manier onder ons aandag gebring.”
In sy opmerkings het die US se Rektor en Visekanselier, prof Deresh Ramjugernath, die lesing beskryf as deel van die Universiteit se verbintenis tot die skep van ruimtes vir moeilike dog noodsaaklike besprekings.
“Dit is nie maklike gesprekke nie. Dit vereis ’n bereidwilligheid om ongemaklike waarhede te konfronteer,” het hy gesê.
“Maar as universiteite ernstig is oor hul rol in die samelewing, is dit presies die gesprekke wat ons bereid moet wees om aan te bied en by betrokke te raak.”
Geleentheid om die wêreld te herskep
Vir Chigumadzi strek die belang van hierdie besprekings veel verder as blote nabetragting.
As rasgebaseerde slawerny ’n “wêreldvernietigende misdaad” was, het sy aangevoer, moet strukturele vergoeding ’n “wêreldskeppende projek” word.
“En dit is dus die geleentheid wat voor ons lê,” het sy afgesluit: “Om fundamenteel te herbesin oor watter soort wêreld moontlik is.”
*Afrikadag, wat jaarliks op 25 Mei gevier word, gedenk die stigting van die Organisasie vir Afrika-eenheid (OAE) in 1963 – ’n mylpaal in die kontinent se bevrydings- en eenheidstryd. In 2002 het die OAE in die Afrika-unie (AU) ontwikkel, wat die kontinent se voortgesette verbintenis tot integrasie, ontwikkeling en gesamentlike vooruitgang weerspieël.
Die US se 8ste jaarlikse Afrikadag-lesing is deur die Rektor en Visekanselier aangebied en gekoördineer deur Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking in die Afdeling Bevordering, Belanghebber-interaksie en Kommunikasie, in samewerking met die Sentrum vir die Bestudering van die Nagevolge van Geweld en die Strewe na Herstel (AVReQ), en die Sentrum vir die Bevordering van Sosiale Impak en Transformasie.
*Desmond Thompson is ’n vryskutjoernalis.