By die bekendstelling van die Eenheidsbeweging Versameling by die Universiteit Stellenbosch Biblioteek, op 22 Mei 2026, van links na regs: Basil Brown, Leslie van Rooi, Ellen Tise, Pakama Ncume, Shaun Viljoen, Allan Zinn, Mickey Titus, Felicity Titus, Nico Koopman, Lungisile Ntsebeza, Mimi Seyffert-Wirth, Lincoln Jacobs en Denise Zinn.
Nuwe argief by die US stel ’n verwaarloosde bevrydingsgeskiedenis in die kollig
- Die Universiteit Stellenbosch (US) het die Eenheidsbeweging Versameling bekendgestel. Dit bewaar ’n betekenisvolle bevrydingsbeweging-argief.
- Die Versameling verenig meer as 80 jaar se politieke en intellektuele geskiedenis.
- Die argief ondersteun werksaamhede om die US Biblioteek se historiese en argiefmateriaal te diversifiseer.
’n Belangrike argief wat een van Suid-Afrika se invloedrykste bevrydingstradisies – wat nietemin dikwels verwaarloos word – dokumenteer, het ’n tuiste by die US gevind. Sprekers by die bekendstelling het dit beskryf as histories betekenisvol sowel as simbolies gelaai.
Die Versameling, wat op 22 Mei by die US Biblioteek bekendgestel is, bring materiaal vanoor dekades bymekaar wat verband hou met die Non-European Unity Movement (NEUM) en die opvolger daarvan, die New Unity Movement (NUM).
Dit sluit materiaal van verbandhoudende organisasies in, soos die Anti-CAD (Coloured Affairs Department) Movement, die Teachers’ League of South Africa (TLSA), die All-African Convention (AAC) en die African Peoples’ Democratic Union of Southern Africa (APDUSA).
Die Versameling bevat raar dokumente, korrespondensie, grondwette, notules, beleidsdokumente, kongresverrigtinge, nuusbriewe, foto’s en koerante wat meer as 80 jaar se politieke en intellektuele geskiedenis dek.
“’n Geskenk aan die US”
Die Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel aan die US, prof Nico Koopman, het die Versameling in sy verwelkomingswoord as “’n geskenk” aan die Universiteit beskryf.
Hoewel hy die instelling se historiese rol in die apartheidsideologie erken het, het hy ook geredeneer dat die US besig is om sigself te herskep. “Hierdie universiteit was moontlik die mees prominente intellektuele tuiste van apartheid. Maar ons is op ’n reis om werklik een van die intellektuele tuistes van ’n demokratiese Suid-Afrika te raak,” het hy verklaar.
Hy het bygevoeg dat die argief die US se aspirasie sou uitbou om “’n gemeenskap te help vorm waar waardigheid, geregtigheid, heling, vryheid en gelykheid heers”.
Daardie visie sou later weerklank vind in ’n opmerking deur NUM-president dr Basil Brown – dat dié beweging se slagspreuk, “Ons bou ’n nasie”, die NUM se verbintenis tot sosiale solidariteit verwoord.
Spesiale Versamelings uitgebrei
Die bekendstelling was deel van ’n breër inisiatief deur die US Biblioteek- en Inligtingsdiens om hulle argiefmateriaal te diversifiseer.
Volgens Senior Direkteur Ellen Tise was die Eenheidsbeweging “’n intellektueel kragtige en nierassige weerstandsbeweging” waarvan die invloed dikwels onderskat is. “Hoewel dit dalk minder openbare aandag as sommige ander bevrydingsbewegings getrek het, het die idees [van dié beweging] geslagte aktiviste, onderwysers en politieke denkers beïnvloed,” het sy bygevoeg.
Die Versameling, wat in 2023 aan die US geskenk is en oor die afgelope twee jaar gekatalogiseer is, is die jongste toevoeging tot die Biblioteek se afdeling Spesiale Versamelings, wat ander betekenisvolle versamelings politieke manuskripte huisves.
Direkteur: Vakkundige Kommunikasie en Bemarking Mimi Seyffert-Wirth het genoem dat die Eenheidsbeweging Versameling nou sy aan sy met die Frederik van Zyl Slabbert Versameling, die Instituut vir Demokratiese Alternatiewe in Suid-Afrika (IDASA) Versameling en die Versameling oor die Suid-Afrikaanse Skuldkrisis (1985-1986) staan.
Tydlyn van die Eenheidsbeweging
Dr Brown, wat die hoofspreker was, het die geskiedenis van die Eenheidsbeweging uitgestip.
- 1943: Non-European Unity Movement (NEUM) word in Bloemfontein gestig in antwoord op ’n “oproep tot eenheid” deur die All African Convention (AAC).
- 1958: Groot verdeeldheid ontstaan binne die NEUM, wat tot mededingende faksies lei.
- 1960-1962: NEUM-leiers en hulle volgelinge word onder onderdrukking tydens apartheid verban. Die Eenheidsbeweging verskuif deels ondergronds en gaan deels in ballingskap.
- 1960’s-1980’s: Die idees van die Eenheidsbeweging oorleef in die vorm van onderwysersverenigings, studiegroepe, burgerlike liggame en nierassige sportstrukture soos SACOS (’n nasionale raad vir sport).
- 1985: Mededingende faksies begrawe die strydbyl en stig die New Unity Movement (NUM) as opvolger in die tradisie van die Eenheidsbeweging.
- 1994 tot nou: Demokratiese verkiesings het talle mense laat glo dat bevryding behaal is, maar die NUM se werksaamhede duur voort as buiteparlementêre beweging, want hulle is van mening dat politieke vryheid onvolledig is sonder sosio-ekonomiese geregtigheid.
Brown beskryf nierassigheid as die Eenheidsbeweging se “belangrikste” beginsel: “Dit beteken om te erken dat daar net een ras is – die menslike ras.”
Felicity Titus, afgetrede onderwyser en voormalige opleier van onderwysers, het gesê dat die NUM volhard in “die oortuiging dat ’n ander soort samelewing moontlik is” ondanks voortgesette ongelykheid en sosiale fragmentering.
Oproeping en verswyging
Volgens prof Crain Soudien, sosioloog en voormalige viserektor by die Universiteit van Kaapstad, het oorheersende bevrydingsnarratiewe die Eenheidsbeweging se rol in die Suid-Afrikaanse geskiedenis uitgeskuif na die kantlyn:
“Gedurende die 1940’s en tot diep in die 1950’s was die Eenheidsbeweging ’n ewe beduidende rolspeler in die besinning oor Suid-Afrika se toekoms en die stryd as wat die ANC (African National Congress) was.”
Maar vandag, “as jy daardie oorheersende narratiewe gaan lees, dan is daar volkome stilswye – dis asof dit dood geswyg word,” voeg hy by.
“Betwiste ruimtes”
Die argiefprojek het ontstaan uit die vasberadenheid om die Eenheidsbeweging se eie historiese rekord te bewaar.
“Ons het toenemend bekommerd geraak dat die Eenheidsbeweging se geskiedenis óf swak geboekstaaf óf verdraai is,” vertel Brown.
Daar is ook by ander Suid-Afrikaanse universiteite argiewe oor die Eenheidsbeweging, onder meer Kaapstad, Wits (Witwatersrand), Fort Hare, NMU (Nelson Mandela) en UWK (Wes-Kaapland).
NUM-sekretaris Mickey Titus beskryf argiewe as “betwiste ruimtes”.
“Dinge verander”
“Aanvanklik het ons nie destyds vir Stellenbosch genader nie, gegewe hierdie universiteit se historiese verbintenisse,” verduidelik Brown, “maar dinge verander”.
Die tema van verandering het deur die hele aand geloop.
Prof Lungisile Ntsebeza, emeritusprofessor in sosiologie en Afrikastudies aan die Universiteit van Kaapstad, het oor sy eie verhouding met die US besin.
As jongman is hy in die Oos-Kaap in hegtenis geneem omdat hy marxistiese materiaal gelees het, waarvoor hy vier jaar tronkstraf ingevolge die Wet op die Onderdrukking van Kommunisme uitgedien het. Na sy vrylating is hy deur die US aangetrek omdat die Departement Politieke Filosofie een van weinig plekke was waar intellektuele werk van daardie aard op daardie tydstip moontlik was.
“Moet dit nie vergeet nie,” het hy in reaksie op prof Koopman se opmerking oor die US se voormalige verbintenisse met apartheid gesê. “Julle het ook mense soos Johan Degenaar en André du Toit en, later, Andrew Nash gehad.”
“Kwaai move”
Agter die skerms het Allan Zinn ’n leeueaandeel in die koördinering van die Eenheidsbeweging-argief gehad. Hy het verduidelik dat die projek oor ongeveer vyf jaar ontvou het.
Die besluit om die argief by die US te huisves het voortgevloei uit praktiese gesprekke oor bewaringskapasiteit, toeganklikheid en argiefrisiko.
“Ellen Tise het dit gesnap,” sê Zinn. “Sy het verstaan hoe belangrik die nasionale projek is wat betref die argiewe en die kapasiteit waaroor die Universiteit Stellenbosch beskik.”
Marcus Solomon, ’n veteraanlid van die Eenheidsbeweging wat saam met Neville Alexander op Robbeneiland aangehou is, het gespot dat ongeloof sy eerste reaksie was toe hy hoor dat die argief by die US gehuisves sou word:
“Die Eenheidsbeweging kom Stellenbosch toe? Jô! Maar ek dink dis ’n kwaai move.”
Zinn sê die US verstaan dat universiteite “openbare bates” is wat tot diens van “al die mense” moet wees.
Volgens Brown is die versameling by Stellenbosch nou “die grootste deponering wat ons tot dusver gemaak het”, en dit sal hopelik aanhou groei namate meer materiaal ontdek en bygevoeg word.
Versteek in die dakspasie
Hy sê dit het uit die argiefprojek duidelik geraak dat groot hoeveelhede waardevolle materiaal moontlik oor die dekades verlore gegaan het. Gelukkig was daar ’n paar onverwagte ontdekkings.
Met ’n gebaar na prof Shaun Viljoen, wat die aand se paneelbespreking gemodereer het, het Brown vertel hoe dié afgetrede US-akademikus in Engels in die dakspasie van sy oorlede ouers se huis afgekom het op “’n ware skatkis” versteekte Eenheidsbeweging-dokumente.
Viljoen is die kleinseun van RE Viljoen, wat as tesourier van die NEUM en adjunkpresident van Anti-CAD gedien het. Die dokumente is dekades gelede vir die Veiligheidspolisie weggesteek en het sedertdien sekere aspekte van die Beweging se geskiedenis help opklaar.
“Die les uit dit alles,” het Brown verklaar, “is dat organisasies aktief daaraan moet werk om hulle rekords en argiefmateriaal te bewaar.
“Daarom is ons dankbaar teenoor die Universiteit Stellenbosch dat hulle dit moontlik gemaak het, en hoop ons dat hierdie dokumente uiteindelik gedigitaliseer sal word, sodat hulle vir ’n nuwe geslag akademici en politieke aktiviste toeganklik is.”
Vir toekomstige geslagte
Soudien sê dat jonger akademici wat meer oor die Eenheidsbeweging leer, dikwels verras is oor hoe min hulle vooraf daarmee te doen gekry het.
“Hulle sal vra: ‘Hoekom het ek nie hiervan geweet nie?’ Daar is nog baie werk te doen.”
Die US-bibliotekaris vir Spesiale Versamelings, Pakama Ncume, het die afgelope twee jaar omvattend met die Versameling gewerk. “Die geskiedenis vertoon dikwels deur gapings en stiltes. Hierdie versameling verteenwoordig ’n belangrike rekord van moed, toewyding en politieke visie vir toekomstige geslagte.”
Gedigte deur die ontslape Victor Wessels, een van die Eenheidsbeweging se toonaangewende literêre stemme, is ook gedurende die verrigtinge voorgelees. Leigh Ross het “Tyrants fear the whispered word”, uit die bundel Testimony, voorgelees. Die slotreëls van die gedig lui:
Let them tremble
Let them fear
For while as yet we stutter
We’ll soon learn how to speak!
Klik hier vir ’n video-opname van die bekendstelling.
*Desmond Thompson is ’n vryskutjoernalis.