Skip to main content
A picture of the entrance to Robben Island.
Image by: Adobe Stock

Politieke gevangenes oorleef haglike omstandighede op Robbeneiland deur middel van sport.

Persverklaring

Sport hou hoop aan die lewe vir gevangenes op Robbeneiland – PhD-studie

Alec Basson
16 Maart 2026
  • Politieke gevangenes het verskeie sportsoorte georganiseer.
  • Sport was ʼn instrument van weerstand, dissipline en solidariteit.
  • Sport het politieke, intellektuele en generasieverskille help oorbrug.

Robbeneiland word meestal met die lyding, brutaliteit en isolasie geassosieer wat deur politieke gevangenes verduur is wat teen apartheid geveg het. Wat dikwels oor die hoof gesien word, is die rol wat gevangenes gespeel het om sport te organiseer en hoe dit ʼn instrument vir weerstand en volgehoue hoop geword het en hulle vir vryheid en leierskap voorberei het.

“Politieke gevangenes het nie net sport vir ontspanning gebruik nie, maar ook om hulleself te organiseer, mekaar op te voed en ʼn gevoel van orde in ʼn strawwe stelsel van streng beheer te skep. Sport het die geleentheid vir fisiese ontlading en emosionele uitdrukking gebied, asook om die sielkundige spanning van isolasie, eentonigheid en harde arbeid verlig,” sê dr Vanessa Mitchell, Museum- en Erfenisonderwyskoördineerder by die Robbeneiland-museum.

Sy het onlangs haar doktorsgraad in Sportwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch verwerf vir haar navorsing oor hoe gevangenes op die eiland hulle omgewing aktief gevorm het deur sport en ontspanning te organiseer.

Volgens Mitchell het sport ʼn instrument van weerstand, dissipline en solidariteit in ʼn onderdrukkende omgewing geword. “Dit was ʼn manier vir gevangenes om iets betekenisvol te skep wat hulle in staat gestel het om bo hulle onmiddellike, strawwe omgewing uit te styg. Die bevrediging wat hulle uit die organisering van sport geput het, spruit uit die eenvoudige daad van oorlewing met waardigheid. Sport het hoop gekweek.”

Maar sport het ook oor voorbereiding gegaan – vir vryheid, vir leierskap en vir ʼn etiese lewe buite die tronk. “Sport op Robbeneiland het die soort samelewing weerspieël wat gevangenes buite die tronk se mure in die vooruitsig gestel het – ʼn samelewing gegrondves op reëls, billikheid, aanspreeklikheid en kollektiewe verantwoordelikheid, al was dit aanvanklik nie ʼn ten volle bewustelike politieke projek nie.”

Mitchell het aan die hand van argiefbronne, mondelinge getuienisse en lewensgeskiedenisse ondersoek hoe gevangenes die leiding in die organisering van sport geneem het en hoe hierdie aktiwiteite gehelp het om gemeenskap en ʼn kulturele lewe te bou en politieke ontwikkeling te rig. Sportsoorte het die volgende ingesluit: skaak, kaartspeletjies, tafeltennis, vlugbal, atletiek, kerrim (ʼn spel waar spelers hulle hande of stokke gebruik het om hout- of plastiekskyfies in die hoeksakke van ʼn houtbord te laat val, soos potspel of biljart), ludo (ʼn strategie-gebaseerde bordspel), dambord, rugby, sokker en tennis.

“Ofskoon hierdie geskiedenisse noodsaaklik is, beeld dit gevangenes soms slegs as slagoffers van onderdrukking uit. Deur op sport en alledaagse selforganisasie te fokus voeg my navorsing ʼn ekstra laag by die storie – een wat hulle agentskap, kreatiwiteit en vermoë om instellings te bou benadruk, selfs gedurende inkerkering,” sê Mitchell. 

“My navorsing toon hoe hulle hul omgewing aktief gevorm het. Deur sport het hulle organiseerders, administrateurs, skeidsregters, joernaliste en leiers geword wat hulle eie bestuurstelsels onder uiters moeilike omstandighede geskep het. Selfgeorganiseerde sport was ʼn demonstrasie dat gevangenes hulleself eties en kollektief kon regeer, al was hulle aan ʼn onregverdige gesagstelsel onderwerp.”

Volgens Mitchell het dit het ook spanning tussen politieke gevangenes ontlont deur neutrale ruimtes vir interaksie te skep. Sportspanne het vertroue en wedersydse respek bevorder en die kollektiewe gees onderliggend aan hulle volgehoue weerstand versterk.

Wedstryde en administratiewe vergaderings was forums vir debat, onderhandeling en uitruiling. “Die organisasie van ligas en klubs het demokratiese praktyk volledig weerspieël – met verkiesings, grondwette, meganismes vir geskilbeslegting en al. Op hierdie manier het sport as kleedrepetisie vir die beoefening van aanspreeklikheid- en deelnemende bestuursbeginsels gedien wat talle gevangenes vir ʼn toekomstige Suid-Afrika gevisualiseer het.”

Sport en ontspanning het ook gehelp om politieke, intellektuele en generasieverskille te oorbrug. “Klubs is ongeag politieke lojaliteit gestig, wat samewerking buite politieke partybeleid aangemoedig en tot die ontwikkeling van ʼn breër politieke bewussyn bygedra het. Deur gedeelde doelwitte en gestruktureerde kompetisie het gevangenes geleer om oor ideologiese verskille heen met mekaar om te gaan,” sê Mitchell.

Wat haar studie van ander onderskei, is dat dit ook op die ervarings van minder bekende gevangenes fokus wat in die algemene afdelings van die maksimum-sekuriteitsgevangenis aangehou is. Volgens haar verskuif dit die aandag weg van ikoniese leiers na talle gevangenes wie se bydraes van fundamentele belang, maar minder sigbaar was.

Ter illustrasie van wat sport vir hierdie gevangenes beteken het, vertel Mitchell die storie van Sedick Isaacs, wat van 1964 tot 1977 op Robbeneiland aangehou is. “Isaacs het erken dat hy nooit natuurlik tot sport geneig was nie. Soos sommige medegevangenes het hy aanvanklik die noodsaaklikheid daarvan bevraagteken, maar het hy tóg besef dat georganiseerde sport noodsaaklik was om tronktoestande die hoof te bied. Vir hom het deelname minder oor kompetisie en meer oor kollektiewe welstand en genot gegaan.”

Mitchell vertel dat Isaacs vlugbal en atletiek ingebring het, gehelp het om formele organisatoriese raamwerke op Robbeneiland te vestig en ʼn belangrike rol gespeel het in die diversifisering van die sportkodes wat vir gevangenes beskikbaar was. Ongelukkig kon hy nie sy medegevangenes oortuig om basketbal, krieket en kroukie te speel nie. Hulle het eersgenoemde as te soortgelyk aan netbal en dus as ʼn “spel vir meisies” beskou, en laasgenoemde as te passief en “speletjies vir ou mans”.

Isaacs het ook as sekretaris van die Eiland-rugbyraad en van die Robbeneiland-amateuratletiekvereniging se Interimkomitee gedien. “Dis belangrik om daarop te let dat hy die gevangenes se begrip van sport verder as dié van net deelname verbreed het. Hy het die rol van toeskouerskap, verslagdoening en rekordhouding benadruk en sodoende die idee versterk dat sport as ʼn volledige maatskaplike instelling funksioneer. Deur sy administratiewe leierskap het sport op Robbeneiland nie net ʼn ontspanningsuitlaatklep geword nie, maar ʼn gestruktureerde, selfregerende stelsel wat dissipline, aanspreeklikheid en kollektiewe verbeelding vergestalt het.”

Mitchell hoop haar navorsing sal mense se begrip van Robbeneiland verdiep as nie bloot ʼn plek van lyding nie, maar waar gevangenes ondanks die strawwe omstandighede oomblikke van pret en kameraadskap geniet het.

Merkers

Navorsing Sport

Verwante stories