
Ses benoemings vir MFM 92.6 in nasionale radiokompetisie
28 November 2024
MFM 92.6, die Stellenbosse gemeenskapsradiostasie wat vanuit die Neelsie-studentesentrum op die kampus van die Universiteit Stellenbosch (US) uitsaai, het nie minder nie as ses benoemings ontvang in die jaarlikse Telkom-radiopryse.Die benoemings is:
Kragtige opleidingsprogramSedert 2022 het MFM meer as 50 nuwe omroepers opgelei deur middel van ’n gestruktureerde en omvattende opleidingsprogram. Om momentum te behou en groei te verseker, word nuwe vakleerlinge twee keer per jaar ingeneem, touwys gemaak en deurlopend gementor.“Ons is trots daarop dat ons jong, geesdriftige stemme ontwikkel wat glo in uitnemendheid en inhoud saamstel wat ’n transformerende uitsaai-ervaring aan almal bied,” sê Martin de Abreu, programbestuurder in die Afdeling Institusionele Strategie, Navorsing en Analitika en waarnemende stasiebestuurder van MFM.“Die afgelope paar jaar het ons betekenisvolle groei ervaar. Ons gefokusde en kragtige opleidingsprogram sluit in die volle spektrum van vaardighede wat nodig is in die moderne uitsaaiwese. ’n Belangrike onderbou tot ons benadering is om deeglike voorbereiding, navorsing en uitvoering te verseker, gerugsteun deur goeie stelsels en prosesse.“In ons daaglikse werk beklemtoon ons ook ’n kultuur van waardesgebaseerde bestuur en interaksies. Deur ontluikende, diverse stemme aan te moedig om nie net te vermaak nie, maar ook in te lig en ’n verhouding met hulle gemeenskap te bou, probeer ons seker maak elke program het diepte en ’n transformerende impak. Ons pluk reeds die vrugte hiervan as ’n mens kyk na die gehalte, verskeidenheid en kaliber van ons inhoud, gaste, vennote en die voortgesette betrokkenheid van ons gehoor.”De Abreu sê die personeel se harde werk oor die afgelope paar jaar begin om vrugte af te werp en die benoemings dui op die vooruitgang en sukses van die stasie. Hulle kan egter nie op hulle louere rus nie – die werk om die stasie te verstewig is ’n deurlopende inisiatief wat in komende jare sal voortduur. “Hetsy deur ons talentvolle span uit te brei of ons luisteraarsgetal te vermeerder, MFM streef altyd daarna om bekend te wees vir sy professionaliteit, toewyding en vermoë om op ’n betekenisvolle manier met ’n breë, diverse gehoor te gesels oor uiteenlopende idees en onderwerpe.”Skakel in op 92.6 FM, stroom via https://mfm.co.za/ of volg MFM op Instagram en Facebook.Bron: https://radioawards.co.za/
- Stasie van die jaar (kampus).
- Middagprogram-aanbieder (kampus): Wilné van Rooyen.
- Ontbytprogram (kampus): MFM Breakfast Show (aangebied deur Sibulele Ndudula).
- Ontbytprogram-aanbieder (kampus): Sibulele Ndudula.
- Beste program oor nuus, politiek en aktuele sake (kampus- en gemeenskapstasies): The Daily Vibe (uitgesaai op Maandagaande en aangebied deur Lesedi Mnisi).
- Aandprogram (kampus): Siyakhula Live (uitgesaai op Woensdagaande en aangebied deur Katlego Letlonkane).
