Prof Tammy Robinson-Smythe help om uitheemse mariene spesies in toom te hou
- Prof Tammy Robinson-Smythe van die Sentrum vir Indringerbiologie het haar intreerede op Donderdag 14 Mei 2026 gelewer.
- Sy fokus op die verspreiding van uitheemse mariene spesies langs die Suid-Afrikaanse kus en hoe dit kan bestuur kan word.
- Haar werk poog om regerings- en bewaringsinstellings te ondersteun om mariene indringings te bestuur.
Prof Tammy Robinson-Smythe van die Sentrum vir Indringerbiologie in die Fakulteit Natuurwetenskappe het haar intreerede op Donderdag 14 Mei 2026 gelewer. Die titel van haar lesing was Navorsing ter ondersteuning van bewaring: die storie van uitheemse mariene spesies in Suid-Afrika.
In ʼn onderhoud met die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking het Robinson-Smythe die belangrikheid benadruk van die ontwikkeling van kostedoeltreffende benaderings om die indringing van uitheemse mariene spesies te bestuur.
Vertel ons meer oor jou navorsing en hoekom jy in hierdie spesifieke veld begin belang stel het.
My werk fokus op uitheemse mariene spesies, dit wil sê spesies wat nie langs die Suid-Afrikaanse kus hoort nie, maar weens menslike aktiwiteite (soos skeepvaart) in ons waters beland het. Ek werk aan baie aspekte van mariene indringings, insluitend hoe dit langs ons kus versprei en hoe ons dit kan bestuur om die nadelige gevolge daarvan op ons inheemse biodiversiteit en mense te verminder.
Ek het as ʼn PhD-student in hierdie veld begin werk. Ek het in rotsagtige kuslyne belang gestel en die meeste van die mossels wat op die rotsagtige kuslyn van ons weskus voorkom, is ʼn uitheemse spesie wat van die Middellandse See afkomstig is. Hoe meer ek oor uitheemse mariene spesies geleer het, hoe duideliker het dit geword dat daar ʼn behoefte was om hierdie onderwerp in Suid-Afrika aan te pak. Dit is nou meer as 20 jaar later en ek het nie teruggekyk nie.
Hoe sou jy die relevansie van jou werk beskryf?
Ek het doelbewus gekies om op die koppelvlak tussen suiwer en toegepaste wetenskap te werk. My werk steun op teorie, maar fokus ook op grondvlak-toepassing. As ʼn ontwikkelende nasie het Suid-Afrika beperkte hulpbronne om indringing aan te pak, derhalwe is daar ʼn behoefte om kostedoeltreffende benaderings te ontwikkel wat bewysgebaseerde besluitneming ondersteun. My werk het ten doel om regerings- en bewaringsinstellings te ondersteun om mariene indringings doeltreffend te bestuur.
Wat is die grootste impak van uitheemse mariene spesies op biodiversiteit in Suid-Afrika?
Ons was baie gelukkig dat ons nog nie verwoestende gevolge soos talle ander streke beleef het nie. Die ernstigste impak in Suid-Afrika was die indringing van die Mediterreense mossel, wat rotsagtige kusgemeenskappe langs meer as 1 000 km van die kuslyn verander het.
Hoe het ons begrip van mariene indringing in Suid-Afrika die afgelope jare gevorder?
Ons begrip groei voortdurend. Ons het in die afgelope vier jaar meer as tien nuwe uitheemse spesies geïdentifiseer. Ons het ook die waarde van burgerwetenskap in die monitering van nuwe indringings erken en voorkomende bestuursbenaderings ontwikkel om SANParke en ander bewaringsinstellings te ondersteun om belangrike biodiversiteitsbrandpunte teen indringing te beskerm.
Watter praktiese stappe of inisiatiewe is tans aan die gang om mariene indringing reg oor Afrika aan te pak?
Ongelukkig vind baie beperkte werk op die gebied van mariene indringing in Afrika plaas. Die meeste lande is egter ondertekenaars van die Konvensie oor Biologiese Diversiteit, derhalwe is ek hoopvol dat die situasie sal begin verbeter soos wat hulle hul wetlike verpligtinge kragtens hierdie ooreenkoms begin nakom.
Die sleutel-dryfveer vir optrede gaan aktiewe samewerking wees. Vir hierdie doel beplan ons tans ʼn werksessie wat staatsamptenare, akademici en studente van Suid-Afrika, Namibië en Angola sal byeenbring. Deelnemers sal geleer word hoe om uitheemse spesies te identifiseer wat moontlik die Benguela-stelsel, wat deur al drie lande gedeel word, kan binnedring. Ons hoop dit sal die begin wees van ʼn streeksnetwerk wat mariene indringing sal aanpak.
Hoër onderwys kan uitdagend wees. Wat hou jou gemotiveerd wanneer dinge moeilik raak?
Ek geniet dit regtig om met my nagraadse studente te werk! Daar is niks meer inspirerend as om met jong wetenskaplikes te werk wat opgewonde en gretig is om by te dra nie. Ek is mal daaroor dat studente dinge anders sien en vrae vra wat nog nie voorheen gevra is nie. Hulle hou my op die beste moontlike manier op my tone.
Watter aspekte van jou werk geniet jy die meeste?
Die beste deel van my werk is om veldwerk saam met my nagraadse studente te doen. Om uit die kantoor te kom en tyd in die natuur deur te bring is goed vir ons almal, maar dis selfs beter wanneer ons opwindende dinge vind wat niemand nog voorheen gedokumenteer het nie.
Vertel ons iets opwindends oor jouself wat mense nie sou verwag nie.
Ek het al op elke kontinent behalwe Antarktika 10 km gedraf – 6 agter die rug en nog net 1 wat oorbly.
Hoe bring jy jou vrye tyd deur?
Om eerlik te wees het ek nie deesdae veel vrye tyd nie. Wanneer ek wel het, bring ek dit saam met my gesin deur. Ons huis draai om koffie, lag en stap met die honde. Dis ʼn bietjie chaoties, maar ek sou nêrens anders wou wees nie.