Prof Quinette Louw (derde van links) en Luigia Nicholas (tweede van regs) by die bekendstelling van die verslag
Nuwe US-geleide verslag lê Afrika se toegangkrisis tot hulpmiddeltegnologie bloot
- Persone met gestremdhede in Afrika sukkel om toegang tot ondersteunende hulpmiddeltegnologieë te kry.
- Hulle word gekniehalter deur beperkte beskikbaarheid van produkte en dienste, hoë koste, en swak diensleweringstelsels.
- Beleggings in hulpmiddeltegnologie-sektor nodig.
Toegang tot ondersteunende hulpmiddeltegnologieë – instrumente, toestelle en stelsels wat mense met gestremdhede help om alledaagse take makliker uit te voer – bly beperk en ongelyk regoor Afrika, veral vir jongmense in landelike en onderbediende gemeenskappe. Hindernisse sluit in beperkte beskikbaarheid van produkte en dienste, lang reisafstande na diensverskaffers, hoë koste, bekostigbaarheidsuitdagings en swak diensleweringstelsels.
Hierdie is van die belangrikste bevindings van 'n nuwe verslag wat deur 'n konsortium onder leiding van die Universiteit Stellenbosch (US), in vennootskap met die Kwame Nkrumah-Universiteit vir Wetenskap en Tegnologie in Ghana, Humanity & Inclusion (HI) en die Clinton Health Access Initiative (CHAI) ontwikkel is. Die verslag, getiteld Assistive Technology Landscape in Africa Report, (‘Verslag oor die ondersteunende hulpmiddeltegnologielandskap in Afrika’) beklemtoon die breër betekenis van hulpmiddeltegnologie vir die onderwys, indiensneming, entrepreneurskap en ekonomiese insluiting regoor Afrika. Dit is onlangs by die Inklusiewe Afrika-konferensie op Internasionale Hulpmiddeltegnologiedag in Nairobi, Kenia bekendgestel.
Die verslag, wat in opdrag van die Mastercard-stigting onderneem is om die Stigting se gestremdheidsinsluitingstrategie te ondersteun, het ten doel om pogings te rig om 1,5 miljoen jongmense met gestremdhede toegang tot onderwys en ekonomiese geleenthede deur die Young Africa Works-strategie te gee.
Volgens die konsortium bied die verslag een van die omvattendste assesserings van Afrika se hulpmiddeltegnologie-ekostelsel tot dusver. Dit ondersoek toegang tot hulpmiddeltegnologie regoor Afrika, beleids- en regulatoriese omgewings, markstelsels en finansieringsmeganismes, diensleweringmodelle, innovasie en plaaslike produksievermoë, ekonomiese geleenthede binne die sektor, en hindernisse wat persone met gestremdhede, veral jongmense, raak. Dit vestig ook 'n bewysbasis om as riglyn vir toekomstige beleggings, vennootskappe, beleidsbetrokkenheid en ekostelselversterking te dien.
“Na raming leef sowat 15 persent van Afrika se bevolking met 'n gestremdheid. Tog staar miljoene mense steeds hindernisse vir onderwys, indiensneming, entrepreneurskap en digitale deelname in die gesig omdat hulle nie toegang tot die hulpmiddeltegnologieë kan kry wat hulle nodig het nie,” sê een van die skrywers van die verslag, prof Quinette Louw van die US se Afdeling Fisioterapie.
“Hulpmiddeltegnologie is meer as net 'n gesondheidsintervensie. Dit is 'n kritieke instaatsteller vir onderwys en lewenslange leer, indiensneming en lewensbestaan, entrepreneurskap en innovasie, 'n onafhanklike lewe, digitale insluiting en sosiale en burgerlike deelname.
“Wanneer hulpmiddeltegnologie nie beskikbaar is nie, of ontoeganklik of onbekostigbaar is, word individue van geleenthede uitgesluit wat baie ander as vanselfsprekend aanvaar. Die uitbreiding van toegang is dus noodsaaklik om inklusiewe ontwikkeling en ekonomiese groei regoor Afrika te bereik.”
Volgens Louw sluit hulpmiddeltegnologie produkte en dienste soos skermlesers, gehoorapparate, rolstoele, braille-toestelle, alternatiewe en aanvullende kommunikasie-instrumente, digitale toeganklikheidstegnologieë, en mobiliteit-, leer- en kommunikasietoestelle in.
Nog 'n bydraer tot die verslag, Luigia Nicholas van die US se Eenheid vir Gestremdhede, sê die verslag toon aan dat beleidsvordering vinniger as die inwerkingstelling daarvan verloop.
“Hoewel baie Afrikalande gestremdheidsinklusiwiteit en toeganklikheidsbeleide ingestel het, bly die inwerkingstelling daarvan inkonsekwent weens beperkte finansiële steun en hulpbronne, swak koördinering tussen belanghebbendes en gapings tussen beleidsverbintenisse en praktiese lewering.”
Nicholas voeg by dat die koördinering van die hulpmiddeltegnologie-ekostelsel besig is om te verbeter, met regerings, organisasies van persone met gestremdhede, innoverende kunstenaars, diensverskaffers, navorsers en ontwikkelingsvennote wat toenemend saamwerk. Vordering verskil egter aansienlik tussen lande en sektore.
Nicholas noem verder dat die verslag ook die aansienlike potensiaal van plaaslike innovasie beklemtoon.
“Innovasie is besig om regoor Afrika te groei, met plaaslike innoveerders wat oplossings ontwikkel wat aangepas is vir gemeenskappe se behoeftes en kontekste. Die meeste hulpmiddeltegnologieprodukte word egter steeds ingevoer, terwyl plaaslike vervaardiging beperk bly en belegging in Afrika-innovasie en -produksie onvoldoende is.”
Die verslag dui ook aan dat hoewel die vraag na hulpmiddeltegnologie regoor Afrika steeds toeneem, die markgroei deur finansieringsuitdagings, beperkings in die voorsieningsketting, afhanklikheid van ingevoerde produkte en bekostigbaarheidshindernisse vir gebruikers beperk word.
Ondanks hierdie uitdagings skep die hulpmiddeltegnologie-sektor ekonomiese geleenthede, sê Louw.
“Die verslag identifiseer die hulpmiddeltegnologie-sektor as 'n opkomende bron van werk vir die jeug, entrepreneurskap, innovasie en produkontwikkeling, vervaardiging en produksieposte, vaardigheidsontwikkeling en tegniese kundigheid.
“Die sektor kan met die regte beleggings en beleide tot inklusiewe ekonomiese groei bydra terwyl dit die lewensgehalte van persone met gestremdhede verbeter.”
Vooruitskouend bied die verslag 'n geleentheid om die volgende te ondersoek:
- Hoe beperkte toegang tot hulpmiddeltegnologie jongmense se vermoë om skool toe te gaan, opleiding te ontvang, werk te kry en aan die samelewing deel te neem, beïnvloed;
- Hoe Afrika-innoveerders hulpmiddeltegnologieë ontwerp wat op plaaslike werklikhede en uitdagings reageer;
- Die geleenthede wat daar vir jongmense binne die hulpmiddeltegnologie-sektor self is;
- Waarom gestremdheidsinklusiwiteit en toeganklikheidsbeleide dikwels sukkel om op voetsoolvlak in betekenisvolle uitkomste omgesit te word; en
- Hoe jongmense met gestremdhede ondersteunende hulpmiddeltegnologie gebruik om opleiding, indiensneming, entrepreneurskap en leierskapsgeleenthede na te streef.
Die Mastercard-stigting se perspektief
Volgens die Mastercard-stigting ondersteun die verslag oor die ondersteunende hulpmiddeltegnologielandskap in Afrika sy verbintenis daartoe om 1,5 miljoen jongmense met gestremdhede toegang tot onderwys en ekonomiese geleenthede te gee. Die verslag verskaf bewyse om rigting aan programontwerp en die inwerkingstelling daarvan, strategiese beleggings, beleidsbetrokkenheid en -voorspraak, ekostelselontwikkeling en vennootskappe oor sektore heen te gee.
Met sy gestremdheidsinsluitingstrategie wat in 2023 bekendgestel is, beskou die Stigting hierdie verslag as 'n beginpunt vir groter samewerking en optrede om Afrika se hulpmiddeltegnologie-ekostelsel te versterk en geleenthede vir jongmense met gestremdhede uit te brei.
Die Mastercard-stigting se doelwit is om deur sy Jong Afrika Werk-strategie teen 2030 toegang tot waardige en vervullende werk aan 30 miljoen jong Afrikane te bied.
- Die volledige verslag en uitvoerende opsomming is beskikbaar by: https://mastercardfdn.org/en/our-research/assistive-technology-landscape-in-africa/