Coventry-Universiteit het ’n eredoktorsgraad in die opvoedkunde toegeken aan prof Deresh Ramjugernath, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch.
Coventry-Universiteit ken eredoktorsgraad toe aan rektor van US
- Die toekenning erken sy uitstaande leierskap in hoër onderwys, baanbrekersnavorsingsbydraes en toewyding aan die bevordering van innovasie en internasionale samewerking wat ooreenstem met Coventry-Universiteit se missie om globaal gekonnekteerde, impakvolle onderrig te lewer.
Coventry-Universiteit het ’n eredoktorsgraad in die opvoedkunde toegeken aan prof Deresh Ramjugernath, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch.
Die toekenning erken sy uitstaande leierskap in hoër onderwys, baanbrekersnavorsingsbydraes en toewyding aan die bevordering van innovasie en internasionale samewerking wat ooreenstem met Coventry-Universiteit se missie om globaal gekonnekteerde, impakvolle onderrig te lewer.
In sy huldigingstoespraak op die seremonie gister het sy voorganger, prof Wim de Villiers, gesê: “Wat die meeste uitstaan, is Deresh se toewyding aan samewerking en verbintenis. Hy het mense en instellings oor lande en dissiplines heen bymekaargebring en vennootskappe gebou wat gedeelde vooruitgang en ’n betekenisvolle impak ondersteun.”
As ’n chemiese ingenieur en internasionaal gerespekteerde leier in hoër onderwys het prof Ramjugernath as studieleier opgetree vir meer as 90 meestersgraadstudente, meer as 50 PhD-kandidate en meer as 20 postdoktorale navorsers. Sodoende het hy opkomende akademici en innoveerders ondersteun wat nou oor die akademiese wêreld en bedryf heen bydraes lewer.
Prof Ramjugernath se leierskapsreis sluit verskeie senior poste in die Suid-Afrikaanse hoër onderwys in. Voordat hy die Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch geword het, het hy van 2021 tot 2025 die posisie van Viserektor: Leer en Onderrig aan die Universiteit Stellenbosch beklee en ’n sleutelrol gespeel in die bevordering van navorsing, innovasie en entrepreneurskap aan die Universiteit van KwaZulu-Natal.
Prof Ramjugernath het gesê: “Dit was ’n absolute voorreg en eer om die toekenning te ontvang. Ek het die afgelope 30 jaar ’n reis in hoër onderwys gehad. Ek het begin in die junior geledere as ’n navorser en ’n dosent, en toe oor die afgelope 30 jaar my pad opgewerk na senior leierskap en bestuur van die Universiteit en in terme van die bou van strategiese verhoudings en vennootskappe, waarvan een met Coventry-Universiteit is.”
“Baie geluk aan al die graduandi van Coventry-Universiteit – dit is absoluut fantasties watter prestasies julle vandag met jul gradeplegtigheid behaal het. Onthou net, vir die reis waarop julle nou is, het julle passie en ’n doel nodig vir dit wat julle wil bereik, en dan gaan dit oor uitnemendheid en volharding om seker te maak julle bereik al jul lewensdoelwitte.”
Vanjaar vier Coventry-Universiteit ’n dekade van samewerking met die Universiteit Stellenbosch – ’n verhouding wat geleenthede geskep het vir studente en navorsers oor albei instellings heen, met een van die belangrikste prestasies die samewerkende dubbele graadprogram.
Prof John Latham CBE, Visekanselier en Uitvoerende Hoof van Coventry-Universiteit, het gesê: “By Coventry-Universiteit glo ons in die krag van globale vennootskappe om onderwys en navorsing te lewer wat ’n verskil maak. Prof Ramjugernath se leierskap en visie beliggaam hierdie ambisie.
“Sy toewyding aan samewerking, innovasie en die ondersteuning van die volgende generasie navorsers het ’n diepgaande impak gemaak, en ons is trots om sy bydrae met hierdie eredoktorsgraad te erken.”