Skip to main content
A photo of the 2026 Future Professors cohort at Stellenbosch University
Image by: SU
Opvoedkunde Institusionele nuus

Nuwe groep Toekomstige Professore ontvang 'n hartlike verwelkoming by inleidende konferensie

Hannelie Booyens
Senior Writer, Corporate Communications and Marketing
13 Maart 2026
  • Altesame 34 middelloopbaan-akademici van al 26 openbare universiteite het in Stellenbosch byeengekom vir die Inleidende Konferensie van die DHOO se Toekomstige Professoreprogram, Fase 1 vir Kohort 4.
  • Prof Jonathan Jansen het deelnemers uitgedaag om die identiteit van ʼn geleerde op te eis en oor die dieper doel van universiteite te besin.
  • Die program, wat deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding gefinansier en deur die Universiteit Stellenbosch aangebied word, het ten doel om die volgende generasie akademiese leiers vir Suid-Afrika se professoraat voor te berei.

In ʼn tyd dat universiteite wêreldwyd met vinnige tegnologiese verandering, ontwikkelende kennisekonomieë en verskuiwende openbare verwagtinge worstel, het ʼn groep akademici in hul middelloopbaan by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Studie (Stias) byeengekom om te besin oor ʼn bedrieglik eenvoudige vraag: Wat beteken dit om ʼn geleerde te word?

Die geleentheid was die Inleidende Konferensie van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO) se Toekomstige Professoreprogram (TPP), Fase 1 vir Kohort 4. Die tweedaagse byeenkoms, wat deur Stias aangebied en deur die Universiteit Stellenbosch (US) gefasiliteer is, het 34 top-genote van Suid-Afrika se 26 openbare universiteite, asook senior geleerdes en sektorleiers, byeengebring. Vyf US-akademici is deel van Kohort 4.

Die TPP is een van ses nasionale samewerkingsinisiatiewe wat deur die DHOO ondersteun word. Fase 1, wat deur die US geadministreer word, fokus op die voorbereiding van voorste middelloopbaan-akademici vir senior akademiese range as antwoord op aanhoudende ongelykhede in verteenwoordiging op die vlak van mede- en volprofessor.

Die genote neem oor twee jaar deel aan ʼn gestruktureerde program wat leierskapseminare, professionele afrigting, skryfskole, mentorskap en internasionale navorsingsbetrokkenheid kombineer.

Prof Deresh Ramjugernath, Rektor en Visekanselier van die US, het die nuwe TPP-kohort tydens ʼn dinee verwelkom en die inisiatief as ʼn strategiese belegging in die toekoms van Suid-Afrikaanse universiteite beskryf.

Om uit 118 nominasies van al die 26 openbare universiteite in Suid-Afrika gekies te word is ʼn beduidende prestasie. Dit weerspieël jul vakkundige uitnemendheid én die vertroue wat die sektor in jul leierskapspotensiaal plaas,” het hy die genote geprys.

Ramjugernath het gesê middelloopbaan-akademici beklee ʼn spilposisie in die vorming van die akademie. “Julle rig navorsingskultuur. Julle beïnvloed onderriggehalte. Julle mentor opkomende akademici. En julle help al hoe meer om institusionele rigting te definieer.”

Hy het bygevoeg dat die professoraat van die toekoms interdissiplinêr, digitaal rats, sosiaal responsief en wêreldwyd verbind sal moet wees. “Hierdie program skep die ruimte om nie net jul geleerdheid te bevorder nie, maar ook om te help herdefinieer wat dit beteken om ʼn professor in die komende dekades te wees,” het Ramjugernath afgesluit.

Om geleerdes te word, nie bloot akademici nie

Die intellektuele hoogtepunt van die konferensie was ʼn hoofrede deur prof Jonathan Jansen, uitgelese professor in die Fakulteit Opvoedkunde aan die US, met die titel “Hoe om ʼn geleerde te word”.

Jansen het in sy rede herhaaldelik een deurslaggewende onderskeid benadruk: om ʼn akademikus te wees versus om ʼn geleerde (“scholar”) te word. Op grond van dekades se mentorskap van jonger akademici het hy aangevoer dat titels en range minder belangrik is as die dieper intellektuele projek wat geleerdes se werk definieer.

“Ons is nie hier om dosente of professore of dekane te word nie, maar om as geleerdes te ontwikkel,” was sy raad.

Hy het gesê die toekoms van universiteite hang oplaas van die kaliber van hul professore af. Hy het genote aangespoor om vroeg in hul loopbane ʼn duidelike identiteit as geleerdes te ontwikkel. Geleerdes moet volgens hom vir ʼn duidelike intellektuele bydrae bekend staan, eerder as vir ʼn wydlopende reeks onverwante publikasies.

Julle wil vir een ding bekend wees,” het hy vir die gehoor gesê en hulle aangemoedig om intens op ʼn spesifieke ondersoekveld te fokus.

Ewe belangrik is volens hom om die stem van ʼn geleerde te ontwikkel – een wat weldeurdag, selfkrities en op diepgaande bestudering van bestaande literatuur gegrond is. “Julle moet julle in die literatuur van jul veld verdiep,” het Jansen gesê. Geleerdes moet op die hoogte van toonaangewende joernale wees, nuwe navorsing noukeurig volg en voortdurend toets of hul werk steeds op die voorpunt is.

Hy het ook gewaarsku teen akademiese isolasie en aangevoer dat blootstelling aan eweknieë van wêreldgehalte noodsaaklik vir intellektuele groei is.

“Julle is net so goed soos die vriende waaraan julle geken word,” het hy gesê en genote aangespoor om sterk netwerke te bou en geleenthede na te jaag om plaaslik en internasionaal saam met toonaangewende akademici te werk.

Eerste beginsels

In ʼn hoëvlak-paneelbespreking het die klem verskuif van die ontwikkeling van individuele geleerdes na ʼn breër gesprek oor die doel en toekoms van universiteite.

Die bespreking met die titel “Terug na eerste beginsels: Die doel en toekoms van die universiteit” is deur Jansen gelei en die gespreksgenote was dr Thandi Mgwebi, Visekanselier van die Walter Sisulu-universiteit, proff John Higgins en Daya Reddy van die Universiteit van Kaapstad, asook prof Neil Roos van die Universiteit van Fort Hare.

Dié kenners moes ʼn fundamentele vraag beantwoord: Wat maak ʼn universiteit anders as ander instellings in die openbare lewe?

Reddy het die konsep van geleerdheid benadruk en dit as die bewaring, oordrag, generering en bevraagtekening van kennis beskryf. Akademiese vryheid vorm die kern van hierdie werk, het hy aangevoer, maar gaan gepaard met die verantwoordelikheid om eties op te tree, erkende standaarde te handhaaf en die openbare belang te dien.

Higgins het uit ʼn ander hoek aangevoer dat universiteite ʼn unieke posisie in die samelewing beklee omdat hulle bepaal wat as kennis tel. Omdat hulle grade toeken, bevind universiteite hulle op die verskuiwende grens tussen kennis en mening. Akademiese vryheid in hierdie sin is noodsaaklik én broos. Dis ʼn ideaal wat voortdurend verdedig moet word teen druk wat wissel van politieke ideologieë tot die kommersialisering van navorsing.

Mgwebi het die toenemend algemene siening van universiteite as instrumente van ekonomiese beleid uitgedaag. Universiteite, het sy aangevoer, moet eerder as “beskawingsinstellings” verstaan word. Hulle kweek die intellektuele en morele vermoëns wat samelewings in staat stel om te redeneer, te debatteer en alternatiewe toekomste te verbeel. Hierdie langtermynbydraes kan ondermyn word as instellings gedwing word om korttermynuitsette of meetbare ekonomiese opbrengste te lewer, het sy gewaarsku.

Roos het gemaan teen die gevare van ʼn metriekgedrewe navorsingskultuur. In sommige kontekste het die druk om te publiseer gelei tot wat hy beskryf het as ʼn “vals intellektuele ekonomie”, waarin werk hoofsaaklik gegenereer word om aan prestasie-aanwysers te voldoen eerder as om betekenisvolle vrae te vra. Universiteite moet “betekenisvolle, diepgaande, wesenlike vrae” oor die wêreld vra en oop bly vir globale akademiese uitruiling, het hy aangevoer.

“Nog geen universiteit het op akademiese of nasionale outarkie gefloreer nie,” het Roos gesê en gewaarsku dat pogings om instellings af te sluit – hetsy deur immigrasiebeperkings, vyandigheid teenoor buitelandse geleerdes of eng etniese logika – die risiko meebring om universiteite te verander in wat hy “monoversiteite” noem.

Reddy het hierdie kommer beaam met ʼn opmerking wat wyd in besprekings oor die globale aard van geleerdheid aangehaal word: “ʼn Universiteit is nie ʼn land nie.”

Universiteite maak deel van ʼn internasionale gemeenskap van geleerdes, studente en idees uit, het hy gesê. Nasionalistiese druk op personeel en toelatings verteenwoordig “een van die grootste bedreigings vir vooruitgang in ons universiteitstelsel”. Universiteite is nie groepe wat deur lojaliteit of konformiteit gedefinieer word nie, maar ruimtes waar skeptisisme, argumente en die toetsing van idees moet seëvier, het hy bygevoeg.

Kommer oor die verswakking van die akademiese stem in universiteitsbestuur was ʼn deurlopende tema van die bespreking. As toekomstige departementshoofde, dekane en visekanseliers, sal die verantwoordelikheid vir die vorming van instellings binnekort by hulle rus, het Jansen aan die genote gesê.

“My vraag aan julle is die volgende: Sal julle dinge anders doen?”

Vir die akademici wat by Stias byeen was, was die tweedaagse konferensie die begin van ʼn veeleisende reis. Oor die volgende twee jaar sal die program mentorskap, leierskapsafrigting en internasionale betrokkenheidsgeleenthede bied.

Tóg het die kernboodskap van die konferensie minder oor loopbaanbevordering as oor intellektuele verantwoordelikheid gegaan. Die toekoms van Suid-Afrikaanse universiteite sal nie bloot afhang van die hoeveelheid professore wat hulle oplewer nie, maar van die gehalte van die geleerdes wat hulle word, was die boodskap wat sprekers telkens herhaal het.

US-deelnemers aan die 2026/’27 TPP: 

  • Prof Jamie Cripwell, medeprofessor in toegepaste termodinamika en skeidingstegnologie in die Departement Chemiese Ingenieurswese.
  • Dr Suzanne Grenfell, senior lektor in die Departement Geografie en Omgewingstudies.
  • Prof Lenine Liebenberg, medeprofessor in die Afdeling Mediese Virologie en hoofnavorser in die Immunologienavorsingsprogram in die Sentrum vir Epidemiese Reaksie en Innovasie (SERI).
  • Prof Gerald Maarman, medeprofessor in die Afdeling Mediese Fisiologie aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe.
  • Prof Reuben Pfukwa, medeprofessor in die Departement Chemie en Polimeerwetenskap.

Verwante stories