Skip to main content
Prof Cristina Trois, Director of Stellenbosch University’s Centre for Renewable and Sustainable Energy Studies, presents research on unlocking value from vine waste at the Southern African Sustainable Energy Conference 2026. With her are co-authors Dr Yared Abera (left) and Martina Mariani. Picture: Desmond Thompson

Prof Cristina Trois, Direkteur van die Universiteit Stellenbosch se Sentrum vir Hernubare en Volhoubare Energiestudies, lewer ’n navorsingspraatjie oor die ontginning van wingerdafval by die Suider-Afrikaanse Konferensie oor Volhoubare Energie 2026. By haar is mede-outeurs dr Yared Abera (links) en Martina Mariani. 

Image by: Supplied
Gebeure

Neem navorsing oor volhoubare energie van proewe tot produkte

Desmond Thompson
23 Julie 2026
  • Die Suider-Afrikaanse Konferensie oor Volhoubare Energie het deelnemers uit alle wêrelddele gelok.
  • Deelnemers het ondersoek hoe navorsing in kommersiële produkte en suksesvolle ondernemings met ’n wye samelewingsimpak omskep kan word.

Suid-Afrikaanse navorsers behoort sukses nie net aan publikasies en patente te meet nie, maar aan die tasbare tegnologieë, ondernemings en werksgeleenthede wat uit hulle navorsing voortspruit.

Dié boodskap was oral te hoor by die Suider-Afrikaanse Konferensie oor Volhoubare Energie (SASEC) 2026, wat van 23 tot 26 Junie by die Nombolo Mdhlululi-konferensiesentrum, Skukuza, in die Kruger Nasionale Park gehou is. Die geleentheid het 151 navorsers, beleidmakers, bedryfsleiers en nagraadse studente van oor die hele wêreld vir 100 aanbiedings byeengebring.

Die gesprekke het plaasgevind teen die agtergrond van die wêreldwye oorgang na skoner energiestelsels namate lande probeer om hulle kweekhuisgasvrystellings te verminder en terselfdertyd energiesekerheid en ekonomiese ontwikkeling te versterk. Die tema van die konferensie was “From ambition to implementation: Accelerating the impact of sustainable energy innovation for inclusive socio-economic growth”.

Die byeenkoms is deur die Universiteit van Pretoria (UP) aangebied in samewerking met die Universiteit Stellenbosch (US), met ondersteuning van die Departement van Wetenskap, Tegnologie en Innovasie (DWTI) en die Suid-Afrikaanse Nasionale Energieontwikkelingsinstituut (Sanedi).

Die voorsitter van SASEC 2026, prof Willem le Roux van UP, het in sy openingstoespraak gesê: “Ons het ’n geleentheid om ons vaardighede en kennis te gebruik om ons gemeenskappe te verbeter. Ons kan hierdie streek veiliger, skoner en volhoubaarder vir toekomstige geslagte help maak.” 

‘Kommersialisering nie meer opsioneel nie’

Dr Kenny Tenza, waarnemende adjunkdirekteur-generaal van Tegnologie-innovasie by die DWTI, het in sy hoofrede afgevaardigdes uitgedaag om verder as tradisionele wetenskaplike uitnemendheid te dink.

“Die werklikheid wat ons die hoof moet bied, is werkloosheid,” het hy gesê, en opgemerk dat bykans een uit drie Suid-Afrikaners werkloos is, met ’n jeugwerkloosheidsyfer van meer as 60%.

Innovasie op die gebied van volhoubare energie moet dus “meer as ’n tegniese agenda wees – dit moet ’n nywerheidsagenda, ’n werkskeppingsagenda en ’n nasionale ontwikkelingsagenda wees”.

Dié tema het reeds duidelik in die voorkonferensiewerksessie oor tegnologiekommersialisering geblyk. Hier het deelnemers beraadslaag oor hoe navorsing verder as publikasies, patente en prototipes in die laboratorium kan gaan om kommersiële produkte en suksesvolle ondernemings met ’n wye samelewingsimpak te word.

Prof Cristina Trois, Direkteur: Sentrum vir Hernubare en Volhoubare Energiestudies (CRSES) by die US en medevoorsitter van SASEC 2026, het opgemerk dat betekenisvolle innovasie van noue samewerking tussen sektore afhang. “Die akademie kan nie in afsondering werk nie. Die bedryf kan nie in afsondering werk nie. Die regering kan nie in afsondering werk nie,” het sy gesê.

Die fasiliteerder van die gesprek, dr Francois Rozon, Mededirekteur: CRSES en wetenskaplike adviseur vir die konferensie, het afgevaardigdes daaraan herinner dat kommersialisering “nie net oor patente of afwentelmaatskappye of finansiering gaan nie”. Om tegniese innovasies na die mark te bring, het hy gesê, gaan uiteindelik oor “mense, verhoudings, vertroue en ’n betekenisvolle doel”.

Deur die ‘doodsvallei’

Dr Richmore Kaseke, bestuurder van Strategiese Vennootskappe by Sanedi, het die berugte “doodsvallei” beskryf, waar vele belowende tegnologieë ná suksesvolle laboratoriumproewe vassteek. Dít gebeur gewoonlik omdat die tegnologieë openbare navorsingsfinansiering ontgroei voordat kommersiële investering bekom kan word. Strategiese vennootskappe, het hy aangevoer, is die noodsaaklike brug oor daardie vallei.

As voorbeeld het hy verwys na ’n konsortium onder leiding van die US wat ’n mobiele bioreaktor van 1 000 liter ontwikkel om hernubare etanol te vervaardig. Die US voorsien die grondliggende intellektuele eiendom en navorsingsvermoë, terwyl Toyota Suid-Afrika, Illovo Sugar, LogiCam, Sanedi en die DWTI onderskeidelik vervaardigingskapasiteit, biomassavoerstof, toetsings- en ontplooiingskundigheid bydra.

Van prototipes tot produkte

Volgens prof Sampson Mamphweli, hoof van die DWTI se Energiesekretariaat by Sanedi en voormalige direkteur van CRSES, moet Suid-Afrika op tegnologieë konsentreer waar die land ’n ware mededingende voorsprong het.

“China vervaardigingsvermoë én grondstowwe. Die VSA en Kanada het vervaardigingsvermoë, maar minder beskikbare grondstowwe. Europa en Japan het gesofistikeerde vervaardigingstegnologieë, maar steun swaar op ingevoerde grondstowwe,” het hy gesê.

“Suid-Afrika beskik oor sowel die grondstowwe as die tegnologie. Daardie kombinasie skep ’n ware mededingende geleentheid.”

Navorsing tot diens van die samelewing

Die klem op implementering was ook deur die hele tegniese program duidelik.

Prof Bernard Bekker, wat onlangs as die bekleër van die SARChI-leerstoel in kragstelselsimulasie aangestel is, het nuwe benaderings tot elektrisiteitsbeplanning aangebied wat ontwerp is om Suid-Afrika ’n veerkragtiger kragstelsel te help bou namate hernubare energie uitbrei.

Prof Nkosinathi Gule, die leier van die windenergiekomponent van die DWTI en Sanedi se naaf-en-speekprogram oor hernubare energie by die US, het dié stukkie raad vir navorsers gehad wat in kommersialisering belang stel: Los werklike probleme op. “As jou navorsing ’n belangrike probleem die hoof bied, kom vennootskappe dikwels natuurlik tot stand.” 

Ontwikkel die volgende geslag

Trois het deelnemers daaraan herinner dat kommersialisering slegs een maatstaf van impak is.

“Soms is die grootste impak van ’n projek nie die tegnologie self nie,” het sy gesê. “Dit is die studente wat gedurende die ontwikkeling van die tegnologie opgelei is.”  

US-navorsing was prominent op die konferensieprogram, en vier huidige of voormalige meesterstudente het toekennings vir beste aanbieding verower:

  • Argon Poorun (in die kategorie Sirkulariteit van Hernubare-energietegnologieë)
  • Ronan Wademan (in Vraagkant- en Energiestoortoepassings)
  • Remi du Plessis (in Kragstelselsbeplanning en -bedryf)
  • George Fischer (medewenner in Fotovoltaïese Sonenergiestelsels)

Kragtige wiele

Elektriese voertuie het vanjaar die verbeelding by SASEC aangegryp. 

Thula het sy plaaslik ontwerpte en vervaardigde, volledig elektriese viertreksafarivoertuig uitgestal. Die voertuig kombineer byna geruislose werking vir steuringsvrye wildkyksessies met nul uitlaatgasse, en verminder sodoende sy omgewingsvoetspoor aansienlik. 

Volvo het op sy beurt elektriese voertuie ten toon gestel wat van Johannesburg na Skukuza bestuur is as deel van ’n DWTI-bewusmakingsprogram om die haalbaarheid van elektries aangedrewe langafstandritte deur Suid-Afrika te bewys.

Op ’n pad van groei

SASEC, wat oorspronklik in 2012 as die Suider-Afrikaanse Sonenergiekonferensie tot stand gebring en in Technopark aangebied is, is deesdae ’n breër platform vir navorsing, innovasie en kommersialisering op die terrein van volhoubare energie.

Nadat die US die konferensie in 2024 aangebied het, het die byeenkoms vanjaar na die Kruger teruggekeer, waar UP dit ook in 2015 aangebied het. Le Roux het verduidelik dat die park ’n gepaste agtergrond vir ’n konferensie oor volhoubare energie is omdat dit toon hoe mense nader aan die natuur kan leef.

Afgevaardigdes het SANParke se fotovoltaïese sonkraginstallasie besoek, asook die kampus van die Skukuza-wetenskapleierskapsinisiatief, wat deel is van die internasionale netwerk van die Organisasie vir Tropiese Studies is.

Onder die borge was die DWTISanediCampbell ScientificSEM Energy EngineersKirby Engineering & ConstructionPVinsightGeoSUNThula SolutionsSOLTRAINSasol en Investec Private Banking.

Soos in 2024, sal uitgesoekte ewekniebeoordeelde konferensieaanbiedings weer deur Springer uitgegee word, wat die navorsing wat by SASEC 2026 te sien was ’n groter reikwydte sal gee.

Toekomsplanne

Die organiseerders het aangekondig dat die Universiteit van Kaapstad die volgende SASEC – waarskynlik in 2028 – sal aanbied,. Hulle het ook planne bevestig om nouer belyning met Sanedi se jaarkonferensie te ondersoek. Dít sal SASEC – een van Suid-Afrika se voorste platforms vir innovasiesamewerking tussen die regering, akademie en bedryf op die terrein van volhoubare energie – verder versterk.

* Desmond Thompson is ’n vryskutjoernalis.

Merkers

Energie

Verwante stories