Marguerite van der Waal speel ’n belangrike rol in die bevordering van meertaligheid, inklusiwiteit en effektiewe kommunikasie regoor die Universiteit.
Marguerite van der Waal verbind mense deur taal
- #DagInDieLewe
- As ’n toonaangewende hoëronderwys- en navorsingsinstelling in Suid-Afrika is ons trots op ons diverse en talentvolle gemeenskap van meer as 4 000 voltydse personeellede – akademici, navorsers en professionele administratiewe steundienstepersoneel – wat saamwerk om ’n omgewing te skep waar ontdekking, kreatiwiteit en transformasie floreer.
- Met ons jaarlikse #DagInDieLewe-veldtog in Mei deel ons die stories van personeel aan die Universiteit Stellenbosh (SU) wat ’n deurslaggewende rol speel in die impak van die instelling.
As Hoof van Taaldienste by die Universiteit Stellenbosch Taalsentrum speel Marguerite van der Waal ’n belangrike rol in die bevordering van meertaligheid, inklusiwiteit en effektiewe kommunikasie regoor die Universiteit. Met haar probleemoplossende benadering, oog vir detail en samewerkingsgees streef Van der Waal daarna om begrip deur taal te bou.
Wat behels jou rol by die US?
My rol as Hoof: Taaldienste by die US Taalsentrum plaas my in die bevoorregte posisie om ander te dien terwyl ek bydra tot inklusiwiteit en meertaligheid by die Universiteit. In wese gaan ons werk daaroor om mense te help sê wat hulle wil sê – duidelik, akkuraat en met die regte impak.
Dit kom nie vir almal natuurlik nie, veral nie binne Suid-Afrika se komplekse, meertalige konteks nie. Ons rol is om kommunikasie makliker te maak om te navigeer, om te verseker dat betekenis oor tale heen oorgedra word, en dat kommunikasie doeltreffend werk oor fakulteite, afdelings en gehore heen.
Alhoewel ons hoofsaaklik die US-gemeenskap ondersteun, strek ons dienste ook verder as die Universiteit. Op hierdie manier dra Taaldienste meer breedweg by tot meertalige kommunikasie in Suid-Afrika en speel dit ’n belangrike rol in die ondersteuning van toegang tot inligting oor verskillende kontekste heen.
Hoe lyk ’n tipiese dag by die werk?
Die meeste dae is onvoorspelbaar – en dit is iets wat ek regtig geniet. ’n Groot deel van my dag draai om die hantering van kliënte se behoeftes, die koördinering van projekte en die bestuur van taalpraktisyns se skedules om streng spertye te haal, terwyl ek ook verseker dat taalimplementeringsfondse doeltreffend oor verskillende entiteite heen bestuur word.
Dit is ’n vinnige, sperdatumgedrewe omgewing. Kliënte besef dikwels eers op die laaste oomblik dat hulle taalondersteuning nodig het (as’t ware gister al). Hierdie vlak van druk beteken dat ons te alle tye gefokus, reaktief en oplossingsgerig moet bly.
’n Beduidende deel van my rol behels ook die bou van verhoudings en om nou saam met ons kliëntebasis te werk om hul behoeftes te verstaan, asook hoe doeltreffende kommunikasie hulle bevoordeel en hoe ’n meertalige benadering hul impak kan versterk.
Hoe het jou akademiese opleiding of vorige ervarings jou vir hierdie werk voorberei?
As ek terugkyk, sien ek dat elke fase van my reis op een of ander manier bygedra het. Ek het in die Regsfakulteit begin voordat ek na kommunikasie oorbeweeg het, wat in retrospek sin maak aangesien taal en die presiese gebruik van woorde net so belangrik in die reg is as in enige kommunikasiekonteks.
Oor die jare heen was ek betrokke by byna elke rol by die US Taalsentrum, van studenteassistent tydens my nagraadse studie tot skryfkonsultant, dosent in akademiese geletterdheid, en die aanbied van beginnerafrikaans vir internasionale studente. Soos wat die Sentrum ontwikkel het, het ek ook ontwikkel, en daardie groei word weerspieël in die rol wat ek vandag vervul.
Die belangrikste vaardighede wat ek op hierdie pad ontwikkel het, sluit in om onder druk te werk, om ’n breë oorsig te behou van hoe kommunikasie binne ’n instansie funksioneer, en – die belangrikste van alles – om te luister. Om na kliënte te luister, hul behoeftes te verstaan, taalpraktisyns doeltreffend in te lig, en te verseker dat die finale produk aan die verwagtinge voldoen.
In Suid-Afrika dra taal diep historiese en maatskaplike betekenis, en daar is ’n sterk sensitiwiteit vir hoe dit gebruik word, ook binne hierdie instelling. Om ’n kontakpunt vir taalverwante behoeftes te wees, is daarom ’n verantwoordelikheid wat ek hoog ag. Soms voel my rol baie eenvoudig: “Hoe kan ek help?” Maar daaragter lê die werk om praktiese oplossings te vind en by te dra tot die betekenisvolle implementering van meertaligheid.
Wat geniet jy die meeste van jou rol en werk by die US?
Ek geniet sowel die verskeidenheid tekste wat ons ontvang as die diversiteit van mense met wie ek werk. Geen twee projekte is dieselfde nie, en daar is altyd ’n element van probleemoplossing, veral wanneer dit kom by die vind van die regte terminologie om betekenis akkuraat oor te dra en begrip te verbeter.
Wat die meeste uitstaan, is die samewerking met kollegas regoor die Universiteit. Daar is ’n opregte verbintenis daartoe om kennis toeganklik en inklusief te maak, selfs al is dit nie altyd maklik om te bereik nie. Wanneer kollegas met die Taalsentrum skakel, kan ons daardie voorneme ondersteun deur verhoudings te bou, toegang te ontsluit, en te help om meertaligheid te verskuif van iets wat as ’n uitdaging beskou word na iets wat as ’n geleentheid erken word.
Daar is ook ’n uitdaging in byna elke projek, wat ons deurlopend laat herbesin oor hoe ons werk, die hulpbronne wat ons gebruik, en hoe ons gehalte in ons uitsette verseker.
Vertel ons iets ongewoon oor jouself wat min mense sou verwag.
Ek het ’n ietwat buitengewone vermoë om gesigte te onthou en het eenkeer as deel van ’n “super-herkenner”-toetsgroep (super-recogniser) aan ’n studie van ’n Britse universiteit deelgeneem. Die studie het die idee ondersoek dat uitsonderlike gesigsherkenning ’n skaars eienskap is, en hoe individue met hierdie vermoë velde soos wetstoepassing en sekuriteit kan ondersteun.
Ek vermoed dit verklaar ook my oog vir detail en my geneigdheid om oënskynlik onbelangrike dinge te onthou – ek kan meer vrae as verwag beantwoord oor die aanhou van agterplaashoenders, wat selfs ’n bietjie kennis insluit van die munisipale verordeninge oor die aanhou daarvan in ’n stad. Op besonder veeleisende dae verbeel ek my soms ’n baie stiller toekoms as ’n selfvoorsienende boer (homesteader) in Alaska.