Reuben Masia het al in die kleuterskool verklaar dat hy ’n dokter wou word
Eerstegenerasie- US geneeskundegegradueerde bewys dat drome wat in klein plekke gewortel is, ver kan gaan
- Reuben Lefa Masia, wat aan die Universiteit Stellenbosch (US) gegradueer het met ’n MBChB, kom van Roossenekal, ’n 2,5 km²-kolletjie op die Limpopo-kaart.
- Masia het al in die kleuterskool verklaar dat hy ’n dokter wou word.
- Die US se SOAR-program wat eerstegenerasie-studente ondersteun, het ’n pilaar van ondersteuning verskaf.
Roossenekal, ’n 2,5 km²-kolletjie op die Limpopo-kaart, is die soort dorp “waar die horison naby voel en die plafon vir drome nog nader”. Maar vir Reuben Lefa Masia, wat vandeesweek aan die Universiteit Stellenbosch (US) gegradueer het met ’n MBChB, was dit ook ’n dorp met ’n merkwaardige gees en gemeenskapsgevoel, ’n plek wat hom die oortuiging laat koester het dat “selfs die kleinste plekke reuse kan oplewer”.
Masia het al in die kleuterskool verklaar dat hy ’n dokter wou word. “Ek het daardie oortuiging nooit ontgroei nie. Inteendeel, dit het net sterker geword, aangedryf deur die voorreg om mense op hulle kwesbaarste te kan help, deur ’n fassinasie met die menslike liggaam, en deur die droom om terug te keer huis toe, toegerus om die siektes te beveg wat ons gemeenskappe teister.”
By die Laerskool Roossenekal het sy onderwysers volgens Masia “ons geïnspireer met ’n oortuiging veel groter as die dorp self. Hulle het elke dag daar aangekom met vuur in hulle stemme en hoop in hulle hande. Hulle het ons jong gedagtes gevorm om te glo daar bestaan geen grense nie.”
Hoërskool het hom van St Thomas-kollege in Burgersfort na die Hoërskool Lydenburg in Mpumalanga geneem, waar hy lewenslange vriende, mentors en herinneringe gemaak het. “Elke skool, elke onderwyser, elke oomblik het my gebeitel tot wie ek vandag is.”
US was altyd sy eerste keuse
Toe dit gekom het by die keuse van waar om te studeer, het die US lank voordat hy aansoek gedoen het al uitgestaan. Hy het elke mediese skool in die land nagevors, maar die keerpunt het in matriek gekom toe hy gekies is om ’n ten volle geborgde kamp by die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe by te woon. Daardie ondervinding het nie net sy droom bevestig nie, sê hy, “dit het gefluister dat dit hier is waar my storie moes ontvou”.
Brûe bou
Om ’n eerstegenerasie-student te wees is “ ’n eer én ’n swaar las”, erken hy. “Jy loop by vertrekke in waar jou bloedlyn nog nooit ’n voet gesit het nie. Daar is geen bloudruk nie, geen voetspore om te volg nie. Net geloof, moed en die hoop dat jy sade plant vir diegene wat ná jou kom.”
Daar was dae toe die las oorweldigend gevoel het. Maar deur elke oomblik van twyfel het hy nooit alleen gevoel nie. Sy familie het hom al die pad ondersteun, selfs al het hulle nie die akademiese druk waaronder hy gebuk gegaan het, heeltemal verstaan nie. “Wanneer ek eksamen geskryf het, het dit gevoel asof hulle saam met my skryf,” sê hy. “Hulle geloof in my het ’n brug oor my selftwyfel gebou.”
Die US se SOAR-program wat eerstegenerasie-studente ondersteun, het nog ’n pilaar van ondersteuning verskaf. Vriendskapsbande is gesmee, ondersteuningstelsels versterk en die jaarlikse SOAR-byeenkoms het as ’n herinnering gedien dat die reis moontlik is. “Dit is nie ’n oordrywing om te sê SOAR het my deur al ses jaar van hierdie graad help dra nie,” sê hy.
Musiek en geneeskunde
Masia se tyd by die US is nie net deur die geneeskunde verryk nie, maar ook deur musiek. Hy was vir vier jaar ’n lid van die wêreldbekende Stellenbosch Universiteitskoor – die verwesenliking van ’n lank gekoesterde droom.
“Vir vier jaar – lank genoeg om as ’n graad op sigself te tel – het ek tussen stemme vanoor die land heen gestaan en stories, kulture en siele in harmonieë versmelt wat genees en geïnspireer het.”
Hy sê musiek het hom deur hartseer, uitputting en vrees ondersteun. Dit het hom herinner aan die skoonheid in homself en die wêreld.
Onder die leierskap van André van der Merwe het hy van die wêreld se mees komplekse koorwerke uitgevoer en na verskeie vastelande gereis. Een van sy onvergeetlikste oomblikke was om op die verhoog in Tokio, Japan, te staan en voor ’n gehoor van 5 000 mense op te tree. Dit was ’n herinnering, sê hy, “dat musiek oseane kan oorkruis en harte kan binnedring”.
Van klein beginne tot groot prestasies
Hoewel hy dalk uit ’n klein dorp afkomstig is, het Masia se reis hom om die wêreld geneem. Hy het ’n referaat by die Internasionale Chirurgieweek in Oostenryk aangebied, ’n somerprogram by King’s College Londen voltooi, saam met die US Koor in Tokio opgetree, ’n traumachirurgie-keusevak by die Northwestern Memorial Hospitaal in Chicago onderneem, by die organiserende span van ’n internasionale program vir toekomstige chirurge in Kuala Lumpur aangesluit en sy voorgraadse neurochirurgie-navorsing op twee belangrike platforms in Suid-Afrika aangebied.
Elke mylpaal, sê hy, het soos nog ’n herinnering gevoel dat drome wat in klein plekkies gewortel is, jou ver kan vat. “Niks daarvan sou moontlik gewees het sonder die onwrikbare ondersteuning van die US nie.”
Die twyfel beveg
Akademies was sy grootste uitdaging nie die werkslading nie; dit was om homself te oortuig dat hy daar gehoort het. “Bedrieër-sindroom (imposter syndrome) het my oral gevolg: saalrondes, tutoriale, voorleggings. Dit het my stem laat krimp en my laat twyfel aan my plek.”
Geleidelik het alles verander. ’n Keerpunt was om Marianne Williamson se bekende woorde te internaliseer: “Our deepest fear is not that we are inadequate. Our deepest fear is that we are powerful beyond measure.”
“Ek het besef God kies nie die gekwalifiseerdes nie – Hy kwalifiseer diegene wat Hy roep,” sê hy. En van daardie oomblik af het hy die volheid van wie hy besig was om te word, betree.
Inspirasie van alledaagse helde
Dwarsdeur dit alles het hy inspirasie geput uit sy ouers, wat volgens hom ’n lewe gebou het wat deur volharding, opoffering en liefde gedefinieer is ondanks hulle moeilike omstandighede.
Hy voeg by dat akademiese inspirasie oorvloedig te vinde was by vriende, karakters in boeke en rolprente, mentors en alledaagse helde in die hospitaalgange.
Toekomsblik
As hy dink aan sy graduering, sê Masia hy voel asof hy op die rand staan van wat hy “’n uitgestrekte en oop horison” noem. Hy beplan om met deernis te dien, om menslikheid en uitnemendheid na elke hospitaalkamer te bring, en om by te dra tot stelsels wat vriendeliker en toegankliker is, veral vir onderbediende gemeenskappe soos dié waaruit hy kom.
Op lang termyn hoop Masia om in neurochirurgie te spesialiseer. Maar bo alles, sê hy, wil hy elke dag wakker word met die voorreg om te doen wat hy liefhet: “Om mense te dien, my gemeenskap te dien en my lewe aan betekenisvolle werk te wy.”
Sy boodskap aan ander eerstegenerasie-studente wat hulle weg in hulle onderskeie vakgebiede baan, is: “Breek daardie generasieplafonne. Stap in vertrekke in waar jou bloedlyn nog nooit was nie. Jy is nie alleen nie; jy sal nooit alleen wees nie.”