Skip to main content
G20 and TUM
Image by: Starline on Freepik

Die Beleidslaboratorium aan die Universiteit Stellenbosch (US) is deel van 'n internasionale vennootskap wat formeel 'n rigtinggewende beleidsverslag wat die evolusie van die G20 se digitale agenda naspoor, aan Suid-Afrikaanse regeringsvennote oorhandig het.

Persverklaring Ekonomie, ondernemingsbestuur en openbare bestuur

US deel van wêreldwye span wat rigtinggewende G20 digitale agenda-ontleding lewer

Anél Lewis
Senior journalist
10 Maart 2026
  • Die Beleidslaboratorium aan die Universiteit Stellenbosch (US) is deel van 'n internasionale vennootskap wat formeel 'n rigtinggewende beleidsverslag wat die evolusie van die G20 se digitale agenda naspoor, aan Suid-Afrikaanse regeringsvennote oorhandig het.
  • Die onlangse oorhandigings is gesamentlik deur die Beleidslaboratorium en die Tegniese Universiteit van München (TUM) Dinktenk, in samewerking met die Globale Netwerk van Internet- en Samelewingsentrums aangebied.
  • Die verslag is formeel aan amptenare van die Departement van Kommunikasie en Digitale Tegnologieë en lede van die G20 Se Digitale Ekonomie-werkgroep van Suid-Afrika se presidentskap oorhandig.

Die Beleidslaboratorium aan die Universiteit Stellenbosch (US) is deel van 'n internasionale vennootskap wat formeel 'n rigtinggewende beleidsverslag wat die evolusie van die G20 se digitale agenda naspoor, aan Suid-Afrikaanse regeringsvennote oorhandig het.

Die onlangse oorhandigings is gesamentlik deur die Beleidslaboratorium en die Tegniese Universiteit van München (TUM) Dinktenk, in samewerking met die Globale Netwerk van Internet- en Samelewingsentrums aangebied

Dit het as die amptelike bekendstelling en oordrag van die verslag, The Evolution of the G20 Digital Agenda (‘Die evolusie van die G20-Digitale Agenda’), aan amptenare van die Departement van Kommunikasie en Digitale Tegnologieë en lede van die G20 Digitale Ekonomie-werkgroep van Suid-Afrika se G20-presidentskap gedien.

Die verslag ontleed meer as 200 amptelike G20- en T20-dokumente uit die presidentskappe van Indonesië (2022), Indië (2023), Brasilië (2024) en Suid-Afrika (2025). Dit ondersoek hoe hierdie lande gesamentlik wêreldwye digitale norme oor drie kernpilare gevorm het: digitale transformasie, digitale openbare infrastruktuur en kunsmatige intelligensie. 

Om 'n historiese Globale Suide-oomblik vas te vang 

Prof Willem Fourie, voorsitter van Beleidsinnovasie en stigter van die US se Beleidslaboratorium, het by die opening van die geleentheid die verslag as 'n belangrike mylpaal beskryf om boodskappe van die presidentskappe van Indonesië, Indië, Brasilië en Suid-Afrika saam te bring.

"Middelinkomstelande het vir vier agtereenvolgende jare – wat saamgeval het met buitengewone tegnologiese versnelling – die G20-digitale agenda gelei," het Fourie gesê. "Hierdie verslag vang vas hoe hierdie presidentskappe op mekaar gebou het en wêreldwye beleidsamehang verseker het." 

Dr Markus Siewert, direkteur van die TUM Dinktenk, het in sy openingsopmerkings hierdie gevoelens herhaal en bygevoeg dat "ons nie die belangrikheid van vennootskappe oor nasionale grense heen – veral tussen Duitsland en Suid-Afrika – kan oorskat om impakvolle en samehangende beleidmaking in hierdie era van omwenteling moontlik te maak nie". 

Drie pilare van digitale beleidsontwikkeling  

James Haw van die US se Beleidslaboratorium en Fernanda Sauca van die TUM Dinktenk het die redigering en koördinering van die verslag gelei. Die verslag toon aan hoe elke presidentskap die G20 se digitale agenda aan die hand van drie pilare verdiep en verfyn het: digitale transformasie, digitale openbare infrastruktuur (DOI) en kunsmatige intelligensie (KI). 

Digitale insluiting het oor die vier presidentskappe heen van Indonesië se mensgesentreerde post-pandemiese herstelraamwerk tot Indië se integrasie van konnektiwiteit in digitale openbare infrastruktuur en vaardigheidsraamwerke ontwikkel. Brasilië het meetbare gehaltemaatstawwe ingestel onder 'n visie van universele en betekenisvolle konnektiwiteit, het Haw verduidelik. 

Suid-Afrika het 'n raamwerk bevorder wat op universele en billike digitale insluiting fokus, met aandag aan klein besigheidsekosistelsels en nie-infrastruktuurhindernisse soos toegang tot energie en digitale veiligheid. 

DOI het van 'n agtergrondgroep "instaatstellers" in 'n hoeksteen van die G20-agenda ontwikkel, het die redakteurs opgemerk. Indië het DOI deur 'n toegewyde raamwerk geformaliseer, Brasilië het reggebaseerde bestuurswaarborge en beskerming vir nie-digitale alternatiewe bygevoeg, en Suid-Afrika het 'n Raamwerk vir Openbare Waardemeting bekendgestel om die tasbare sosio-ekonomiese voordele van DOI-beleggings te assesseer. 

KI-oorisgbestuur het soortgelyk van 'n subkomponent van digitale transformasie na 'n sentrale ontwikkelingsprioriteit gevorder. Suid-Afrika se presidentskap het die KI vir Afrika-inisiatief en die Tegnologiebeleidshulpfasiliteit van stapel gestuur, met die fokus op rekenaartoegang, verteenwoordigende datastelle en soewereine KI-vermoëns vir die vasteland, het Haw gesê. 

Haw het gesê die bevindings toon 'n ongewone mate van kontinuïteit tussen presidentskappe, met elke jaar wat op die grondslag van die vorige een voortbou.

Relevansie vir Suid-Afrika en die vasteland van Afrika 

Fourie het gesê die verslag beklemtoon Suid-Afrika se rol as die eerste Afrika G20-presidentskap en sy klem op die belyning van digitale bestuur met die Afrika-unie se langtermynontwikkelingsvisie.

Die verslag is formeel aan amptenare van die Departement van Kommunikasie en Digitale Tegnologieë en lede van die G20 Se Digitale Ekonomie-werkgroep van Suid-Afrika se presidentskap oorhandig. 

"G20-presidentskap roteer jaarliks. Hierdie verslag dien dus as 'n seldsame institusionele geheue-instrument, wat vasvang hoe elke presidentskap op die vorige gebou het. Die formele oordrag aan regeringsvennote verseker dat hierdie kennis bewaar word en toekomstige betrokkenheid kan inlig," het prof Kanshukan Rajaratnam, Direkteur: Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke, gesê. "Die verslag dien ook as 'n grondslag vir toekomstige digitale samewerking namate die G20-agenda 'n nuwe leierskapsfase betree." 

*The Evolution of the G20 Digital Agenda: A Synthesised Analysis of the Presidencies of Indonesia, India, Brazil and South Africa. Geredigeer en verfyn deur J Haw, F Sauca, A Molnar, A Khan.

Verwante stories