Skip to main content
Dr Florence de Vries completed a PhD that interrogated how journalism shapes mental health narratives in South Africa.
Image by: Stefan Els
Persverklaring Kunste, tale en sosiale wetenskappe Institusionele nuus

Dr Florence de Vries se PhD deur verlies en sorg gevorm

Hannelie Booyens
Senior Writer, Corporate Communications and Marketing
12 Desember 2025
  • Kommunikasieleier voltooi 'n PhD wat ondersoek hoe joernalistiek geestesgesondheidsnarratiewe in Suid-Afrika vorm.
  • De Vries omskep persoonlike verlies en geleefde ervaring in 'n studie wat is in sorg, empatie en verantwoordelikheid gefundeer is.
  • Haar navorsing doen 'n oproep om nuuskamerkulture wat geestesgesondheidsverslaggewing as 'n daad van openbare diens eerder as 'n spektakel beskou.

Dr Florence de Vries het haar loopbaan daaraan bestee om sorgvuldig te dink oor die krag van storievertelling – wie dit gebruik, wie daarby baat en wie benadeel kan word deur die manier waarop 'n storie vertel word. As hoof van Bemarking en Kommunikasie by die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, werk die voormalige joernalis daagliks op die kruispunt van openbare gesondheid, wetenskap en narratief.

Om vandeesweek met 'n PhD in Joernalistiek te gradueer wat fokus op hoe die Suid-Afrikaanse media geestesiektes deur 'n etiek-van-sorg-lens raam, is 'n natuurlike uitvloeisel van haar professionele instinkte én haar persoonlike geskiedenis. 

De Vries het lank voor sy haarself kon indink om 'n proefskrif te skryf, haar na hierdie onderwerp gewend. "Geestesiektes het my nog altyd gefassineer – veral hoe dit in die media uitgebeeld word en die invloed van daardie uitbeeldings op openbare begrip," verduidelik sy. Gesprekke met haar toesighouer, emeritus-professor Lizette Rabe, het lig op 'n teoretiese pad gewerp wat alles wat sy jare lank reeds deurdink het, duidelik gemaak het. Die etiek van sorg het 'n raamwerk gebied wat in empatie en verhoudingsverantwoordelikheid gewortel is; 'n manier om te vra of die joernalistiek mensliker op mense se lewenswerklikhede kan reageer.

Die werk het haar op maniere uitgedaag wat sy nie voorsien het nie. Dit sou haar anker gedurende 'n tydperk van diepe smart word toe sy albei haar ouers binne 'n kort tydjie verloor het. "Hulle was die stille argitekte van wie ek geword het," sê sy. "Dit was verwoestend om albei te verloor en ek het gesukkel om te funksioneer en hierdie navorsing te voltooi terwyl ek my hartseer verwerk het." Haar PhD is aan hulle nagedagtenis opgedra.

Herformulering van geestesiekte in die openbare oog 

De Vries se navorsing het op News24 se dekking van die tennisspeler Naomi Osaka en die gimnas Simone Biles gefokus. Albei atlete het wêreldwye verwagtinge in 2021 ontwrig toe hulle geestesgesondheid bo mededinging gekies het. Osaka het aan die Franse Ope onttrek en het depressie en angs as rede aangevoer. Biles het aan verskeie Olimpiese byeenkomste onttrek om haar welstand te beskerm. De Vries het hulle besluite as deurslaggewende kulturele oomblikke erken. "Hulle gevalle het 'n sterk motivering gebied om te bestudeer hoe die media geestesgesondheid raam, aangesien die atlete as katalisators vir breër gesprekke oor geestesgesondheid, druk op en verwagtinge vir elite-atlete gedien het," merk sy op.

Wat haar geïnteresseer het, was nie die beroemdheid nie, maar die openbare reaksie: verontwaardiging, empatie, ongeloof, bewondering. Medianarratiewe, voer sy aan, vorm die morele klimaat waarin daardie reaksies ontstaan. En baie narratiewe, selfs dié wat goed bedoel, voldoen steeds nie aan die sensitiwiteit wat geestesgesondheidsverslaggewing vereis nie.

Een van haar kwellendste bevindings was hoe selde joernaliste hulle tot die etiese riglyne wend wat reeds beskikbaar is. "Hulle is bewus van riglyne en kodes, hulle word net nie aangemoedig, of het nie die behoefte of tyd, om hulleself daarmee vertroud te maak nie." Visuele snelskrif het haar ook bekommer. Die roetinegebruik van “kopvashou”-foto’s – 'n standaardfiguur met hulle kop in hulle hande – het vir haar verkleinerend en stigmatiserend voorgekom.

Tog het sy hoop gevind. Suid-Afrikaanse gesondheidsjoernaliste, voer sy aan, toon 'n werklike aandagtigheid teenoor die behoeftes van ander. "Hulle lyk meer ingestel op die behoeftes van ander wanneer dit by verslagdoening oor geestesiektes kom," sê sy. Daardie sensitiwiteit is die kern van sorgetiek: 'n benadering wat verhoudings, empatie en werklike menslike behoeftes bo abstraksie of sensasie stel. 

Smart, veerkragtigheid en 'n filosofie van moontlikheid 

De Vries se intellektuele helderheid het haar nie teen die gewig van persoonlike verlies beskerm nie. Haar ouers se dood het haar navorsing in pynlike fokus gebring. Om stigma te bestudeer terwyl jy rou-geïnduseerde depressie navigeer, het 'n nuwe woordeskat vereis, een wat sy nog net begin vorm het. "My navorsing en voorspraak het my die begin van 'n taal gegee om verlies te bestuur en daaroor te praat," sê sy. Sy vra nie om verskoning daarvoor dat sy haar eie depressie noem nie. Stigma, merk sy op, bly "'n baie werklike, baie ondeursigtige hindernis wat jou verhoed om goed te leef".

Die verhaal van haar ma – 'n vrou wat haar dogters grootgemaak het om meer waarde aan kennis as konvensie te heg – is deur De Vries se identiteit as kommunikeerder en vakkundige verweef. "Sy het geweier om toe te gee aan tradisionele maniere om meisies groot te maak," sê De Vries. Haar ma het doelbewus nie haar dogters geleer kook nie, aangesien sy self van kleins af met daardie verantwoordelikheid belas is. Sy het hulle eerder ingeteken by leesklubs en penvriendnetwerke en hulle horisonne doelbewus verbreed. "Sy het gekies wat sy nie wou oordra nie, wat om te ontwrig en watter toekoms om moontlik te maak." Dit is 'n filosofie wat steeds De Vries se leierskap rig: om potensiaal te beskerm, sê sy, en mense te sien vir die plekke waar hulle kan gaan.

Haar beste geestesgesondheidsadvies weerspieël daardie sorgetiek. "Jy kan vir niemand sorg as jy nie vir jouself sorg nie," sê sy – 'n waarheid wat sy eens verwerp het en nou as fundamenteel erken.

Om gesprekke te vorm wat saak maak 

De Vries werk as hoof van kommunikasie in 'n komplekse akademiese en kliniese omgewing voortdurend daaraan om te wys dat strategiese storievertelling nie op die buiterand van die werk van 'n gesondheidswetenskappefakulteit staan nie. Sy sien kommunikasie as 'n bemiddelaar vir akademiese uitnemendheid, kliniese impak en maatskaplik-georiënteerde inisiatiewe. "Ek is 'n groot voorstander daarvan om ons deurbrake, uitsonderlike navorsers en bydraes tot openbare gesondheid ten toon te stel – ook as 'n strategiese hulpmiddel om die beste studente en personeel te lok."

Haar openbare vakkundigheid strek verder as die kampus. Sy skryf gereeld vir die Daily Maverick oor geestesgesondheid en dien in die raad van die Ithemba-stigting, 'n organisasie wat bewustheid oor geestesiektes verhoog. Die PhD het haar oortuiging versterk dat taal uiters belangrik is. "Taal wat stigmatiseer is so diep gewortel dat my eie gesondheidsorgverskaffers nie daarvan vrygestel is nie," sê sy. Sy hersien nou haar proefskrif met die doel om publiseerbare artikels te ontwikkel om gesprekke in nuuskantore, universiteite en openbare gehore aan te wakker.

De Vries gaan haar gradeplegtigheid stilweg saam met vriende, familie, haar man en haar dogter vier. Die oomblik sal net soveel deur afwesigheid as deur prestasie gekenmerk word. Tog dui dit die hoogtepunt van 'n studie aan wat op sorg, verlies, veerkragtigheid en die geloof gegrond is dat joernalistiek 'n krag vir waardigheid eerder as verdraaiing kan wees. 

Verwante stories