Die bekende radioloog emeritus-professor Jan Lotz, het sy PhD in toegepaste etiek aan die Universiteit Stellenbosch op 78-jarige ouderdom verwerf.
Doelgerigtheid te midde van die pyn – bekende radioloog prof Jan Lotz gradueer met ’n PhD op 78
- Die bekende radioloog emeritus-professor Jan Lotz, het sy PhD in toegepaste etiek aan die Universiteit Stellenbosch op 78-jarige ouderdom verwerf.
- Die moord op sy enigste dogter, Inge, in 2005 het ’n diepgaande invloed op sy lewe gehad. Onderrig en mentorskap van jong registrateurs het sy bron van doel en genesing geword en hy het sy PhD-proefskrif aan haar opgedra.
- Na 'n traumatiese breinbesering en maande se herstel, het Lotz beduidende fisiese en kognitiewe hindernisse oorkom om sy PhD te voltooi.
Op 78, ’n ouderdom waarop baie van sy eweknieë ’n stil aftrede geniet, het emeritus-professor Jan Lotz vandeesweek die verhoog bestyg om sy PhD in toegepaste etiek by die Universiteit Stellenbosch (US) se Desember-gradeplegtigheid te ontvang.
Hy het by die US se Afdeling Radiodiagnose afgetree nadat hy tussen 2005 en 2017 ’n akademiese medeprofessoraat beklee het wat deur ’n konsortium van private radiologiese praktyke geborg is. Gedurende hierdie jare het hy verantwoordelikheid aanvaar vir die modulêre nagraadse onderrigprogram in die Afdeling Radiodiagnose. Sedert sy aftrede dien hy die afgelope agt jaar as emeritus-professor in Radiologie (Akademies) in die Afdeling Radiodiagnose.
Dié posisie het ’n nuwe hoofstuk ingelui van leer en ’n bydrae maak, sê Lotz. “Dit het my die geleentheid gegee om saam met briljante jongmense te werk wat gretig is om te studeer.”
Dit het ook ’n uitkoms gebied gedurende die donker dae ná die moord op sy enigste dogter in 2005.
Hy beskryf die tragiese dood van Inge, wat destyds ’n 22-jarige US-student was, as “een van die ergste tragedies wat enige mens kan tref” en erken daar was baie dae wat hy homself afgevra het of dit die moeite werd is om “aan te gaan”. Om jong kliniese assistente te kon onderrig en mentor het hom “iets gegee om voor te leef”, sê hy.
Die herinnering aan Inge, twee dekades ná haar dood, bly ’n stille bron van krag en motivering vir Lotz.
Onder “Erkennings” in sy PhD-tesis, nadat hy sy studieleiers bedank het, staan daar eenvoudig: “Vir Inge”.
Nuwe vakgebiede verken
Die bekende radioloog het hom ná dekades in kliniese geneeskunde en onderrig ook in die vakgebied van toegepaste etiek verdiep en ’n nagraadse diploma en ’n MPhil (in 2020) voltooi voordat hy met sy doktorale navorsing begin het. Lotz se PhD evalueer die etiese grondslag van Suid-Afrika se voorgestelde Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) en is ’n kritiese ondersoek na sommige van die dringendste morele vraagstukke wat die land se toekomstige gesondheidsorglandskap vorm.
Lotz, hoogs bekwaam en gerespekteerd in sy vakgebied, is geen vreemdeling vir loopbaanmylpale nie. Hy het homself ook op die regsgeneeskundge terrein onderskei en het talle kundige menings oor afgehandelde en voortgesette siviele regsgedinge gelewer met betrekking tot pasgeborenes met breinskade weens onvoldoende suurstof- of bloedtoevoer. Hy skat hy was by ongeveer 250 sake betrokke en voeg by: “Ek kan nie onthou dat ek ooit ’n saak verloor het nie.”
Maar hierdie spesifieke akademiese erkenning resoneer dieper, sê hy waar hy in sy sonnige kantoor gesels, omring deur boeke wat oor ’n leeftyd van leer en studie versamel is.
Uitdagings oorkom
’n Ernstige val kort nadat hy vroeër vanjaar sy proefskrif voor die Maart-gradeplegtigheid ingedien het, het ’n traumatiese breinbesering tot gevolg gehad. Hy was drie weke lank in ’n koma en het maande in die hospitaal en rehabilitasie deurgebring, soms sonder sekerheid dat hy ten volle sou herstel, wat nog te sê van terugkeer na die veeleisende intellektuele werk om sy PhD te finaliseer.
Wat gevolg het was ’n stadige, vasberade herstel gekenmerk deur veerkragtigheid, dissipline en standvastige hoop. Hy het teen alle verwagtinge in sy krag herwin en sy mondelinge eksamen voltooi, waarmee hy die laaste hindernis na graduering oorkom het. Hy ervaar nou nog balansprobleme en korttermyngeheueverlies.
Afsluiting en viering
Hierdie PhD is ook die “einde van die pad” vir ’n mediese praktisyn wat ’n groot deel van sy lewe daaraan gewy het om ander te help. “Ek het my mediese boeke weggegee,” sê hy met finaliteit. Daar sal nie weer lesings wees nie, geen konsultasies oor hipoksies-iskemiese beserings by babas nie. Dit is ’n oomblik van afsluiting sowel as ’n viering. “Dit is nie die lewe wat ons (Lotz en sy vrou, Juanita) wou hê nie – om heeltemal alleen te wees. Maar ons het daarin geslaag om deur hierdie groot tragedie te leef. Die enigste manier om dit te oorleef, was deur terug te gee, veral aan jongmense.”
Dit is dus besonder aangrypend vir Lotz om saam met Gaenor Michel te gradueer wat ’n beurs ontvang het om haar PhD te voltooi. Dié beurs is gedeeltelik deur die R1 miljoen-skenking gefinansier wat die Inge Lotz-stigting in 2021 aan die Universiteit se Eenheid vir Bio-etiek gemaak het. Die Stigting is ter nagedagtenis aan Inge begin.
“Dit was ’n voorreg om haar te kon help,” sê Lotz, wie se eerste ontmoeting met Michel deur sy val vertraag is. Hy het die geleentheid om by dieselfde gradeplegtigheid te gradueer as “iets spesiaals vir ons albei” beskryf.