Oop toegang
Wat is oop toegang?
Oop toegang (open access (OA)) verwys na die praktyk om onbelemmerde toegang deur middel van die Internet te verleen tot vakkundige portuurbeoordeelde navorsingsartikels, tesisse, proefskrifte/verhandelings, monografieë en hoofstukke in boeke. Toegang daartoe is onmiddellik en intyds, en die inhoud word gratis beskikbaar gestel aan eindgebruikers.
Outeurs wat in die Ooptoegangsomgewing publiseer, doen dit gewoonlik onder die Creative Commons Attribution-lisensie wat gratis en onmiddellike toegang tot, en onbeperkte gebruik van, oorspronklike werk in alle formate toelaat. Onder hierdie lisensie maak navorsers hul navorsingsinhoud wettig beskikbaar vir hergebruik, sonder dat skriftelike toestemming benodig word, of enige fooie betaalbaar is, en ook vir bykans enige doeleinde. Enigeen mag die navorsingsinhoud kopieer, versprei of hergebruik, met die voorwaarde dat die outeur(s) en oorspronklike bron volledig aangehaal en erken word.
Voordele van oop toegang
- Bespoedigde vind van navorsingsmateriaal. Oop toegang help navorsers om navorsing deur ander navorsers te lees, en op daardie navorsingsbevindings voort te bou, wat weer lei tot nuwe resultate en nuwe navorsing.
- Openbare belang en verryking. Baie wetenskaplike en mediese navorsing word met staatsfondse befonds. Oop toegang gee aan belastingbetalers die geleentheid om voordeel te trek uit dit waarin hulle belê het.
- Verbeterde onderwys. Oop toegang beteken dat opvoeders en hul studente onbelemmerde toegang het tot die nuutste navorsingsbevindinge wêreldwyd.
- Data-ontginning en teks-ontginning. Die semantiese web, waarin data-ontginning en teks-ontginning plaasvind, kan slegs funskioneel wees indien materiaal openlik toeganklik is. Sodoende word nuwe kennis gegenereer vanuit bestaande bevindinge.
Definisies van oop toegang
Die drie oorspronklike, formele definisies van oop toegang het hul oorsprong in die drie oprigtingsooreenkomste wat aangegaan is, naamlik die Boedapest (2002), Bethesda (2003) en Berlyn (2003) definisies. 'n Vierde belangrike verklaring is die bygewerkte Boedapest BOAI10 aanbevelings.
Aankondiging: IFLA Open Access vocabulary gepubliseer
Vrae en antwoorde
Oop toegang kan beskryf word as gratis, onmiddellike aanlyntoegang tot navorsingsresultate en die reg om hierdie resultate te gebruik en hergebruik soos nodig.
Uitgewers stel navorsingsartikels onmiddellik gratis beskikbaar in eweknie-beoordeelde vaktydskrifte. Fooie vir die hantering van navorsingsartikels ("Article Processing Charges") of outeursfooie mag van toepassing wees.
Outeurs gee toestemming om hul gepubliseerde artikel gratis beskikbaar te maak in 'n institusionele bewaarplek. Embargo's mag van toepassing wees, afhangend van die uitgewer se beleid.
Bespoedigde vind van navorsingsmateriaal, verbeterde sigbaarheid van navorsingsuitsette, openbare belang en verryking en algemene verbeterde onderwys is van die voordele van oop toegang.
Definisies
Enige weergawe van 'n navorsingsartikel voor eweknie-beoordeling en publikasie, normaalweg die weergawe wat deur die outeur aan die tydksrif voorgelê word. Voordrukke word normaalweg nie in institusionele bewaarplekke gehuisves nie aangesien dit nie aan eweknie-beoordeling onderworpe was nie.
Die finale weergawe van die eweknie-beoordeelde manuskrip met hersienings bygewerk. Dit staan ook bekend as die aanvaarde outeursmanuskrip. Hierdie weergawe kan moontlik formaterings-, uitleg- en pagineringsveranderinge na afloop van kopieredigering insluit.
Die uitgewersweergawe van die artikel wat in die vaktydskrif verskyn. Dit sluit alle uitgewersaktiwiteite soos teksredigering, formatering, en indien van toepassing, paginering, in.
'n Fooi wat die uitgewer verhaal om die hanteringskoste m.b.t. die prosessering van 'n navorsingsartikel te dek.
'n Digitale argief vir die bewaring en beskikbaarstelling van navorsingsuitsette van 'n instansie, bv. tesisse, proefskrifte, navorsingsartikels en konferensiereferate. SUNScholar is die institusionele bewaarplek van Universiteit Stellenbosch.