US-innoveerders presteer by die eerste Akademiese Innovasietoekennings toekennings van die Kaapse Kamer van Koophandel en Nywerheid
- Die Kaapse Kamer van Koophandel en Nywerheid het verlede week vir die eerste keer ’n Akademiese Innovasietoekenningsgeleentheid gehou om die innoveerders te vereer wat ekonomiese groei in die Wes-Kaap dryf.
Die Kaapse Kamer van Koophandel en Nywerheid het verlede week vir die eerste keer ’n Akademiese Innovasietoekenningsgeleentheid gehou om die innoveerders te vereer wat ekonomiese groei in die Wes-Kaap dryf. Die geleentheid, aangebied deur MTN Suid-Afrika in vennootskap met die Kaapse Hoër Onderwyskonsortium, het tien uitmuntende akademiese innoveerders erken vir hul beduidende vordering in 2024.
As bewys van die Universiteit Stellenbosch (US) se florerende innoveringsekosisteem, het entrepreneurs van die US met vyf uit die tien toekennings weggestap. Al vyf wenners is produkte van die US LaunchLab se inkubasieprogram, waar hulle steeds entrepreneuriese ondersteuning ontvang om hul onderskeie ondernemings uit te brei.
Prof Eugene Cloete, hoof- uitvoerende beampte van die Kaapse Hoër Onderwyskonsortium, het die toekennings aan Stellenbosch-wenners oorhandig. Onder hulle was Chiedza Vusche, Robin Truter en Alexandra Lutz, wat die Universiteitstudent-innovasietoekenning ontvang het. Die trio was ook verlede jaar wenners by die Entrepreneurskap-ontwikkeling in Hoër Onderwys se streekkompetisie.
Daarbenewens is twee US-afwentelmaatskappye, Nanosene en Terraclim, aangewys as Universiteitsafwentelmaatskappy van die Jaar, saam met twee ander loodsondernemings van ander akademiese instellings. Die Universiteit Stellenbosch Enterprise (USE) portefeulje bestaan uit 35 maatskappye en groei steeds jaarliks.
Die geleentheid dien as ’n voorloper vir die Kamer se Nywerheidstoekennings op 10 Junie 2025, waar die wenners erken sal word op grond van kriteria soos markaanvaarding, eweknie-erkenning, oorspronklikheid van innovering en omvang van bedryfsimpak.
Met die US as die voortounemer, beklemtoon die toekennings die belangrikheid van akademiese innovering in die bevordering van die Wes-Kaap se ekonomiese landskap.
Vir meer inligting oor die Universiteit Stellenbosch LaunchLab, klik hier.