Universiteit Stellenbosch se Verhuringskantoor fasiliteer kommersiële vennootskappe om behoeftige studente te help
- Vir baie studente is die finansiële druk van klasgelde ’n voortdurende uitdaging. Ten spyte van verskeie finansiële hulpgeleenthede, kan ’n beduidende aantal studente steeds nie die koste van hul opleiding dek nie.
Vir baie studente is die finansiële druk van klasgelde ’n voortdurende uitdaging. Ten spyte van verskeie finansiële hulpgeleenthede, kan ’n beduidende aantal studente steeds nie die koste van hul opleiding dek nie.
Die Verhuringskantoor van die Universiteit Stellenbosch (US) het ’n samewerkingsgeleentheid gesien wat studente kan bevoordeel, en het ’n vennootskap tussen OK Urban Tygerberg en Mentos gefasiliteer om ’n kompetisie van stapel te stuur wat ’n totaal van R60 000 tot die klasgeld van geselekteerde studente op die Tygerberg-kampus kon bydra.
Die Verhuringskantoor is verantwoordelik vir die bestuur van US-kommersiële ruimtes, insluitend die Neelsie- en Tygerberg-studentesentrums, wat hulle in staat stel om nou saam te werk met kommersiële handelsmerke en sakevennote. “Ons soek voortdurend maniere om hierdie verhoudings in geleenthede te omskep, nie net vir handel nie, maar om die studentelewe op kampus positief te beïnvloed,” sê Faizel Moos, bestuurder van die US se Verhuringskantoor.
Moos het gesê die Verhuringskantoor, as deel van SUNCOM en die breër Afdeling vir Innovasie en Kommersialisering, speel ’n belangrike rol om besighede met die universiteitsgemeenskap te verbind, geleenthede te identifiseer wat die studentelewe kan verbeter en daardie verhouding strategies te bestuur. “Ons jongste samewerking met Mentos en OK Urban Tygerberg is ’n goeie voorbeeld van hoe vennootskappe gefasiliteer word wat ’n direkte finansiële en sosiale impak het.”
Die kompetisie het 19 Maart gesluit en altesaam tien studente het ’n R10 000-bydrae tot hul klasgeld ontvang.
Vir meer inligting oor wat die US Verhuringskantoor doen, besoek die SUNCOM-webwerf hier.