Universiteit Stellenbosch digitaliseer studentelewe met koshuis-toepassing
- Die Universiteit Stellenbosch (US) is geen vreemdeling vir innovering nie. Afrika se eerste elektriese minibus en ’n vervaardiger van satellietbeheerstelsels is onder meer onlangse innoverings.
Die Universiteit Stellenbosch (US) is geen vreemdeling vir innovering nie. Afrika se eerste elektriese minibus en ’n vervaardiger van satellietbeheerstelsels is onder meer onlangse innoverings. SUNCOM se Afdeling vir Koshuisdienste bou voort op hierdie tradisie met die bekendstelling van ’n digitale studente-toepassing wat ontwerp is om daaglikse prosesse te vereenvoudig, kommunikasie te verbeter en volhoubaarheid te bevorder deur papierlose bedrywighede. Die eerste fase van hierdie projek is ’n loodsprojek wat die uitvoerbaarheid toets van die digitalisering van die US se mees arbeidsintensiewe studenteverwante prosesse in koshuise. Daarna sal die toepassing volskaals geloods word.
US Koshuisdienste, ’n afdeling van SUNCOM (voorheen bekend as Universiteit Stellenbosch Kommersiële Dienste), bestuur die bedrywighede van die Universiteit se studenteverblyfgeboue. Hierdie afdeling deel die US se verbintenis tot uitnemendheid en doen gereeld maatstafbepalings teen plaaslike en internasionale universiteite om te verseker dat bedrywighede aan die US geoptimaliseer word. Dié navorsing het gelei tot die bekendstelling van die toepassing, wat ontwikkel is in vennootskap met Factory209 (F209), ’n US-afwentelmaatskappy wat spesialiseer in die inkubasie van US-kommersiële ondernemings.
Geraldine Minnaar, Bestuurder van Koshuisdienste, het haar opgewondenheid oor die bekendstelling van die studente-toepassing gedeel en die potensiaal daarvan beklemtoon om administratiewe prosesse te vereenvoudig en prosesse te versnel. “Hierdie toepassing sal papierwerk uitskakel en ons in staat stel om die beantwoording van studentenavrae aansienlik te versnel.”
Die implementering sal ingefaseer word, met Nemesia en Dagbreek as proefkoshuise. ’n Opleidingsessie met alle relevante partye is Maandag 27 Januarie 2025 by Nemesia gehou om gereedheid teen 29 Januarie 2025 te verseker. Hierdie voorgraadse koshuise sal die platform begin toets terwyl F209 dit noukeurig monitor. Na suksesvolle implementering en tegniese verbeterings, sal die platform gedurende die tweede semester van 2025 in alle koshuise geloods word.
Belangrike funksies wat deur die toepassing ondersteun word, sluit in die in- en uitklok van studente of gaste by die koshuis, die rapportering van skade en defekte, die registrasie van verhaalbare skade en die hantering van aanspreeklikheidsaanvaarding en -verwerping. Koshuisdienste sal ook die toepassing gebruik vir die bestuur van onderhoudsversoeke, batebestuur, uitsaaiboodskappe van personeel na studente en opnames.
Oor die algemeen verbeter die toepassing kommunikasie, aanspreeklikheid en doeltreffendheid van instandhouding, wat bydra tot ’n beter studente-ervaring.
SUNCOM se Bedryfsdirekteur, Gary Muizenheimer, het die Universiteit se verbintenis tot innovering beklemtoon. Hy sê: “As deel van die Afdeling vir Innovasie en Kommersialisering is ons altyd op soek na nuwe maniere om studente-ervarings te verbeter. Ons is vol vertroue dat die bekendstelling van hierdie toepassing suksesvol sal wees en ’n waardevolle toevoeging tot Koshuisdienste.”
Muizenheimer sê dat Koshuisdienste, in vennootskap met F209, daartoe verbind is om die platform voortdurend te verbeter en aan te pas, om sodoende te verseker dat dit aan die ontwikkelende behoeftes van studente en personeel voldoen.
Klik hier vir meer inligting oor US Koshuisdienste.