Transformasie in cannabis-ekstraksie: Hoe US-navorsers nuwe gebruike vind vir cannabis-afval
- In die mededingende wêreld van medisinale cannabis is doeltreffendheid en volhoubaarheid nie net modewoorde nie, maar word sukses daardeur bepaal.
In die mededingende wêreld van medisinale cannabis is doeltreffendheid en volhoubaarheid nie net modewoorde nie, maar word sukses daardeur bepaal. Tog word tot 50% van die waardevolle verbindings van die plant (die cannabinoïede) in huidige industriële prosesse as afval weggegooi. Om hierdie kwessie aan te spreek, het professore Robert Pott, Eugéne van Rensburg en Neill Goosen van die Universiteit Stellenbosch (US) se Departement Chemiese Ingenieurswese, saam met hul kollega Jan-Hendrik Duminy, ’n proses ontwikkel om dié waardevolle cannabinoïede te gebruik. Met die ondersteuning van die Innovus Tegnologie-oordragkantoor en die universiteit se Afdeling vir Innovasie en Kommersialisering, het hierdie tegnologie die potensiaal om Afrika-produsente se internasionale mededingendheid te verhoog.
Die baanbrekerekstraksie- en suiweringstegnologie optimaliseer die herwinning van waardevolle verbindings uit cannabisplantmateriaal deur die cannabinoïede uit die wasafval te herwin. Die tradisionele ekstraksiemetode wat van oplosmiddels gebruik maak en wat industrieel gebruik word, is dikwels ’n lukrake benadering wat veelvuldige verbindings gelyktydig onoordeelkundig ekstraheer, insluitend ongewenste wasse. Wanneer daardie wasse verwyder word, neem hulle baie van die waardevolle cannabinoïedproduk saam. Deur hul navorsing het die span besef dat hierdie wasafval steeds kosbare verbindings bevat wat net weggegooi word. Die navorsers het vervolgens ’n tegniek ontwikkel om die oplosmiddeltoestande te wysig om sodoende die komponente te skei en by die waardevolle cannabinoïede uit te kom.
Besighede wat hierdie metode toepas, kan tot 95% van die waardevolle verbindings red wat andersins vermors sou word. Die hoeveelhede wat gewoonlik in die was verlore gaan, kan soveel as 50% van die cannabinoïede uit die plantmateriaal wees. Met ’n geprojekteerde interne opbrengskoers van 30-40%, is hierdie oplossing koste-effektief en hou aansienlike finansiële voordele in. Benewens die winste, spreek die proses ook uitdagings aan wat gebied word deur die streng regulasies vir afvalverwydering in die cannabisbedryf. Dit is omdat baie van die verbindings wat oorspronklik in die afvalmateriaal voorkom, beheerde middels is. Die vermoë om hierdie andersins onverkrygbare komponente te onttrek, verminder afvalvolumes en gepaardgaande regulatoriese risiko’s.
Alhoewel hierdie proses aanvanklik uitsluitlik vir cannabis-ekstraksie ontwikkel is, kan dit ook in ander plantgebaseerde ekstraksies gebruik word. Daarbenewens kan die onderliggende chemiese prosesse vir verskillende materiale aangepas word, wat dit veelsydig maak vir breër gebruik in die biotegnologiesektor.
Met gunstige klimaatstoestande, bekwame navorsers en die nuutste tegnologie, sal Suid-Afrikaanse besighede wat hierdie tegnologie lisensieer die potensiaal hê om ’n leier in die globale cannabis-verwerkingsbedryf te word. Die vinnigste roete vir bedryfsaanvaarding sal waarskynlik deur ’n lisensieooreenkoms wees, maar die navorsers is ook oop vir die vorming van strategiese vennootskappe om die tegnologie verder te ontwikkel en uit te brei.
Vooruitskouend beoog die navorsers om hul proses tot industriële vlakke uit te brei en hul tegnieke te verfyn om individuele cannabinoïede met unieke medisinale eienskappe te teiken. Met die regte befondsing en hulpbronne kan hul navorsing die grense van cannabis-ekstraksietegnologie selfs verder verskuif.
Hierdie ontdekking beklemtoon die deurslaggewende rol wat universiteite speel in die omskakeling van navorsing in iets met werklike impak. Deur sterk bande tussen navorsers, befondsers en belanghebbendes in die bedryf te bevorder, help instellings soos die US en Innovus om industriële ontwikkeling en tegnologiese vooruitgang in Afrika en wêreldwyd te bevorder.
Vir inligting en navrae rakende lisensies en vennootskappe, kontak [email protected]
Oor Innovus Tegnologie-oordragkantoor (TTO)
Innovus TTO is deel van die Afdeling vir Innovasie en Kommersialisering aan die US, wat US-personeel en -studente ondersteun om hul uitvindings en intellektuele eiendom te identifiseer, beskerm, bestuur en kommersialiseer tot voordeel van die samelewing. Hulle werk nou saam met fakulteite om nuwe intellektuele eiendom te identifiseer wat in die industrie of samelewing gebruik kan word, en bepaal dan die beste strategie om die intellektuele eiendom te beskerm sodat die kommersiële geleenthede effektief ontwikkel kan word. Innovus TTO maak die kommersialisering van die US se intellektuele eiendom moontlik. Dit vind gewoonlik plaas deur die lisensiëring van die intellektuele eiendom aan ’n kommersiële entiteit of die vorming van ’n afwentelmaatskappy waarin beide die uitvinders en die US aandeelhouers is (deur middel van ’n beheermaatskappy wat vir hierdie doel gestig is).
Die Innovus-span implementeer verskeie programme om ’n kultuur van innovering en entrepreneurskap aan die US aan te moedig en om nakoming te verseker van die regulasies van die Wet op Intellektuele Eiendomsregte uit Staatsgefinansierde Navorsing en Ontwikkeling, Wet 51 van 2008, asook US-beleid ten opsigte van intellektuele eiendom.