Ry groen, ry maklik, ry Matie Bike: Wêreldfietsdag beklemtoon volhoubare mobiliteit op kampus
- Elke jaar op 3 Junie vier die Verenigde Nasies Wêreldfietsdag om die fiets te erken as 'n toeganklike en volhoubare vorm van vervoer wat gesonder gemeenskappe en meer leefbare stede bevorder. Vanjaar se tema, "Cycling for a Greener Future" (Fietsry vir 'n groener toekoms), beklemtoon hoe fietsry vervoerstelsels wêreldwyd meer volhoubaar kan maak.
Vervoerdienste van die Universiteit Stellenbosch (US) dra steeds by tot hierdie wêreldwye fokus deur die Matie Bike-inisiatief, wat daaglikse mobiliteit vir studente en personeel op die Stellenboschkampus ondersteun.
Die Matie Bike het 'n bekende deel van die kampuslandskap geword en bied aan studente en personeel 'n praktiese manier om tussen lesings, vergaderings en koshuise te beweeg. Terselfdertyd verminder dit die afhanklikheid van gemotoriseerde vervoer vir kort ritte en help dit om koolstofvrystellings te beperk.
Meer fietse op kampus bied meer as net gerief. Dit help om verkeer en opeenhoping te verminder en moedig meer aktiewe vorme van vervoer in die alledaagse universiteitslewe aan.
Fietsry het oor die jare 'n sigbare deel geword van hoe die kampus funksioneer, met fietse wat gereeld buite lesingslokale, langs belangrike voetgangerroetes en tussen fakulteitsgeboue gesien word. Dit is lank reeds 'n integrale deel van die studentelewe op US se kampus. Dit lewer 'n klein maar bestendige bydrae tot hoe mense die kampus daagliks ervaar en daardeur beweeg.
Vervoerdienste, as deel van die US Commercial-kantoor (SUNCOM), ondersteun steeds hierdie kultuur deur bestuurde huurdienste en die voorsiening van fietsvriendelike infrastruktuur, insluitend veilige fietsloodse by verskeie plekke op die Stellenboschkampus.
Fietsloodse is tans beskikbaar by verskeie kampusgeboue in Stellenbosch, insluitend:
• Die Lettere- en Sosiale Wetenskappegebou
• Die Polimeerwetenskapgebou
• Die Teologiegebou
• Die Algemene Ingenieursgebou
Studente en personeel wat privaat fietse gebruik, kan ook toegang tot die fietsloodse verkry deur hul fietse by die Vervoerdienstespan te registreer.
Meer inligting oor Matie Bike-huur, fietsregistrasie en toegang tot fietsbergingsfasiliteite is beskikbaar op die US Vervoerdienste-webwerf.
Op Wêreldfietsdag moedig Vervoerdienste almal aan om terug te keer na iets eenvoudig: vervoer wat doeltreffend, omgewingsvriendelik en deel van die alledaagse lewe is.
Ry groen. Ry maklik. Ry Matie Bike.
Vir meer inligting oor Matie Bike en om to registreer, besoek:
https://transport.suncom.co.za/services/bicycles/