Skip to main content

Beligting van KI in navorsing - Lynn Hendricks

KI met die mens as middelpunt: Prof Lynn Hendricks se werk op die kruispunt van gesondheidsgelykheid en innovering

Vir prof Lynn Hendricks gaan kunsmatige intelligensie nie in die eerste plek oor tegnologie nie. Dit gaan eerder oor mense, gelykheid, deelname en die toekoms van gesondheidskommunikasie. Haar werk ondersoek hoe KI kan help om die gaping tussen wetenskaplike kennis en mense se belewenisse te oorbrug, terwyl dit verseker dat innovering op etiek, inklusiwiteit en vennootskappe met gemeenskappe, begrond bly. 'n Oorsig van haar projekte en navorsingstoekennings is beskikbaar op haar webwerf by https://sites.google.com/view/lynnhendricks/.

Liela Groenewald, hoof van die Tygerberg Doktorale Kantoor, het met Hendricks gesels oor haar pad na KI en haar siening van die ingrypende potensiaal van KI om gesondheidsnavorsing en gesondheidskommunikasie te verander.

Sien ook: US navorserprofiel  |    Google Scholar-profiel   |    OrcID

Lynn Hendricks
Image by: SU


Watch StoryRX: AI-Powered Stories for Patients Living with Type II Diabetes: The Co-design workshop on YouTube.

Kyk hierdie video oor prof Lynn Hendricks se gesondheidstorie werkswinkels

Vertel ons 'n bietjie van jouself en waar jou belangstelling in jou navorsingsveld begin het.

Ek is prof Lynn Avril Hendricks. Ek is 'n medeprofessor en lei die COCREATE Research Equity Hub in die Afdeling Gesondheidstelsels en Openbare Gesondheid aan die Universiteit Stellenbosch, asook die Public Square in die Social and Environmental Determinants of Health." 

"My werk gebeur op die kruispunt van maatskaplike geneeskunde, gesondheidsgelykheid, navorsingsetiek en gemeenskapsgerigte navorsing. My akademiese loopbaan was doelbewus transdissiplinêr. Met opleiding in sielkunde, sosiale wetenskappe, openbare gesondheid, epidemiologie en gesondheidsnavorsingsmetodes is ek nog altyd aangetrokke tot komplekse vraagstukke wat perspektiewe uit verskillende dissiplines vereis." 

"Dit het gelei tot 'n benadering wat gesondheidswetenskappe, sosiale wetenskappe, geesteswetenskappe, die kunste en nuwe tegnologieë saambring om hedendaagse gesondheidsuitdagings aan te pak. 'Hoe kan ons meer inklusiewe, etiese en responsiewe ekosisteme vir gesondheid en kennisontwikkeling skep?', is 'n vraag wat ek reeds 'n geruime tyd ondersoek."

"Om op die Kaapse Vlakte groot te word, het my blootgestel aan die werklikhede van ongelykheid en die besef dat gesondheid deur veel meer as gesondheidsorg alleen beïnvloed word. Hierdie ervarings het my belangstelling in maatskaplike geneeskunde geprikkel en my verbind tot 'n beter begrip van hoe armoede, geweld, uitsluiting, die omgewing, kultuur en magsverhoudinge gesondheidsuitkomste vorm. Dit het ook die grondslag gelê vir 'n lewenslange toewyding aan gesondheidsgelykheid en sosiale geregtigheid." 

"Navorsingsgelykheid vorm die kern van my werk. Ek stel belang in wie se stemme in die beskikbare bewyse gehoor word, wie kennis skep, en hoe gemeenskappe op betekenisvolle maniere by navorsingsprioriteite en oplossings betrek kan word. Dit het daartoe gelei dat ek deelnemende, kreatiewe en gemeenskapsgerigte benaderings ontwikkel wat gemeenskappe as vennote in navorsing beskou, eerder as die blote onderwerpe van navorsing." 

"My belangstelling in die mediese geesteswetenskappe spruit uit die oortuiging dat verhale, mense se belewenisse, kreatiwiteit en etiese besinning onontbeerlik is om gesondheid en gesondheidsorg werklik te verstaan. Deur dokumentêre films, uitstallings, storievertelling, kunsgebaseerde metodes en digitale innovasie probeer ek die gaping tussen wetenskaplike bewyse en menslike ervaring oorbrug." 

"Meer onlangs het my werk begin fokus op die geleenthede en uitdagings wat kunsmatige intelligensie vir gesondheidsnavorsing en gesondheidskommunikasie inhou. Ek stel veral daarin belang om te verseker dat tegnologiese innovasie gegrond bly in etiek, gelykheid en menslike verbondenheid."

"Uiteindelik glo ek die toekoms van sosiale geneeskunde lê daarin om wetenskap, etiek, die geesteswetenskappe, tegnologie en mense se belewenisse met mekaar in gesprek te bring. Deur my navorsing, onderrig en akademiese leierskap wil ek bydra tot meer regverdige gesondheidstelsels, meer inklusiewe navorsingspraktyke en gesonder gemeenskappe," verduidelik Hendricks. 

"Miskien is die belangrikste les die noodsaak van nederigheid. As navorsers moet ons oop bly vir innovasie, maar terselfdertyd eerlik wees oor die beperkings en moontlike nadele daarvan. Vir my gaan dit nie bloot daaroor om nuwe KI-hulpmiddels te ontwikkel nie, maar om te verseker dat innovasie gelykheid bevorder, menslike verbondenheid versterk en bydra tot gesonder en meer inklusiewe samelewings," sê sy.

Wat maak jou die mees opgewonde oor die toekoms van KI in gesondheidsnavorsing?

"Daar is baie wat opwindend is. Wat my die meeste opgewonde maak oor die toekoms van KI in gesondheidsnavorsing, is die potensiaal daarvan om kennis, gesondheidsorg en navorsing vir meer mense toeganklik, meer persoonlik en meer inklusief te maak."

"Gesondheidsnavorsing lewer reeds jare lank waardevolle kennis op, maar daar bestaan steeds 'n groot gaping tussen kennisontwikkeling en die mense wat die meeste daarby kan baat. KI bied die geleentheid om dié gaping te oorbrug deur komplekse inligting te vertaal na formate wat makliker verstaanbaar, kultureel toepaslik en beter afgestem is op individuele behoeftes."

"Dit is veral van belang in uiteenlopende omgewings waar hulpbronne beperk is en toegang tot gesondheidswerkers en betroubare gesondheidsinligting dikwels onvoldoende is. Ek is besonder opgewonde oor KI se potensiaal om gesondheidskommunikasie te versterk, pasiëntbetrokkenheid te bevorder en mense toe te rus om 'n meer aktiewe rol in die bestuur van hul eie gesondheid te speel."

"Ek sien ook enorme geleenthede vir KI om navorsers te ondersteun deur administratiewe werkslaste te verminder, dataontleding te versterk en navorsingsbevindinge vinniger in die praktyk toe te pas."

"Ek glo van die belangrikste innovasies gaan voortvloei uit die wisselwerking tussen KI en maatskaplike geneeskunde. Die toekoms gaan nie bloot daaroor om slimmer tegnologie te ontwikkel nie. Dit gaan daaroor om tegnologie te ontwikkel wat eties, regverdig en begrond is op menslike ervaring." 

"Vir my lê die grootste belofte van KI nie daarin om mense te vervang nie, maar om ons te help om kennis, versorging, en gemeenskappe, op nuwe en betekenisvolle maniere met mekaar te verbind," sê Hendricks.
 

Hoe het jou pad met KI in navorsing begin?

"KI het deel van my navorsing geword deur my belangstelling in gesondheidsgelykheid, kommunikasie en gemeenskapsbetrokkenheid, eerder as deur 'n belangstelling in tegnologie self," sê Hendricks. "Baie van my werk fokus daarop om die gaping tussen gesondheidsinligting en mense se alledaagse werklikhede te oorbrug."

"Of ek nou werk met jong vroue wat met MIV leef, tieners wat 'n pad met seksuele en reproduktiewe gesondheid loop, of gemeenskappe wat deur chroniese siektes geraak word, kom ek telkens dieselfde uitdaging teë: Wetenskaplike kennis bereik mense dikwels nie op maniere wat toeganklik, betekenisvol en afgestem is op hul belewenisse nie."

"Ek het in KI begin belangstel omdat dit nuwe moontlikhede bied om toegang tot kennis te demokratiseer en meer persoonlike en skaalbare vorme van gesondheidskommunikasie te ondersteun. Ek sien KI nie as 'n plaasvervanger vir menslike verhoudings nie, maar as 'n hulpmiddel wat gesondheidsvoorligting, pasiëntbetrokkenheid en gemeenskapsdeelname kan versterk, veral in omgewings waar toegang tot gesondheidswerkers en gespesialiseerde ondersteuning beperk is."

"My werk het onder meer ondersoek ingestel na KI-ondersteunde storievertelbenaderings vir gesondheidskommunikasie, veral vir mense wat met chroniese toestande soos diabetes, MIV en tuberkulose leef. Ek stel belang in hoe generatiewe KI kultureel toepaslike verhale, visuele vertellings en gesprekshulpmiddels kan ondersteun wat gesondheidsinligting meer toeganklik en makliker verstaanbaar maak."

"Terselfdertyd het my agtergrond in maatskaplike geneeskunde, gesondheidsetiek en navorsingsgelykheid my 'n kritiese perspektief op KI laat ontwikkel. Vrae oor mag, vooroordeel, verteenwoordiging, digitale insluiting en datageregtigheid staan sentraal in my werk. Ek glo KI-stelsels moet sáám met gemeenskappe ontwikkel word, en nie bloot vír gemeenskappe nie, sodat die stemme van mense wat die swaarste deur gesondheidsongelykhede geraak word, die ontwikkeling en toepassing daarvan help rig."

"Wat my die meeste opgewonde maak oor KI, is nie die tegnologie self nie, maar die potensiaal daarvan om meer inklusiewe maniere te skep om kennis te deel, uiteenlopende stemme te versterk en gesondheid en welstand te bevorder. Daarom ondersoek my navorsing hoe KI op etiese, mensgerigte maniere aangewend kan word wat aansluit by die behoeftes van uiteenlopende gemeenskappe," sê sy.

"Ek het ook geleer hoe belangrik dit is om menslike toesig te behou. KI kan kommunikasie, ontleding en doeltreffendheid ondersteun, maar dit kan nie menslike oordeel, etiese beredenering, empatie of belewenisse vervang nie. In gesondheidsnavorsing bly vertroue in die kern 'n mens-tot-mens-verhouding."

"Dit was een van die belangrikste lesse uit die StoryRx-projek, waar alle KI-gegenereerde verhale deur mediese beoordelaars nagegaan is voordat dit met pasiënte gedeel is. Hoewel KI gehelp het om persoonlike en boeiende inhoud te skep, was kliniese kundiges onontbeerlik om te verseker dat die inligting korrek, toepaslik, veilig en in ooreenstemming met die jongste mediese riglyne was. Juis hierdie kombinasie van tegnologiese innovasie en menslike kundigheid was noodsaaklik om vertroue te bou en die verantwoordelike gebruik van KI in gesondheidsorg te verseker." 

"Terselfdertyd het KI enorme potensiaal om toegang tot kennis te demokratiseer en toegang tot inligting uit te brei. Indien dit verantwoordelik gebruik word, kan dit help om kommunikasiegapings te oorbrug en navorsing vir meer mense toeganklik te maak. Hierdie geleenthede moet egter altyd opgeweeg word teen die vereistes van privaatheid, aanspreeklikheid, deursigtigheid en digitale insluiting."

Patient meetup
Patient meetup
Patient meetup

Foto's van StoryRx-werksessies, geneem deur Rizqah Dollie   |   Heel regs: Medeprojekleier prof Simone Titus-Dawson aan die woord tydens 'n StoryRx-werksessie

Was daar 'n oomblik waarop jy besef het dat KI 'n betekenisvolle verskil aan jou navorsing maak?

Een projek in die besonder het gewys hoe KI kan bydra tot meer betekenisvolle en toeganklike gesondheidskommunikasie.

"Een van die mees betekenisvolle oomblikke op my KI-pad was die StoryRx-projek, wat ek saam met my kollega, prof Simone Titus, lei. Die projek word befonds deur die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad se Catalyzing Equitable AI Use to Improve Global Health-inisiatief en word ondersteun deur Microsoft Africa Research Institute."

"StoryRx ondersoek hoe generatiewe KI-gebruik kan word om kultureel toepaslike gesondheidsverhale en kommunikasiehulpmiddels te ontwikkel vir mense wat met chroniese toestande soos diabetes, MIV en tuberkulose leef. Die projek het ontstaan uit 'n eenvoudige, maar belangrike waarneming: Gesondheidsinligting is dikwels wetenskaplik korrek, maar sluit nie altyd aan by mense se alledaagse lewens, belewenisse en kulturele werklikhede nie."

"Een besonderse oomblik was om te sien hoe deelnemers reageer op KI-gegenereerde verhale waarin hulle hul eie werklikheid herken. In plaas daarvan om bloot algemene gesondheidsboodskappe te ontvang, het hulle verhale teëgekom wat aanklank gevind het by hul ervarings, uitdagings, gesinne en gemeenskappe. Die gesprekke wat daarop gevolg het, was ryker, meer nadenkend en baie persoonliker as wat ons dikwels met tradisionele gesondheidsvoorligtingsmateriaal sien."

"Wat hierdie ervaring besonder betekenisvol gemaak het, was dat die projek gewys het hoe KI nie bloot gebruik kan word om kommunikasie te outomatiseer nie, maar ook om gesondheidsinligting meer menslik, toeganklik en relevant te maak. Vir iemand wie se werk begrond is op maatskaplike geneeskunde, gesondheidsgelykheid en navorsingsgelykheid, was dit 'n belangrike herinnering dat tegnologie menslike verbondenheid kan versterk, eerder as vervang."

"Terselfdertyd het die projek die belangrikheid van etiese en regverdige KI-ontwikkeling opnuut beklemtoon. Vrae oor verteenwoordiging, taal, kulturele toepaslikheid en insluiting het sentraal tot die navorsing gestaan. Hierdie gesprekke het ons daaraan herinner dat die sukses van KI in gesondheid nie net van tegniese werkverrigting afhang nie, maar ook daarvan wie se stemme in die ontwikkeling daarvan gehoor word en wie se behoeftes dit uiteindelik dien." 

"StoryRx het my gewys dat KI die potensiaal het om gesondheidskommunikasie ingrypend te verander, veral in omgewings waar tradisionele benaderings sukkel om uiteenlopende bevolkingsgroepe te bereik. Nog belangriker is dat dit my oortuiging versterk het dat die toekoms van KI in gesondheid deur die beginsels van gelykheid, etiek en vennootskap met gemeenskappe gerig moet word," sê Hendricks. 
 

Wat het jy daaroor geleer om KI verantwoordelik en doeltreffend te gebruik?

Vir Hendricks begin die verantwoordelike gebruik van KI by die besef dat tegnologie alleen nie maatskaplike uitdagings kan oplos nie.

“Een van die belangrikste lesse wat ek geleer het, is dat verantwoordelike KI in die eerste plek oor mense gaan, nie oor tegnologie nie. Die sukses van KI hang minder af van wat die tegnologie kan doen as van hoe, waarom en vir wie dit gebruik word.”

“KI-stelsels is nooit neutraal nie. Dit weerspieël die data waarop hulle opgelei is, sowel as die aannames wat daarin ingebou is. Daarom moet vrae oor vooroordeel, verteenwoordiging, insluiting en magsverhoudinge van die begin af deel van die gesprek wees.” 

“Deur projekte soos StoryRx het ek geleer dat betekenisvolle gemeenskapsbetrokkenheid onontbeerlik is. Die mense wat uiteindelik by KI gaan baat, behoort ook 'n stem te hê in hoe dit ontwerp, getoets en geëvalueer word. Só help ons verseker dat KI-hulpmiddels relevant, toeganklik en afgestem is op werklike behoeftes.”