Skip to main content
Musiekprogram maak passie ʼn beroep

Musiekprogram maak passie ʼn beroep

Naudé van der Merwe
13 Desember 2016

Studente in die US Konservatorium se Sertifikaatprogram leer meer as net musiekteorie en om instrumente te bespeel – hulle leer om 'n loopbaan van hul passies te maak.

Toe 'n student uit Mdantsane in die Oos-Kaap 'n paar jaar gelede by Felicia Lesch se kantoor instap sonder enige musiekopleiding en slegs 'n onvoltooide ingenieursdiploma agter sy naam, was daar min hoop dat hy sukses sou behaal. Finansieel, akademies en sosiaal was die bult wat hy sou moes klim baie steiler as vir die meeste studente wat toegang tot 'n akademiese program aan die Universiteit Stellenbosch (US) verkry.

Maar die krag van musiek, persoonlike deursettingsvermoë, en die strukture wat deur die US Konservatorium se Sertifikaatprogram in plek gestel is, het hom bemagtig.

Draai die horlosie 'n paar jaar aan. Dis 2014. Dieselfde student het alle verwagtinge oortref en word tydens 'n hersieningspaneelonderhoud van die program gevra of hy nou 'n suksesvolle koorleier wil word. Hy antwoord dat dit eens op 'n tyd sy droom was, maar dat 'n PhD in Musikologie nou in sy visier is.

Dis een van die vele suksesverhale van studente vir wie hierdie Sertifikaatprogram lewensveranderend was. Lesch, wat 'n musiekgraad van die Universiteit van Kaapstad het en tans werk aan 'n PhD in Musikologie aan die US, is sedert 2005 die koördineerder van die Sertifikaatprogram. Hierdie storie is een van dié wat sy in 2014 vertel het tydens haar referaat by die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Musieknavorsing (SASRIM) oor die impak van die Sertifikaatprogram op studente en gemeenskappe.

"Maar die geskiedenis van die Sertifikaatprogram is 'n storie van verandering; as die programkoördineerder het dit ook 'n impak op my gehad," het sy destyds by SASRIM vertel.

Die moontlikheid van 'n Sertifikaatprogram in musiek, 'n tipe oorbruggingskursus bedoel vir studente uit voorheenbenadeelde gebiede waar musiek as vak nie op skool aangebied is nie, is in 1998 deur proff Ria Smit en Hans Roosenschoon, toe onderskeidelik hoof van Musiekopvoedkunde en die Musiekdepartementshoof, ondersoek. Aanvanklik het Stefné van Dyk en Tarnia van Zitters dit ontwerp en bestuur, waarna Albert Engel in 2001 die program oorgeneem het. Ná sy dood in 2003 het die program verskeie gedaanteverwisselings ondergaan en eindelik het Lesch in 2005 die leisels oorgeneem. Die program ressorteer nou onder die Eenheid vir Gemeenskapsmusiek.

"Die kernfunksie van die Sertifikaatprogram is om studente voor te berei op voorgraadse programme soos 'n BMus, BA Mus of 'n Diploma in Praktiese Musiek. Maar ons wil ook hul lewensomstandighede verbeter," sê Lesch.

Sedert 2005 het die program ook in vennootskap met ander instellings getree, waaronder Suid-Afrika se Departement van Verdediging en 'n satellietkampus is op die weermagbasis by Youngsfield in Wynberg begin. Lede van die leër ontvang dus nou musiekopleiding deur die Sertifikaatprogram. Die aard van die program is uniek in Suid-Afrika.

"Dis 'n gespesialiseerde vaardigheid wat ons hier onderrig en daar is geen kollege wat hierdie kwalifikasie of vlak van onderrig aanbied nie. As ek plaaslike musiekkompetisies beoordeel, kan ek sien dat die vlak van spel verhoog het, en dis omdat hierdie orkeste nou vele studente en voormalige studente uit die Sertifikaatprogram het," vertel Lesch.

Die Sertifikaatprogram is deels begin as 'n soort teenvoeter teen die gaping wat deur die onderwysstelsel van die verlede veroorsaak is. Deel van die amptelike visie is om "musiekprogramme vir leerders te verskaf wat min of geen toegang tot formele musiekopleiding het nie". Hoewel die uitslae aan die beginjare van die program nie altyd optimaal was nie – min studente het die oorgang van die Sertifikaatprogram na BMus gemaak en die program is toe aangepas – lyk die prentjie vandag aansienlik anders.

In 2016 was 71 studente deel van die Sertifikaatprogram. Uit die voormalige studente van vroeër jare was daar vanjaar nege wat die Hoërsertifikaat in Musiek voltooi het, elf wat besig is met 'n driejaar-diploma in praktiese musiek, nog elf is besig met hul vierjarige BMus-graad, en een werk tans aan 'n MMus. En dís net die studente wat aan die US verder studeer. Daar is talle ander wat orkeste afrig, by skole werk, plaaslik en internasionaal in orkeste speel en aan ander universiteite verder studeer en klasgee.

Die tromboonspeler Angus Petersen, 'n oudstudent, kan getuig van die sukses van die kursus. "Die Sertifikaatprogram het vir my 'n fondasie gegee wat ek nie voorheen gehad het nie. Dit het my nie net geleer om 'n instrument te bespeel nie, maar ook gehelp om die realiteite van die musiekwêreld te sien," sê Petersen, wat tans 'n vryskuttromboonspeler en tromboondosent is.

Die US se instrumentale ensembles, soos die Simfonieorkes, die US Blaasorkes en die verskeie kore, baat ook by studente uit die Sertifikaatprogram. Die US Jazz Band, wat Lesch dirigeer, is gestig as 'n ensemble vir studente uit die Sertifikaatprogram en gaan van krag tot krag.

Lesch sê sy het 'n boodskap wat sy dikwels met die studente deel: "Wanneer ek jou groet en vra hoe dit gaan, kyk ek na die kennis wat uit jou oë straal; ek kyk na die verandering in jou gesig soos wat jy meer selfvertroue kry. Jy hou jou kop hoër as daardie eerste keer toe jy oor my drumpel gestap het. Ek kyk en sien dat jou oë nie meer dof is nie, dat jy my antwoord met gesag in jou stem. Wanneer jy dit doen, knik ek, ek stap weg en ek dink, 'Ja, jy is op jou pad'. En dit laat my glimlag."

ONDERSKRIF: Felicia Lesch dirigeer die US Jazz Band. Foto: Stefan Els

  • Hierdie artikel verskyn in die jongste uitgawe van die US-tydskrif, Matieland. Lees die tydskrif by www.sun.ac.za/matieland. Jy kan ook op hierdie webblad registreer om die tydskrif gratis te ontvang.