Magister in die Natuurwetenskappe (Voedsel- en Voedingsekerheid)
Die oorhoofse doelwit van die program is om studente se vermoë om op ’n bewysgebaseerde manier te dink, te ontleed en op te tree; hulle vermoë om komplekse probleme te hanteer; hulle vermoë om oor hulle eie denke en werk te besin en om daardie besinning in die ontwikkeling van meer geskikte oplossings te omskep; en hulle vermoë om navorsingsuitdagings, -geleenthede en -oplossings aan kollegas en leke te kommunikeer, te ontwikkel; om bystand met projek-/programbestuur en -implementering te verleen; en om die vermoë aan te leer om binne ’n onsekere konteks tot ’n gevolgtrekking te kom.
Spesifieke toelatingsvereistes
’n Beroepsgerigte baccalaureus- of honneursgraad op NKR-vlak 8 op ’n tersaaklike vakgebied in die landbou-, gesondheids- of natuurwetenskappe. ’n Gemiddelde punt van minstens 60% oor die vier studiejare heen word vereis.
Aansoekprosedure en sluitingsdatum
Doen teen 30 September van die voorafgaande jaar aanlyn by www.su.ac.za aansoek. Aansoeke vir voornemende internasionale studente sluit op 31 Augustus.
Duur van program
Die program strek oor ’n minimum van twee jaar.
Programbeskrywing
Hierdie gestruktureerde program word hoofsaaklik deur middel van tegnologie-bemiddelde onderrig en leer, in kombinasie met kursusse op kampus, aangebied. Die program bestaan uit twaalf teoretiese modules en ’n navorsingsopdrag (33% van die totale krediete). As die akademiese jaar oor 45 weke strek, sal jy na verwagting 20 uur per week aan die afhandeling van die program bestee.
Programinhoud
(66% teoretiese modules; 33% navorsingsopdrag) – alle modules is verpligtend
| Jaar 1 | Jaar 2 |
| Die konseptualisering van voedselstelsels | Die assessering van voedselsekerheid |
| Voedselveiligheid, -gevare en -risiko’s | Ontleding van voedselsekerheidsprojek |
| Menslike ekonomiese ontwikkeling | Voedsel- en voedingsbeleide |
| Skakels tussen landbou en voeding | |
| Voedselverwerking en -bewaring | Navorsingsopdrag |
| Inleiding tot epidemiologie | |
| Makro- en mikrovoedingstowwe en gesondheid | |
| Funksionele voedselsoorte en GGO’s | |
| Voedselkettings en verbruikers |
Let wel: Een tot twee kontaksessies (by die Universiteit Stellenbosch) van een week elk per jaar is verpligtend.