Indringende bespreking ondersoek profetiese etiek in 'n gefragmenteerde wêreld
- ʼn Nuwe boek oor die etiese nalatenskap van die profeet Mohammed het ʼn wydlopende intergeloofsbespreking by die Fakulteit Teologie ontlok.
- Geleerdes het besin oor hoe profetiese tradisies oor godsdienste heen reaksies op hedendaagse uitdagings soos ongelykheid, konflik en kunsmatige intelligensie kan rig.
- Die klem in die bespreking het geval op dialoog, ʼn etiese leefwyse en die behoefte aan dieper menslike interaksies oor verskille heen.
ʼn Onlangse boekbekendstelling aan die Universiteit Stellenbosch (US) het ʼn indringende en wydlopende gesprek oor etiek, geloof en die toekoms van die mensdom in ʼn ál meer komplekse wêreld ontlok.
Die geleentheid, wat deur die Beyers Naudé-sentrum vir Publieke Teologie aan die US se Fakulteit Teologie aangebied is, het op die bekendstelling van Prophet Muhammad at 1 500: His Prophetic Legacy, Ethical Vision and Contemporary Resonance onder redaksie van prof Aslam Fataar, navorsingsprofessor in hoëronderwystransformasie in die Departement Onderwysbeleidstudie aan die US, gefokus. Eerder as ʼn konvensionele bekendstelling, het die byeenkoms in ʼn dialoog ontwikkel waarin besin is oor die moontlike betekenis van “profetiese etiek” in ʼn tyd wat deur internasionale krisisse, verdieping van verdeeldheid en vinnige tegnologiese verandering gevorm word.
Dr Sipho Mahokoto, Direkteur van die Beyers Naudé-sentrum, het die geleentheid beskryf as ʼn uitnodiging om die etiese betekenis van die profeet Mohammed se nalatenskap anderkant historiese herdenking te ondersoek. Bydraers het dié tema verder geneem deur te benadruk dat die boek ten doel het om profetiese etiek opnuut as ʼn lewende hulpbron vir die hedendaagse lewe te aktiveer.
Fataar het die bundel as ʼn “oproep tot ʼn breër gesprek” beskryf wat 22 bydraers van verskillende dissiplines byeenbring om te ondersoek hoe die profetiese tradisie die hedendaagse etiese lewe kan beïnvloed. Hy het aangevoer dat die kern van die boek die idee van ʼn “profetiese grammatika van etiese teenwoordigheid” is – ʼn raamwerk vir denke oor hoe om regverdig en betekenisvol in die hede te leef.
Raamwerk vir etiese leierskap
Eerder as om bloot historiese praktyke na te boots, probeer die bydraers tot die boek om die etiese gees van die Profeet na te volg op maniere wat in voeling met hedendaagse realiteite is. Dit behels wat Fataar as ʼn kritiese betrokkenheid vanuit die profetiese tradisie beskryf het, wat getrouheid aan én die herinterpretasie daarvan moontlik maak.
Dr Elias Parker, een van die koördineerders van die breër Prophetic Legacy-projek wat die boek in vennootskap met AWQAF SA uitgegee het, het dit binne ʼn internasionale konteks geplaas wat deur “diepgaande morele wanbestuur” en sosiale fragmentasie gekenmerk word. In hierdie konteks, het hy aangevoer, bied die profetiese tradisie nie net geestelike leiding nie, maar ook ʼn raamwerk vir etiese leierskap, maatskaplike geregtigheid en menslike voorspoed.
Terwyl Fataar en Parker die konseptuele steierwerk verskaf het, het prof Nuraan Davids van die US se Fakulteit Opvoedkunde ʼn diep menslike en filosofiese dimensie tot die bespreking bygedra. Met verwysing na haar eie hoofstuk het sy eng begrippe van godsdienstige identiteit uitgedaag en die kollig op die universaliteit van etiese verantwoordelikheid laat val.
“Die woord ummah (gemeenskap) is nie net vir Moslems gereserveer nie,” het sy opgemerk en aangevoer dat dit die hele mensdom omvat. In ʼn wêreld wat ál meer deur Islamofobie en polarisasie gekenmerk word, bedreig sulke verdeeldheid uiteindelik almal, het sy gemaan: Waar ekstremistiese sienings gedy, “is ons almal in gevaar”.
Davids het veral klem gelê op onderwys as ʼn ruimte vir etiese wording en wedersydse begrip. Sy het aangevoer dat menslike diversiteit nie toevallig is nie, maar te danke is aan “goddelike ontwerp” met die doel om mense in staat te stel “om mekaar te leer ken”. Hierdie proses van ken is nie net die kern van sosiale samehorigheid nie, maar ook van geestelike begrip self: Deur ander te ontmoet leer individue die Skepper én hulleself dieper ken.
Deelnemers het dwarsdeur die bespreking herhaaldelik teruggekeer na die opvatting dat etiek geleef eerder as bloot geteoretiseer moet word. Die mees diepgaande vorm van godsdienstige praktyk lê in hoe mense mekaar in die alledaagse lewe behandel, het Davids aangevoer.
ʼn Beroep vir dieper dialoog en samewerking
Hierdie klem op geleefde etiek het in die bepeinsing van prof Nico Koopman, Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel van die US, weerklink wat die geleentheid as een van daardie seldsame oomblikke beskryf het wat in die geheue sal bly talm. Hy het op die belangrikheid van die erkenning van godsdienstige diversiteit as “goddelik verpligtend” gewys en het vir dieper dialoog en samewerking oor tradisies heen gevra.
Tóg het die gesprek nie van kompleksiteit weggeskram nie. Prof Simon Bekker, ʼn sosioloog, het vrae geopper oor die plek van godsdiens in ʼn toenemend sekulêre en tegnologies gedrewe wêreld. Met verwysing na die sosioloog Max Weber se opvatting van “ontnugtering” het hy aan die hand gedoen dat moderniteit en die opkoms van kunsmatige intelligensie beduidende uitdagings aan tradisionele etiese raamwerke stel en gevra hoe profetiese etiek die hedendaagse lewe “opnuut kan betower”.
In reaksie hierop het Fataar gemaan dat narratiewe van verlies nie te geredelik aanvaar moet word nie. Hy het aangevoer dat terwyl moderniteit etiese betekenis kan marginaliseer, hou profetiese tradisies aan om te beweeg, aan te pas en opnuut in die geleefde praktyk op te duik. Die etiese lewe bly selfs vergestalt in en hou verband met ʼn wêreld wat deur data en outomatisering gevorm word, en kan nie aan masjiene uitgekontrakteer word nie.
Die bespreking het ook oor meer as die idee van dialoog self gegaan. Etlike deelnemers het aangevoer dat nie net gesprek nodig is nie, maar ook ontmoeting – vorme van interaksie waarin mense mekaar ten volle anderkant stereotipes en vooropgestelde idees ontmoet. Soos Davids dit gestel het, is dit “nie genoeg om net ʼn gesprek te voer nie”. Wat saak maak, is hoe mense mekaar se teenwoordigheid met openheid en deernis binnegaan.
Hierdie verskuiwing van dialoog na geleefde betrokkenheid was miskien die mees klinkende tema van die bespreking. Deelnemers het besin oor Suid-Afrika se eie geskiedenis van intergeloof-solidariteit – veral gedurende die stryd teen apartheid – as ʼn herinnering dat etiese samewerking oor verskille heen moontlik én noodsaaklik is.
Mahokoto het ter afsluiting benadruk dat die gesprek nie met die boek eindig nie. Dit dui eerder op die begin van verdere interaksie – deur middel van werksessies, dialoog en samewerking – wat ten doel het om die hedendaagse etiese uitdagings aan te pak.
In ʼn wêreld wat deur verdeeldheid en onsekerheid gekenmerk word, het die bespreking daarop gedui dat profetiese etiek oor tradisies heen moontlik nie ʼn vaste stel antwoorde bied nie, maar wel ʼn gedeelde taal vir die herverbeelding van hoe om met waardigheid, verantwoordelikheid en sorg saam te leef.