Skip to main content
Stefan Engelbrecht
Geneeskunde en gesondheid

Stefan Engelbrecht keer terug na FGGW as nuwe Senior Direkteur: Besigheidsbestuur

FMHS Marketing & Communications
27 Maart 2026
  • Die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe verwelkom Stefan Engelbrecht terug as die nuwe Senior Direkteur: Besigheidsbestuur.
  • Engelbrecht neem die leisels oor van sy mentor, mnr Eben Mouton, wat na meer as 20 jaar diens by die fakulteit aftree.
  • Digitale transformasie is 'n gebied van besondere belang vir hom, en hy is gretig om tegnologie bekend te stel wat die FGGW se prosesse en bedrywighede kan verbeter en kan help om sy finansiële volhoubaarheid te verseker.

Die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) van die Universiteit Stellenbosch (US) verwelkom Stefan Engelbrecht volgende maand terug in die pos van nuwe Senior Direkteur: Besigheidsbestuur. Dis nog ʼn mylpaal in ʼn lang en vervullende reis wat hy aangepak het toe hy rekeningkunde ná skool ietwat huiwerig aangedurf het.

“Ek het aanvanklik nie regtig geweet wat ek ná skool wou doen nie,” onthou Engelbrecht. “Ek het uiteindelik op rekeningkunde besluit, my klerkskap by ʼn ouditeursfirma voltooi en toe sowat 14 jaar gelede by die US aangesluit.”

Hy was sedertdien in etlike hoedanighede by die Universiteit betrokke. Sy eerste pos was as Bestuurder van die kliniese opleidingstoelaag, maar dit het net ʼn maand of twee geduur voordat hy as Bestuurder: Besigheidsbestuur aangewys is.

Dit was ʼn ondersteunende rol vir die Senior Direkteur van Besigheidsbestuur – die pos wat hy nou sal beklee nadat sy voormalige mentor, Eben Mouton, einde Maart ná meer as 20 jaar diens aftree.

Engelbrecht het goeie herinneringe aan sy tyd saam met Mouton, maar onthou ook die talle uitdagings wat hy aanvanklik ervaar het: “Ek het ʼn baie steil leerkurwe gehad, omdat heelwat prosesse en stelsels destyds nie in plek was nie. Een van my kernfunksies was om dit in plek te stel.

“My rol het met verloop van tyd uitgebrei en ek is ná ongeveer vyf jaar tot Adjunkdirekteur: Besigheidsbestuur bevorder. Ek het vir die volgende ses jaar in daardie rol gebly. Gedurende dié tydperk het my span én die kompleksiteit van die Fakulteit se bedrywighede aanhou groei.”

Ofskoon hy die diverse aard van sy pos geniet het, was hy gretig om sy horisonne te verbreed. Toe ʼn geleentheid by die Stellenbosch Besigheidskool ontstaan, het hy suksesvol vir die pos van Direkteur: Operasies aansoek gedoen.

Engelbrecht merk op: “Uit ʼn loopbaanvorderingsperspektief glo ek dit was die regte besluit. Op ʼn persoonlike vlak het dit aan my ʼn nuwe perspektief op die Universiteit gebied – die stelsels en hoe dit funksioneer; wat werk, wat nie werk nie.”

Toe die pos van Senior Direkteur: Besigheidsbestuur by die FGGW beskikbaar raak, het hy aansoek gedoen. “Gelukkig was ek suksesvol,” sê hy, “en nou is ek terug by die Fakulteit.”

Engelbrecht se praktiese ervaring bied aan hom ʼn stewige agtergrond vir sy nuwe rol: “Ek was aanvanklik nou by die daaglikse operasionele aktiwiteite betrokke. Ek het ʼn sterk en diepgaande begrip van die studente-ervaring en verstaan die daaglikse uitdagings waarmee navorsers en klinici te kampe het. Dit bied aan my ʼn stewige fondament om na ʼn strategiese vlak te beweeg met die fokus op finansiële volhoubaarheid en die skep van ʼn platform vir die Fakulteit se voortgesette groei.”

Engelbrecht se aanstelling kom in ʼn sleuteltyd in die FGGW se geskiedenis: die viering vanjaar van 70 jaar van uitnemendheid in gesondheidswetenskappe-opleiding en -navorsing met die tema “Nalatenskap deur Impak”.

“Daar het soveel goeie dinge die afgelope 70 jaar gebeur,” sê hy. “Ek is opgewonde oor die moontlikhede by die Fakulteit. Daar is soveel geleenthede wat ons in beide die navorsings- en leer- en onderrigruimte kan verken.”

Hy voeg by: “Deur in die mediese veld te werk en ʼn noue verbintenis met gesondheidsorgfasiliteite te hê, kan ons ʼn tasbare bydrae tot die samelewing lewer. Ons het ʼn direkte impak op mense se lewe.”

Engelbrecht beskou dit as ʼn sleutelaspek van sy nuwe pos om personeel van ʼn finansiële en operasionele ruggraat te voorsien om dit vir hulle makliker te maak om hierdie lewensverbeterende rol te verrig. “Dis baie belangrik vir my,” benadruk hy.

“My voorganger het ʼn uitstekende fondament gelê waarop ons kan voortbou. Ek bevind myself in die bevoorregte posisie dat ek nou vir die volgende 20 jaar van my oorblywende termyn op daardie fondament kan voortbou. Wanneer ek aftree, behoort ons in ʼn selfs beter posisie te wees as wat ons nou is.”

Engelbrecht wys op die talle beduidende veranderinge wat hy oor die jare eerstehands by die FGGW aanskou het. “Die eerste ding is die studentegetalle, wat aansienlik toegeneem het.” 

Die getal PhD-studente het verdriedubbel – dis beduidend meer as in 2012. Saam met studentegetalle het die getal personeellede ook aansienlik toegeneem en het navorsing eksponensieel uitgebrei.”

“Die Fakulteit het nie net in getalle gegroei nie, maar ook in fisiese grootte en etlike geboue is bygevoeg. Daar was groot groei oor die afgelope tien jaar.”

Engelbrecht brei uit: “Al hierdie groei beteken meer kompleksiteit. Met meer studente is daar ʼn groter administratiewe las wat bestuur moet word. Met meer personeel is daar personeelkwessies wat bestuur moet word. En met al die infrastruktuur is daar die instandhouding, die finansiering van die instandhouding, die bedrywighede, ensovoorts.”

Hy sal die pas makeer voordat hy enige veranderinge aanbring. “Aanvanklik sal ek die status quo handhaaf en kyk hoe ek stelsels en prosesse kan verbeter,” sê hy.

Hy wys vinnig daarop dat hy veral in digitale transformasie belangstel. Hy is gretig om tegnologie in werking te stel wat die FGGW se prosesse en bedrywighede kan verbeter en boonop kan help om die finansiële volhoubaarheid te verseker.

“Onder die sambreel van digitale transformasie sal KI (kunsmatige intelligensie) een van die gebiede wees wat ons moet bekyk,” sê Engelbrecht. “KI is nie die enigste opsie nie, maar ons moet dit tot ons voordeel gebruik waar ons ook al kan, veral vanuit ʼn operasionele oogpunt.”

Hy sien ooglopend daarna uit om sy nuwe pos te beklee en ʼn paar kollegas te vir die eerste keer ontmoet. “Daar is ʼn paar uitvoerende hoofde wat ek nog nie voorheen ontmoet het nie,” sê hy. “Ek wil graag hoor wat hul menings is en hoe ek hulle kan ondersteun. Dit sal een van my eerste prioriteite wees.”

Hy is bewus daarvan dat hy baie nuwe uitdagings die hoof sal moet bied. “Ek dink finansiering is een van die groot uitdagings wat ons sal moet aanpak,” merk hy op. “Met staatsbefondsing wat onder druk is, moet ons ons inkomste diversifiseer en maniere soek om ons derde- tot vyfdestroombefondsing uit te brei.”

En hoewel Engelbrecht opgewonde is oor die infasering van die nuwe MBChB-kurrikulum – die sesdejaarstudente sal volgende jaar vir die eerste keer weg van Tygerberg wees – wys hy daarop dat dit noukeurige beplanning sal verg: “Nie net vanuit ʼn logistieke perspektief nie, maar ook finansieel. Finansiering sal altyd die oorkoepelende uitdaging wees.”

Hy word nie deur hierdie uitdagings afgeskrik nie: “My funksie, en dié van my hele span, is om die visie van die Fakulteit te ondersteun en te verseker dat die navorsers, klinici en leer- en onderrigpersoneel op hul werk kan fokus en nie in administratiewe en operasionele probleme vasgevang word nie. Dit is waar my kantoor van kardinale belang word om die platform te skep waarop die Fakulteit se kernbesigheid kan funksioneer.”

Ofskoon Engelbrecht se nuwe posisie die meeste van sy aandag en energie in beslag sal neem, is hy steeds van plan om soveel tyd as moontlik saam met sy gesin deur te bring. “Buite werk koester ek die oomblikke saam met my vrou en ons drie seuns – van 4, 9 en 11 jaar oud. Hulle hou ons jonk,” vertel hy. “Ek hou daarvan om tyd saam met hulle deur te bring wanneer ek die kans kry en ons gaan elke aand park toe, al is dit net vir 15 minute.”

Hy maak ook steeds tyd om gesond en fiks te bly. “Ek is ietwat van ʼn amateurdrawwer; my vrou en ek probeer saam hardloop,” vertel hy. “Ons woon in die Paarl en is ook mal daaroor om die berg in te gaan. Ongelukkig is die kinders nie te opgewonde daaroor nie...”

Hoewel dit verdere eise aan sy tyd sal stel, is Engelbrecht gretig om sy nuwe rol te aanvaar: “Ek voel bevoorreg om terug te keer na ʼn pos waar ek ʼn betekenisvolle impak op mense se lewe kan hê – iets wat mettertyd al hoe belangriker vir my geword het.”

Hy keer na ʼn baie ondersteunende omgewing terug. “Ek dink mense is verlig dat ek aangestel is, want daar sal nie so ʼn steil leerkurwe vir my wees nie,” sê hy. “Ek ken die Fakulteit en ek weet wat van my verwag word.

“Uit ʼn personeelperspektief koester ek regtig almal in ons span. Ek sien dit as deel van my rol om ons bymekaar te hou en te verseker dat ons na mekaar omsien,” benadruk Engelbrecht. “Dis belangrik om tot die Fakulteit se finansiële volhoubaarheid en groei by te dra, maar ek is ewe toegewyd daaraan om te verseker dat my span ʼn duidelike sin van doelgerigtheid en behoort voel, asook dat ons saam kan groei en betekenisvolle uitkomste kan bereik.”

Verwante stories