Skip to main content
2025 Google PhD Fellowship recipients
Image by: Image by: Supplied

Ingenieurstudent van die Universiteit Stellenbosch, Simon Malan, is as ontvanger van die gesogte 2025 Globale Google PhD-genootskap aangewys.

Ingenieurswese en tegnologie

US-ingenieurstudent aangewys as 2025 Google PhD-genoot

Anél Lewis
28 Oktober 2025
  • Simon Malan, ’n student in Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese van die Universiteit Stellenbosch (US), is as 2025 Google PhD-genoot aangewys.
  • Sy navorsing ondersoek hoe berekeningsmodelle woorde uit ’n taal kan leer bloot deur na spraak te luister.

US- ingenieurstudent, Simon Malan, is as een van die ontvangers van die gesogte 2025 Globale Google PhD-genootskappe aangewys.

Hierdie genootskappe gee erkenning aan uitstaande nagraadse studente wat uitsonderlike en innoverende navorsing in rekenaarwetenskap en verwante vakgebiede doen, met ’n spesifieke fokus op kandidate wat die toekoms van tegnologie wil beïnvloed. Deur die program ontvang genote direkte finansiële ondersteuning vir hulle PhD-studie en word hulle met ’n toegewyde Google-navorsingsmentor verbind.

Malan, tans in sy tweede jaar van ’n meestersgraad in elektriese en elektroniese ingenieurswese, ondersoek hoe berekeningsmodelle woorde uit ’n taal kan leer bloot deur na spraak in daardie taal te luister.

“Dit is ’n groot voorreg om in die Google PhD-genootskapsprogram aanvaar te word,” sê hy. “Natuurlik spreek die naam ‘Google’ vanself, en hoewel dit effens skrikwekkend is, is dit meestal baie opwindend. Hierdie genootskap stel my in staat om voort te gaan om my navorsingsgebied, waarvoor ek ’n groot liefde ontwikkel het, te verken.”

Hy skryf baie van sy sukses toe aan sy studieleier, prof Herman Kamper, “wie se eie passie, entoesiasme en kundigheid my geïnspireer het om werklik om te gee vir die navorsing wat voorhande is”. Kamper, wat in 2018 en 2019 die Google-fakulteitstoekenning ontvang het, sê Malan se uitsonderlike prestasie gedurende sy meestersgraadstudie – insluitend die aanbieding van ’n referaat by ’n vooraanstaande internasionale konferensie gedurende sy eerste jaar – het hom ’n sterk kandidaat vir die genootskap gemaak.

“Selfs baie goeie PhD-studente sukkel om reeds in hulle eerste jaar ’n internasionale publikasie te lewer. Dit wys dus dat Simon ’n uitsonderlike student met die kapasiteit vir onafhanklike navorsing is,” sê Kamper. Hy voeg by dat die genootskap Malan in staat sal stel om by die Universiteit Stellenbosch te bly vir sy PhD-studie. “Enige internasionale groep sou bly wees om hom te hê, so ons kan onsself gelukkig ag om hom hier te hê om voort te gaan om plaaslike én internasionale bydraes te lewer.”

Volgens Google word aansoeke vir die genootskap beoordeel op grond van die navorsingsvoorstel, navorsingsimpak, akademiese prestasies en leierskappotensiaal.

Nog ’n US-student, Haingo Andry van die Sentrum vir Epidemiese Reaksie en Innovasie (SERI), is ook vir sy navorsing in datawetenskap en openbare gesondheid erken.

Verwante stories