Skip to main content
Fire Engineering

Brandingenieurswese-studente pas hul kennis toe tydens die Tegnieke in Brandingenieurswese-praktiese week,

Ingenieurswese en tegnologie

Stelsels, Sprinkelstelsels, Simulasies: Brandingenieurswese in die praktyk

Diana Cochrane-Van Eeden
13 November 2025
  • Die Tegnieke in Brandingenieurswese-module omskep klaskamerkonsepte in praktiese vaardighede vir veiliger gebouontwerp.
  • Die praktiese week beklemtoon die US se verbintenis tot die opleiding van ingenieurs

Brandingenieurswese-studente het onlangs op kampus bymekaargekom vir ʼn eenweek-praktikum as deel van die Tegnieke in Brandingenieurswese (Techniques in Fire Engineering (TFE))-module. Die program, wat in September aangebied is, het teorie tydens lesings omskep in ʼn hoë-intensiteit, praktiese ervaring.

Die studente, wat in twee groepe verdeel is, het deur stasies vir brandgedrag, opsporing, rookbestuur en onderdrukking geroteer, en hul metings daarna in werkstukke omskep – insluitend hul eie modellering van die ontruiming van die Ingenieursgebou. Benewens die gebruik van brandblussers en brandslange, het hulle demonstrasies van sprinkel- en skuimstelsels bygewoon en kegelkalorimeter-toetse uitgevoer om ontvlambaarheid en hittevrystellingsyfers te bepaal.

Daar was ook iets vir die nuuskieriges: die “brand van ʼn Snickers-sjokolade”-eksperiment het vinnig ʼn gunsteling geword. ʼn Alledaagse voorwerp het ʼn datastel geword wat gesprekke oor materiaal-samestelling, oppervlaktoestand en ontvlammingsberekeninge verskerp het. Studente moes bepaal of sulke voedselitems moontlik as eerste brandstofbron in ʼn forensiese ondersoek van ʼn brand by ʼn voedselverwerkingsaanleg kon dien.

Teen die einde van dié week kon studente self kleinskaalse brandtoetse beplan, prestasie van die stelsel interpreteer en modelleringbenaderings kies wat ʼn evaluasie van die ontwerp sou deurstaan.

Wat studente sê

Aslam H sê dat die praktiese week oor die algeheel ʼn ongelooflike leerervaring was. Dit was volgens hom ook baie pret, en om brandbeginsels in realistiese situasies te sien, het die konsepte vir hom baie makliker gemaak om te verstaan. Hy het bygevoeg dat die praktiese sessies die teorie van brandingenieurswese lewendig gemaak het – dit was prakties, boeiend en vir hom ʼn herinnering aan hoe belangrik navorsing, toetsing en goeie ontwerp is om geboue veiliger te maak.

Stephen M sê dat TFE-week vir hom ʼn fantastiese geleentheid was om sy kennis uit te brei en met beide die tegniese en praktiese aspekte van brandingenieurswese besig te wees. Hy verduidelik dat dit wonderlik was om direk met sprinkelstelsels, brandalarm- en brandopsporing-stelsels te werk. Hy het dit ook geniet om praktiese brandtoetse uit te voer, en ook om die kegelkalorimeter te gebruik. Volgens hom was die lewendige demonstrasie van brandgedrag besonder waardevol, omdat dit duidelik getoon het hoe ventilasie en brandstoforiëntering die brandgroei binne ʼn gebou aansienlik kan beïnvloed.

Van teorie tot impak

Die TFE-praktiese week beklemtoon die US se verbintenis tot die opleiding van ingenieurs wat veiliger geboue en ander omgewings kan ontwerp, modelleer en verdedig. Deur teoretiese kennis in meetbare resultate om te sit, ontwikkel studente die vertroue om brandveiligheid as beide ʼn wetenskap en ʼn verantwoordelikheid te benader.

Die module, wat tweejaarliks aangebied word, wakker nuuskierigheid en bekwaamheid in gelyke mate aan – en die Fakulteit sien reeds daarna uit om die volgende TFE-groep in 2027 te verwelkom.

Verwante stories