Skip to main content
OpenDay2026
Image by: Ignus Dreyer

Scenes from our Open Day across all five engineering departments.

Ingenieurswese en tegnologie

Ingenieurswese Opedag in ’n heringerigte spasie

Article by Amber Viviers
28 April 2026
  • Goeie bywoning en betrokkenheid ondanks reënweer
  • Verbeterde vloei en ervaring met opgegradeerde fasiliteite

Grys wolke en ’n donderstorm het min impak gehad om voornemende studente en hulle gesinne te ontmoedig om die 2026-weergawe van die Fakulteit Ingenieurswese se Opedag op 18 April 2026 by te woon. Inteendeel, tydens Opedag was daar ‘n konstante stroom besoekers en daar was ‘n lewendige atmosfeer met nuuskierige besoekers wat aktief deelgeneem het.

Hierdie jaar se Opedag het teruggekeer na die Algemene Ingenieursgebou wat weer ten volle operasioneel is na onlangse opgraderings, met die addisionele ruimte wat ʼn merkbare verskil gemaak het met die vloei tussen lokale. Die aktiwiteite wat weer voor die Ingenieurskompleks kon plaasvind, het die geleentheid van sy ou bekendheid herwin, maar terselfdertyd ʼn gladder ervaring gebied aan besoekers.

Die Bedoeïen-tent was teen laatoggend reeds ʼn miernes van bedrywighede waar huidige voorgraadse studente die besoekers verwelkom het en waar die begeleide toere deur die Fakulteit begin het. Die studente het ook vrae beantwoord en hul eie ervarings van die Fakulteit, hul studies en die Universiteit gedeel. Vir baie voornemende studente was dít hul eerste blik op hoe hulle studie-reis kan lyk.

Toere het elke 10-15 minute begin en ʼn bestendige ritme regoor die Fakulteit geskep. Hierdie groepe het deur die departemente beweeg en by die verskillende interaktiewe demonstrasies tyd spandeer om met die akademiese personeel te gesels en vrae te vra.

Die inligtingsessie, aangebied deur die Dekaan en Visedekane, het konstante volgepakte lesingsale gelok. Dié sessies het gehandel oor die verskillende programme en toelatingsvereistes, maar het dikwels verskuif na die wyer prentjie, wat veral ook die rol van KI (AI) in die ingenieurslandskap ingesluit het.

Prof Wikus van Niekerk, Dekaan van die Fakulteit sê dat die Fakulteit se Opedag oor meer gaan as om net ons programme en fasiliteite uit te lig, maar dat die dag die geleentheid bied om met voornemende studente kontak te maak en hulle te wys wat ingenieurswese by die Universiteit van Stellenbosch hulle kan bied.

Die interaktiewe demonstrasies in die departemente is elke jaar die trekpleister, en vanjaar het nie teleurgestel nie! Elke departement het ʼn kykie gegee op sy unieke fokusarea: Bedryfsingenieurswese se toepassings van virtuele realiteit en slimmer produksiestelsels in fabrieke, tot by Meganiese en Megatroniese Ingenieurswese se doeltreffende energiestelsels en outomatiese ontwerp. Siviele Ingenieurswese se temas het stedelike mobiliteit en waterdinamika ingesluit. Hoogtepunte by Chemiese Ingenieurswese was stedelike ontginning vir ʼn sirkulêre ekonomie en die virtuele aanlegtoer. Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese het deurlopend aandag getrek met hulle gespesialiseerde laboratoria en stelsels.

Die uitgebreide area van die Chalkboard-kafeteria het deurgaans ʼn welkome rustige oomblik gebied in ʼn andersins besige dag en besoekers die geleentheid gebied om bymekaar te kom, gedagtes te deel en ook droog te bly in die veranderende weer. Die Opedag het weereens ʼn goeie balans gehandhaaf tussen deeglike akademiese insig en betekenisvolle verbintenisse, om so die gaping tussen huidige en voornemende studente te oorbrug terwyl nuuskierigheid omgeskakel is na duidelikheid. Dit is juis hierdie persoonlike aanslag wat Ingenieurswese se jaarlikse Opedag steeds ʼn hoogtepunt op die Fakulteit se kalender maak.

Opedag misgeloop? Moenie die sluitingsdatum vir aansoeke vir 2027 mis nie: 31 Julie 2026.

Verwante stories