Skip to main content
Chris Erasmus

Christopher Erasmus ontvang sy toekenning by die Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO) se Wêreldvoedselforum (WFF).

Ingenieurswese en tegnologie

Ingenieursgegradueerde wen wêreldwye Bosbou-Innovasieprys

Amber Viviers
30 Oktober 2025
  • Universiteit Stellenbosch-alumnus Christopher Erasmus, is internasionaal erken as die wenner van die 2025 Bosbou-Innovasieprys by die Voedsel- en Landbou-organisasie se Wêreldvoedselforum..
  • Vir sy meestersnavorsing het Christopher ’n laekoste, draadlose dendrometer- en omgewingsmoniteringstelselvir volhoubare presisiebosbou ontwikkel.

Ingenieursgegradueerde wen wêreldwye Bosbou-Innovasieprys

Universiteit Stellenbosch-alumnus Christopher Erasmus, wat in Maart 2025 meestersgraad in Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese verwerf het, is internasionaal erken as die wenner van die 2025 Bosbou-Innovasieprys by die Voedsel- en Landbou-organisasie (Food and Agriculture Organization (FAO)) se Wêreldvoedselforum (World Food Forum (WFF)). Hierdie wêreldwye platform vier jong navorsers wat volhoubare en skaalbare innovasies bevorder.

Vroeër vanjaar is Christopher aangewys as een van Suid-Afrika se nasionale wenners in die 2025 Blue Sky Young Researchers and Innovation Awards, aangebied deur die Paper Manufacturers Association of South Africa (PAMSA). Sy sukses in daardie kompetisie het hom die geleentheid gebied om Suid-Afrika op die wêreldverhoog te verteenwoordig, waar sy werk top eerbewyse in bosbou-innovasie by die FAO WFF in Rome verower het.

Christopher se projek, wat deel uitgemaak het van sy meestersgraad in die Engineering 4 Environment (E4E)-groep by US, stel ʼn laekoste, draadlose dendrometer- (ʼn instrument wat boomgroei meet) en omgewingsmoniteringstelsel bekend wat daarop gemik is om presisie-bosbou meer toeganklik en volhoubaar te maak.

Christopher sê om aan so ʼn belangrike gebeurtenis deel te neem, beteken dat sy werk werklik ʼn verskil kan maak. Dit maak hom gelukkig en gee hom gemoedsrus oor sy toekoms. Om hierdie prys te wen, is ook sy manier om iets terug te gee vir al die ondersteuning wat hy van prof. Thinus Booysen, prof. Dave Drew en die IMPACT-spanne tydens sy meestersgraad ontvang het.

Slim bosbou, eenvoudig gemaak

Presisie-bosbou maak staat op gespesialiseerde toerusting om boomgroei te meet en te bestuur, maar bestaande stelsels is dikwels duur, ontoeganklik en moeilik om te skaleer. Christopher en sy medewerkers by die IMPACT Open Access Laboratory (OAL) het besluit om dit te verander.

Hul stelsel gebruik draadlose kommunikasie en sonkrag, wat dit beide skaleerbaar en outonoom maak, terwyl koste dramaties verminder word in vergelyking met tradisionele stelsels.

Hulle wou iets bou wat navorsers dieselfde vlak van insig bied teen ʼn fraksie van die koste verduidelik Christopher. Hulle ontwerp verseker dat data op afstand en volhoubaar verkry kan word – selfs in die veld.

Die ontwikkeling van die stelsel het egter sy eie uitdagings ingehou. Om iets nuuts te vind, of ware leemtes in die huidige stand van sake, was een van die moeilikste dele, aldus Christopher. Innovasie gebeur deesdae so vinnig dat dit moeilik kan wees om te weet wat reeds bestaan, en kommersiële stelsels is nie altyd deursigtig oor hul tegniese besonderhede nie.

Om dit te oorkom, het hy staatgemaak op, wat hy noem, meedoënlose navorsing. Hy verduidelik dit was navorsing, navorsing, navorsing – en nog navorsing. En ook deur die basiese ingenieursbeginsels toe te pas, kommersiële toerusting aan te skaf vir vergelykende toetse, en uitgebreide toetsing te doen.

ʼn Passie vir volhoubaarheid

Christopher se nuuskierigheid en liefde vir die natuur het die idee laat ontstaan. Sy werk dra by tot volhoubare bosbou deur beter begrip te bevorder van Eucalyptus-spesies onder intensiewe monitering – wat help om die behoefte aan houtprodukte met die beskerming van natuurlike woude te balanseer.

Hy sê by IMPACT OAL demonstreer hulle volhoubare bosbou om Eucalyptus-groei beter te verstaan. Dit is noodsaaklik as die wêreld houtprodukte wil hê sonder om natuurlike woude te vernietig.

Van Stellenbosch tot Lissabon

Christopher woon tans in Lissabon, Portugal, waar hy as elektroniese ingenieur werk by PDM Spain en Beyond Vision, ʼn hommeltuig-tegnologie-maatskappy. Sy huidige projek fokus op die ontwikkeling van ʼn outonome laaistasie vir hommeltuie vir onbemande sendings.

Tydens sy besoek aan Stellenbosch in Oktober 2025 sal Christopher aan ʼn REMARKABLE Project-werkswinkel deelneem en weer kontak maak met sy kollegas in die E4E- en IMPACT-spanne.

ʼn Weerspieëling van uitnemendheid

Prof Thinus Booysen van US se Fakulteit Ingenieurswese en ook Christopher se studieleier sê dat hierdie erkenning ʼn bewys is van die kwaliteit en impak van navorsing wat uit die Universiteit van Stellenbosch voortspruit.

Prof Booysen sê Christopher se merkwaardige prestasie beklemtoon die uitsonderlike gehalte van ons studente en die innoverende navorsing wat by die US gedoen word – veral op die gebiede van bosbou, omgewingswetenskap en volhoubare tegnologie.

Dit toon die universiteit se groeiende wêreldwye impak en bewys dat Suid-Afrikaanse studente aan die voorpunt staan van oplossings vir sommige van die wêreld se dringendste uitdagings. Christopher se sukses open ook nuwe moontlikhede vir samewerking, befondsing en toegepaste navorsing. Dit dien as ʼn kragtige inspirasie vir medestudente en wys dat visie-gedrewe idees, ondersteun deur toewyding en wetenskaplike uitnemendheid, werklik ʼn tasbare wêreldwye verskil kan maak.

Merkers

Prestasies

Verwante stories